‘Vrou moet nooit weer met kinders werk nie’

‘n Skermgreep uit die video.

Die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling het gesê ʼn vrou wat verfilm is terwyl sy kinders na bewering mishandel en aangerand het, moet nooit weer met kinders werk nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn herrie woed op sosiale media nadat verskeie video’s aan die lig gekom het waarin ʼn werknemer van ʼn kleuterskool in Carletonville aan die Wes-Rand ʼn kind by dié skool aanrand. ʼn Video wat teen Donderdagmiddag op talle sosialemediaplatforms gedeel is, wys hoe dié vrou ’n dogtertjie herhaaldelik oor haar kop en op die boude slaan. Die dogtertjie het vermoedelik op ʼn plastiekstoeltjie en -tafeltjie opgegooi waarna die vrou haar dwing om dit skoon te maak en haar dan herhaaldelik bydam.

Zoleka Capa, voorsitter van die komitee, het in ʼn verklaring gesê indien die vrou skuldig bevind word, moet haar besonderhede op die Nasionale Kinderbeskermingsregister geplaas word sodat sy nooit weer met kinders kan werk nie.

Die Nasionale Kinderbeskermingsregister is ʼn verslag met alle klagtes van die mishandeling of doelbewuste verwaarlosing van kinders. Die inligting van alle persone wat skuldig bevind word op alle aanklagte wat met die mishandeling of doelbewuste verwaarlosing van kinders verband hou en alle bevindings van ʼn kinderhof dat ʼn kind versorging en beskerming benodig weens mishandeling of verwaarlosing, word ook in die register gepubliseer.

“Die komitee bedank wetstoepassers dat die oortreders so vinnig aangekeer is ná die saak onder hul aandag gebring is,” het Capa bygevoeg. “Die komitee doen ʼn beroep op die regering om met die wetstoepassingsagentskappe saam te werk om alle fasiliteite te monitor waar kinders versorg word, om seker te maak dat mishandeling nie by dié fasiliteite plaasvind nie en dat kinderbeskerming geprioritiseer word.”

Die komitee het ook lede van die publiek geloof wat die mishandeling aan die lig gebring het en die saak vinnig by owerhede aangemeld het.

Maroela Media het die video uit verskeie oorde ontvang waarop lesers ontstoke gereageer het. Luidens mediaberigte is daar nóg twee video’s wat die ronde doen van die vrou waarin sy kinders hardhandig hanteer.

Nandi Mayathula-Khoza, die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het Vrydag gesê die besluit is geneem om die Ninnie’s Neurons-kleuterskool te sluit nadat die skoolhoof tydens haar besoek bevestig het dat dié skool sedert 2016 nie by die departement geregistreer is nie. Volgens die LUR was die kleuterskool aanvanklik by die departement geregistreer, maar dié registrasie is egter nie hernu nadat dit aan die einde van 2015 verval het nie.

“Hulle het nooit weer registreer nie. Dit beteken dat die kleuterskool boonop onwettig is. Om jou registrasie te laat hernu moet jy aan sekere voorwaardes voldoen wat strook met die kinderwet. Dié skool kon dit nie doen nie,” verduidelik Mayathula-Khoza.

“Die skoolhoof het ook nog nie bevestig of die onderwyseres in die video wel gekwalifiseer is vir haar pos as versorger en juffrou nie. Ons weet nie eers of sy gekwalifiseer is om met kinders te werk nie,” het Mayathula-Khoza bygevoeg.

Die vrou (40) is sedertdien in hegtenis geneem. Sy het op 28 Maart vlugtig in ʼn hof in Carletonville verskyn op aanklagte van die aanranding van ʼn minderjarige waarna sy op borgtog vrygelaat is. Sy sal weer op 7 Mei in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Paul ·

Kom ek vra net so, met begrip vir die berig, wat laat mens kwalifiseer om met kinders te werk? Die oomblik dat jy ma of pa geraak het? En raak mens later van daardie deernis en sagte gevoel vir die klientjie ontslae?

Hennie ·

Ja swaer…dis ‘n erge straf! Shame, siestog ahhhw… Waar gaan die elendeling dan nou weer ‘n ou werkie kry! Daar is net en pad vir die verskoning van ‘n mens:TRONK TOE VIR DIE RES VAN JOU MISLIKE LEWE!

