Vrou ná ʼn week in nuwe huis vermoor

Hannatjie Coetzee (Foto: Facebook)

ʼn Vrou is Sondag helder oordag in haar nuwe huis in Bloemfontein doodgeslaan nadat sy ʼn week vantevore daar ingetrek het.

Hannatjie Coetzee (69) is Sondag met ʼn voorwerp van agter geslaan waarna sy dood in die slaapkamer van haar huis in Sewendestraat, Arboretum, aangetref is.

Ivan Coetzee, Hannatjie se jongste seun, het Dinsdag aan Maroela Media vertel dat sy ma einde verlede jaar vanaf Ballito na Bloemfontein verhuis het kort nadat sy haar tweede man, Gerhard Kruger, aan die dood afgestaan het.

Coetzee is oorspronklik van Bloemfontein en aangesien sy reeds afgetree het en baie familie en vriende in die Rosestad het, het sy besluit om te verhuis. Nadat sy vir die eerste ruk by familie vertoef het, het sy eindelik verlede week amptelik in ʼn plek van haar eie ingetrek.

Volgens Coetzee het sy ma die aand voor haar dood nog vriende onthaal waarna ʼn vriendin oorgeslaap het. Die vriendin het glo Sondagoggend om 09:00 huiswaarts gekeer.

Daar word vermoed dat sy Sondag tussen 09:00 en 11:00 oorval en doodgeslaan is. Die verdagtes het glo toegang tot die huis deur ʼn skuifdeur verkry.

Coetzee vertel dat dit op dié stadium nog onbekend is waarmee Coetzee geslaan is. “Ons moet nog die legkaart aanmekaar sit.”

Konst. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, kon die voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Nkabi is drie verdagtes Sondag in verband met die moord in hegtenis geneem nadat drie verdagte mans in Coetzee se motor in die stad gewaar is. Die mans is deur die polisie agtervolg en eindelik in ʼn padblokkade vasgetrek.

ʼn Ondersoek na die eienaar van die motor het polisie na Coetzee se huis gelei waar sy dood aangetref is.

Die verdagtes het Dinsdag in die hof verskyn op aanklagte van moord.

“Dit gaan maar op en af. Dit is nog baie emosioneel en onwaar. Dis moeilik om nie bitter te wees nie. Ons wil net hê geregtigheid moet geskied,” het Coetzee gesê.

“Sy was baie onafhanklik. Sy was jare lank die broodwinner in die huis. Ons is grootgemaak in ʼn huis met baie liefde.”

Hannatjie Coetzee word oorleef deur drie kinders en sewe kleinkinders.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Peanut ·

My innige meegevoel. Mens het nie woorde nie, net trane en vrae.
Ek ken julle nie maar bid julle sterkte en berusting toe. Bring julle trane na Yeshua se voete en klou aan Sy belofte van geregtigheid vir almal.

Anneke ·

Heel moontlik mans wat gehelp het met die trek na die nuwe huis?

Johan ·

Nog n doellose moord op n persoon wat geen weerstand teen die aanval kon bied nie.

Is SA so ver heen dat ons die misdaad nie meer kan keer nie?????

Sterkte aan al die familie en vriende.

Oud Bloemfonteiner ·

Liewe genade tog…….dis al wat ek kan sê……..

Cherokee ·

Weer ‘n hartseer storie. Sy het terug gegaan na haar mense.
Die polisie se soeke na die eienaar van die motor lewer ‘n paar komplimente vir hulle op. Hulle het nie van die moord geweet nie maar het dit uitgeruik dat daardie motor voorgekeer moet word. Daarbenewens is dit ‘n vraag of sy so vinnig by die metro-polisie van adres verander het, maar steeds het hulle haar opgespoor in die huis waar sy net ‘n week gewoon het.
Die vraag bly op almal se lippe of dit terrorisme of bloot moorddadige misdaad is. Coetzee’s, ons is jammer oor jul verlies.

Leon Pit ·

Het ook 3 weke terug n Baie Goeie Vriend
verloor ook in die gesig geslaan en vir dood agter gelaat.
Sterke aan die kinders.

Pieter ·

Baie hartseer… innige meegevoel aan die naasbestaandes… Maroela, volgens die berig word verwys na Sondagaand 09:00, ipv 21:00, indien dit wel die aand was. Die verwysing na “tussen 09:00 en 11:00” maak ook nie sin nie en is skynbaar ook foutief.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Pieter

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit moet inderdaard “Sondagoggend om 09:00” wees en nie “Sondagaand om 09:00” nie. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Didi ·

So jammer om dit te lees. Baie sterkte aan die familie. So onnodig.

Michelle ·

My innige meegevoelaan die familie, jammer dat ek dit op die blad van die pragtige dame moet se wat haar lewe verloor het maar daar is nie meer wet en orde in die land nie moordenaar en kriminele loop rond jy is nie veilig in jou eie land nie. Hoeveel gaan nog vermoor word waarvoor word die polisie betaal.

George Pelser ·

Nog ‘n sinnelose wrede moord op ‘n weerlose slagoffer. RIV en innige simpatie aan die naasbestaandes. En so sal dit aangaan in hierdie wettelose land onder beheer van ‘n spul onbevoegde,nuttelose korrupte narre wat absoluut niks voel vir ons mense nie. Mens kan nie anders as om diep woede te erveer nie en baie van ons begin al hoe meer haat. Van geregtugheid in hierdie eens mooi land van ons is daar ook nie meer sprake nie. Kom ons hoop in die geval kry die skuim wat hulle toekom.

Moeg ·

Dis wreed en so so hartseer, maar ek voel jy is op n beter plek. Hierdie wereld is SIEK. Ek wens die Here wil my kom haal want ek is so moeg om te hoor van dood en moord. Mens le saans en wonder is ek dalk volgende. Sterkte aan die familie.

Hannelie ·

Een woord GEMORS !! Maar hulle sal dit oor en oor en oor doen, want hulle weet hulle is “untouchable”. Baie sterkte aan haar familie. Mag die moordenaars rot in hel.

Thinus Erasmus ·

Die misdaad verteenwoordig glad nie die demografie nie, daar moet regstellende aksie kom.

Sleutels ·

Wanneer by ‘n nuwe huis ingetrek word, vervang al die slotte van die blyplek se buitedeure.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.