Vrou ná verloofde se skietdood: ‘Ek wil nie hê dít moet my storie wees’

Donett Havenga. Foto: Maria Marguerite Photography

Dit is Donett Havenga (28) se mooi glimlag wat jou eerste opval. ʼn Opregte nie-net-ter-wille-van-goeie-maniere-nie-glimlag wat tot by haar oë strek en ʼn egte weerkaatsing van ʼn gelukkige siel is. ʼn Glimlag wat selfs nie eens gedemp is deur ʼn lewensveranderende hartseer nie.

In Januarie verlede jaar het Maroela Media berig oor Twan Relou (28), ʼn sakeman van Kroondal in Noordwes, wat deur ʼn advertensie vir ʼn tweedehandse voertuig in ʼn lokval gelei en koelbloedig doodgeskiet is. Net minder as twee weke vantevore het Twan vir Donett die ja-woord gevra en die jong verliefdes het dadelik met die reëlings vir hul droomtroue begin, die perfekte fotograaf bespreek en ʼn datum vasgemaak.

En toe kry Donett die oproep wat haar hele bestaan tot stilstand dwing. Die troureëlings word begrafnisreëlings en nadat die laaste vriende simpatiek gegroet het, moes Donett die stukke optel van ʼn lewe wat handomkeer verander het.

Vandag, 18 maande later, is sy steeds dieselfde swartkop-skoonheid wat sy destyds was, maar sterker, meer selfstandig, met ʼn onblusbare waardering vir die lewe en ʼn aangrypende storie om te vertel.

“Daar is goeie en slegte dae,” erken sy. “Ek dink dit is die klein goedjies wat my nog aan Twan herinner – as ek ʼn liedjie hoor of verby ʼn plek ry waar ons saam was. Dan kom al daardie gevoelens terug en ek mis hom en dit is sleg en hartseer. Maar daar is baie meer goeie dae as wat daar slegte dae is.”

Twan Relou en Donett Havenga het op 23 Desember 2016 verloof geraak. Foto: Facebook

Kort ná Twan se dood het Donett ʼn sielkundige gaan sien om haar te help om die reuseverlies te verwerk. Sy vertel dit is hier waar sy geleer het om deur haar emosies te werk, eerder as om dit te onderdruk en te probeer om nie aan Twan te dink nie. “Ek dink natuurlik aan hom en die mooi mens wat hy was. Wanneer ek hartseer is, dan erken ek dat ek hartseer is en ek huil. En as ek klaar gehuil het, voel ek beter en dan gaan ek weer aan met my lewe.”

Nee, sê Donett, sy is glad nie vreesloos nie. Ook nie bonatuurlik sterk nie. Maar sy het wel die keuse gemaak dat dié tragiese voorval nie die besluite op haar pad vorentoe gaan bepaal nie. “Ek wil nie hê my lewe moet gedefinieer word deur my hartseer nie. Ek wil nie hê dít moet my storie wees nie,” sê sy.

“Dit is nie dat ek nie aan Twan dink nie of dat dit nie vir my erg is of vir my hartseer is nie. Dit is érg en dit is bitter hartseer. Maar ek weet, as iets met my moes gebeur, sou ek wou gehad het Twan moet steeds die wonderlike, gelukkige omgee-mens bly wat hy was. Ek sou wou gehad het dit wat gebeur het moet hom ten goede verander. En ek glo hy wil dieselfde vir my hê.”

Twan se dood het haar menswees verander, maar haar gelaat met dieper begrip en insig as wat sy ooit voorheen gehad het, sê Donett. “Ek het besef ek is baie sterker as wat ek gedink het. Ek het altyd gedink as ek ʼn ouer of my kêrel of verloofde moet verloor, sal ek ten gronde gaan.

“En ja, ná dit gebeur het, het ek dae om gehuil. Dit is ʼn gróót hartseer, maar dit is nie ʼn onoorkombare situasie nie. Dit verander jou as mens, maar dit is eintlik wonderlik hoe jy uit so ʼn situasie kan opstaan en weet, ek moet aangaan en vorentoe kyk, want ek het nog so baie om voor te lewe.”

Donett Havenga. Foto: Maria Marguerite Photography

Soveel as wat Twan se dood gespruit het uit die dade van bose mense, het Donett weer opnuut die goedheid van die mensdom gesien. Van familie en vriende wat ʼn beskermingslaer om haar getrek het tot vreemdelinge wat net bakke kos by die huis kom aflaai en dan weer stil-stil verdwyn het. Die mens ís inherent goed, sê sy.

Een van hierdie mense wat haar deur die donker gehelp het, is Antoine Snyman. Antoine wat haar deur sy geloof sagkens gelei het om sin te maak uit die tragedie. Antoine wat haar klankbord, haar skouer om op te huil en haar beste vriend geword het. Antoine wat uiteindelik haar hart gesteel het.

“Hy is ʼn wonderlike, volwasse en ongelooflike man van God en as dit nie vir hom was nie, sou ek nie kon genees soos ek tot vandag toe het nie,” sê Donett. “Hy het my nooit geoordeel nie en my toegelaat om te huil en oor Twan te praat. Hy het soveel begrip en aanvaarding vir my hartseer, dit is byna bomenslik. En deur saam met my op hierdie pad te stap het ons lief vir mekaar geword.”

