Vrou na hospitaal gehaas ná kulkunstoertjie skeefloop

The Illusionists (Foto: Facebook)

ʼn Kunstenaar in die The Illusionists-kulkunsgroep is Woensdagaand tydens ʼn vertoning by Montecasino in Johannesburg na die hospitaal gehaas nadat ʼn pyl haar glo tydens ʼn toertjie in die kop getref het.

Hazel Feldman, eienaar van Showtime Management wat die groep se vertonings bemark, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Feldman het die voorval ten aanskoue van die gehoor gebeur. “Die vroulike kunstenaar wat deur die pyl getref is, tree op as ʼn assistent vir die man wat die boogtoertjie op die verhoog uitvoer. Almal was geskok oor die voorval,” sê sy.

Volgens haar is die vrou nie in ʼn kritieke toestand nie. Feldman sê sy het wel steke in haar kop gekry, maar reeds aangedui dat sy gereed is om weer met die vertonings voort te gaan.

Sy sê die kunstenaar sal egter nou eers op ʼn kort rustydperk wees voordat sy weer by die groep gaan aansluit. “Almal het ʼn groot sug van verligting geslaak. Ons is baie dankbaar dat sy nie seerder gekry het as wat sy het nie.”

Volgens Feldman is dit die eerste keer in tien jaar dat só ʼn voorval tydens ʼn vertoning plaasvind. “Die boog was foutief, wat veroorsaak het dat die pyl die vrou getref het. Daar is verskriklike gevaarlike elemente in só ʼn vertoning en die kunstenaars is hoogs opgelei om die toertjies te kan uitvoer. Wanneer so iets wel gebeur, is dit ʼn groot skok, maar nie weens nalatigheid nie,” sê sy.

Feldman het bevestig dat die voorval deur die bestuur ondersoek word. The Illusionists toer nog tot op 11 Maart in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Driaan ·

As jy jou as ‘n toffie uitgee moet jy nie huil as jy gekou word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.