Ag regtig ·

Kinderbeskermingsregister?? Wow, hoe wonderlike klomp bog. Naby ons hou ‘n onderwyser skool wat 5 jaar in die tronk was vir molestering van seuns. Hy is nooit deur SACE geskors nie en hy hou al lankal weer skool. Volgens almal is hy nou gerahabiliteer. Maar ‘n mens laat tog nie ‘n gerehabiliteerde alkoholis in ‘n kroeg werk nie? SACE (South African Council for Educators) het destyds vir die speurder gesê dat hulle nie sommer iemand skors nie, hulle moet eers hulle eie ondersoek doen. Eie ondersoek, nadat die regter na ‘n twee jaar lange hofsaak besluir het hy is skuldig. In die 5 jaar wat die onnie in die tronk was, is daar geen ondersoek gedoen nie dus hou hy weer skool. En SACE wou sommer ‘n juffrou skors omdat graad R’s wat nie kon verstaan nie, eenkant gesit het. Wat ‘n blerrie grap? SACE is net so korrup soos ons regering en so oneffektief soos Eskom en SAL.

Gideon ·

Wat van die keuterskool en die “hoof” se aanspreeklikheid? Die deler is so stafbaar as die steler.

Anni ·

En di een wat video gemaak het, Wat gebeur met di persoon? Hoe in di lewe kan Jy staan en toe Kyk hoe di kind aangerand word. Ek kon di video glad ni klaar Kyk so erg was dit gewees. Hoekom het di persoon ni di aanranding gestop ni. Hoe de hel kan Jy toe Kyk???????????

Rozanna ·

Ek PRYS die HERE vir die persoon wat die video geneem het. Wat sou jy gedoen het Anni as dit al vir lank so aangegaan het en as jou kind in daai cresh was?

Val ·

Rozanna jy se prys die Here vir die persoon wat die video gemaak het… Ek stem glad nie saam met jou nie…Na die eerste hou geval het moes sy/hy die selfoon neer gesit het en daai vreksel gekeer het.. want toe die eerste hou geslaan is het sy/hy mos die bewyse gehad en kon die verdere aanranding gekeer het. Anni ek stem 100% saam met jou hoe kon daai persoon so lank gestaan en toe kyk het terwyl daai arme kind die houe moes vat.

Peanut ·

Miskien moet sy ‘n “pat on the back” kry want sy het die bewyse gekry wat nodig was om die gemors weg te kry by kinders. Sy kon net stil gebly het en weggeloop het… sy het guts gehad om dit af te neem want miskien sou die excuse van a mens haar ook aanrand!?

Cherokee ·

Rozanna en Peanut, terwyl ek met julle saamstem, was haar motiewe dalk nie baie suiwer toe sy die video geneem het nie want ‘n vorige berig sê die insident is 18 maande oud.

Namgrl ·

Cherokee, ek is geneig om met jou saam te stem. Om te bespiegel bring mens altyd in die sop – maar daar was ‘stories’ van ‘n afpersing – dalk rede hoekom die video nou eers die lug sien? So – die persoon wat afgeneem het moet ook ingekatrol word. En ja, die hoof het ook ‘n aandeel hierin. Direk of Indirek – sy/hy het die persoon aangestel sonder om seker te maak wat die ‘onderwyser’ in staat is om te kan doen. so bly die skool is toe – alhowel daar kleintjies nou met die letstel sal loop.

Saint ·

Ek is baie skepties oor hoe die beginsel van “onskuldig tot die hof skuldig verklaar” toegepas word.
Dit wil my voorkom asof dit hier baie selektief toegepas word.

Dorette van Schalkwyk ·

Nee sy moet nie…want sy moet uit die samelewing verwyder word en opgesluit word vir die res van haar lewe!

Cherokee ·

Die vrou wat die kind gelooi het is in almal se gedagtes. Iemand in Carletonville kan gerus navraag doen oor die dogtertjie en dat alles wel is met haar.

? leser ·

indien die vrou kinders het of gaan kry, moet hulle summier deur gegee word vir aanneming, sy moet weet hulle is daar maar mag hulle nie sien nie

$ ·

Waarom word die vrou se naam verswyg? Die juffrou van Schweizer-Reneke se naam is baie gou oral uitbasuin, haar foto oral geplaas – hierdie is dan ‘n soveel ernstiger oortreding, waarom word haar identiteit beskerm?

BB ·

Die enigeste rede vir registrasie van n Kleuterskool is….omdat die departement geld daaruit wil maak….want wie gaan soveel kleuterskole besoek, en hulle vergewis of alles pluis is..
Om hulle nou te wil sluit, gaan ook ramspoedig wees..!!
Dis die persoon aan die Stuur van n Kleuterskool wat moet toesien dat so n skool reg funksioneer, en seker maak dat die personeel wat hulle aanstel, geskik is daarvoor…*

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.