Saam met Antoine was Donett se geloof vir haar ʼn hoeksteen in die pad na herstel. Sy vertel sy het wyd gelees en dieper in haar Christenskap gedelf om begrip te vind van wat gebeur het en staan vandag sterker as ooit in haar geloof.

“Ek weet dat God my met ʼn doel geskape het en dat daar ʼn plan is vir my lewe. Ja, die duiwel is listig en daar gebeur slegte goed met goeie mense, maar ek weet ook dat ek ʼn God van genade dien,” sê sy.

“Ons skep vir onsself hierdie prentjie dat ons gebore word en grootword, trou en kinders kry, werk en oud word en dat dit is hoe ʼn lewe moet lyk. Ons besef nie dat sommige mense nie op aarde geplaas word om daardie pad te stap nie. Hulle is hier om ʼn doel te dien en dan word hulle weggevat. Jong mense gaan dood, ouers verloor hul kinders. Dit is nie omdat ons ʼn slegte God dien nie, maar omdat elkeen van ons ʼn doel het op hierdie aarde en dat hierdie mense se doel dan nou voltrek was.”

Dit is ook daarom dat Donett besluit het om wel voort te gaan met ʼn fotosessie saam met die fotograaf wat sy en Twan vir hul troue sou gebruik het. “Ek is mal oor mooi foto’s en toe ons verloof geraak het, het ek vir Twan gesê ons moet onmiddellik die fotograaf vasmaak, want ek weet goeie fotograwe is lank vooruit bespreek. Ek het dadelik die fotograaf gekontak en ʼn afspraak met haar gemaak.

Twan Relou en Donett Havenga. Foto: Facebook

“Ná Twan se dood het ek en sy kontak gehou en omtrent so ses maande later het ek besluit om steeds ʼn fotosessie saam met haar te doen. Ek het net gedink ek is trots op die vrou wat ek geword het en ek wil dit deur hierdie fotosessie vasvang,” sê sy.

“Ná die fotosessie het ek besluit dit is iets wat ek van nou af een keer ʼn jaar gaan doen. Dit sal my bederf wees. Ek gaan elke jaar ʼn fotosessie doen net om myself te herinner aan hoe selfstandig ek is, watter ver pad ek gekom het en om my vroulikheid vas te vang – dit is iets wat ek vir myself doen.”

En met dié selfde oortuiging kies Donett om elke dag die mooi in die lewe te vier en die goed in die wêreld raak te sien. “Hierdie baie slegte, hartseer hoofstuk, gaan nie die res van my lewensverhaal bepaal nie. Twan moes gesterf het vir my om die mens te word wat ek vandag is, sodat ek weer ander mense se lewens deur my storie kan aanraak.

“Sodat ek die meisie kan wees wat Antoine nodig het en sodat hy ander weer kan seën met sy goedheid. En dít is vir my profound, om te weet ons elkeen het ʼn storie en ons storie vorm ons en maak ons die mens wat jy moet wees in daardie spesifiek stadium in jou lewe,” sê sy.

“Ek wil my storie deel, maar ek wil nie hê mense moet die hartseer raaksien nie. Dít is nie my storie nie. My storie is vol hoop en goedheid. Ek wil hê mense moet sien jy kan aangaan en jy kan weer vorentoe kyk. Dit is ʼn great lewe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elenore ·

Wat n pragtige vrou wat die waardevolle lesse wat sy geleer het uit haar hartseer met ons kom deel. Mag ons almal hieruit leer dat daar altyd hoop is na tragedie en teleurstelling. Maak nie saak wat gebeur nie God is ALTYD goed. Mag jy net geluk en liefde ervaar en hou aan met die positiewe lewensuitkyk. Mag dit met jou net goed gaan. Jy is n voorbeeld en n inspirasie!!!!

Elana ·

Wow, wat ‘n mooi storie van hoop !

Met geloof kan mens deur enige iets kom, by God is niks onmoontlik nie

Griet ·

Volpunte vir jou meisie, VOLPUNTE!!!
Jy is PRAGTIG, binne en buite.
Die Koningkryk juig en jubbel oor jou!

Hannelie ·

Wow sy is so ongelooflik. Na soveel hartseer het sy weer geluk gevind. Donett dit is sulke pragtige fotos, ek stem saam Elenore mag jy net geluk en liefde ervaar op jou pad vorentoe.

Ander Annie ·

Inspirerende boodskap vanaf ‘n pragtige jong vrou. Mag haar toekoms gesaai wees met net die mooi in die lewe.

Sandra ·

Ek het my verloofde 6 weke voor ons huwelik in ‘n motorongeluk verloor. Toe ek later oor my lewe terugkyk, kon ek sien hoe baie ek van hier af verander het. Ek het 2x vinniger volwasse geword en geestelik gegroei; diepe empatie ontwikkel; trouens, jou hele uitkyk op die lewe verander. Ek is oortuig dat hierdie gebeure my lewe ten goede verander het. (Rom 8:38) Omdat ek iemand so spesiaal verloor het glo ek, was ek vir my huweliksmaat van 45 jaar ‘n beter eggenote as wat ek sou wees daarsonder. Sterkte Donett, Ek glo jy gaan ook ‘n pragtige toekoems binne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.