Vrou ondergaan operasie ná Potch-aanval: ‘Sy het baie pyn’

Nanna sterk aan ná die operasie aan haar oog. Foto: Verskaf.

Nanna Viviers (25), die jong vrou wat verlede Saterdag op haar verjaarsdag saam met haar kêrel, Albert John (23), in hul huis in Baillie Park in Potchefstroom deur ses mans aangeval is, sterk steeds aan in die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria.

Jacques Viviers, Nanna se pa, het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê Nanna het Dinsdag ʼn operasie aan haar oog ondergaan.

“Dit gaan beter met haar vanoggend. Sy praat darem, maar het baie pyn. Ons het vanoggend met die dokter gepraat – die oogbank is baie mooi herstel. Daar is nou ʼn plaatjie om die bene [van die oogbank] te las en te lig, die sinusbeentjies het ook weer mooi inmekaargepas,” het Viviers gesê.

Nanna se sinusbank en wangbeen is tydens die aanval gebreek en die oogbank het ook gesak ná ʼn harde hou van die aanvallers.

Viviers vertel die dokters het van die steke op haar gesig uitgehaal en met gom geheg om die risiko vir letsels aan haar gesig te verminder. “Die dokter het ook aan die binnekant van haar oog geopereer, jy kan dit nie van buite af sien nie,” het Viviers gesê.

Dokters sal eers nadat die swelling van die operasie gesak het finaal kan sê of haar sig ten volle sal herstel. Nanna word tans met sterk pynmedikasie en slaappille behandel.

Maroela Media het vroeër berig Viviers het vertel Nanna en John het gelê en slaap toe hulle omstreeks 02:30 wakker geword het van Nanna se worshondjie wat blaf. Volgens Viviers het die twee dié aand die alarm in die huis afgeskakel omdat die honde veroorsaak dat dit deur die nag afgaan.

“Toe Nanna haar oë oopmaak, het daar ses van hulle om die bed gestaan.” Die indringers was met bobbejaanmoersleutels, pistole en messe gewapen. Drie van hulle het klapmusse opgehad, terwyl die ander drie se gesigte sigbaar was. Hulle het Afrikaans, Engels en Tswana gepraat.

“Albert wou net onmiddellik begin baklei, maar sy het hom kalm gemaak en gevra dat almal net rustig moet bly.”

Die aanvallers het hulle egter nie aan Nanna se versoek gesteur nie. Die volgende oomblik, terwyl hulle nog so in die bed sit, het die moersleutel haar agter die kop getref.

Nanna sterk aan ná die operasie aan haar oog. Foto: Verskaf.

Viviers vertel dat die aanvallers vir Albert en Nanna erg aangerand het – só erg dat die bloedspore agterna deur die hele huis sigbaar was. In ʼn stadium het die aanvallers vir Albert met sy skoenveters vasgebind en hom op die bed neergegooi. “Toe sê hulle vir hom, vanaand gaan jy kyk hoe ons jou meisie verkrag.”

Viviers sê toe Nanna dié woorde hoor, het sy besef dat sy nóú vir haar lewe moet baklei.

In die struweling kon Nanna daarin slaag om die paniekknoppie te druk en met dié het die aanvallers op die vlug geslaan. Hulle is vort met net die paartjie se selfone en Albert se beursie. Die paartjie het maar drie weke in die huis gebly voor die aanval.

Viviers sê dokters kan nog nie voorspel wanneer Nanna uit die hospitaal ontslaan sal word nie. “Sy sal sonder twyfel berading ontvang.”

Volgens lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, is daar nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

waarheid ·

Liewe Nannatjie – 0ns dink aan jou al ken jy ons nie.
Hoop jy voel gou beter.
Sterkte aan jou en jou gesin.

HH ·

en dan wil jul vir my se dis “huisroof”. Maar n 2 klappe by n KFC is poging tot moord. Verkrag,gemartel en vasgebind en aangerand is “huisroof” doodskis en oopmaak is “poging tot moord” kom ons kyk wat die verskil is tussen dié..

Lynette ·

Watse huisroof?????? Gewapende roof en aanranding met die doel om ernstig te beseer klink mos meer reg, nie waar nie?

NADS ·

Sterkte ou girl, ek het my oog op 2 jaar verloor. Dat anders mense soveel ongeluk vi mens kan gee. Baie sterkte,

Ronel ·

Sterkte vir julle Nanna. Die sekuriteitsmaatskappy moes julle wys hoe om die kamer te deaktiveer en die res van die huis the aktiveer. Dis tragies om te dink dit kon vo

ANONIEM ·

Nog niemand in hegtenis geneem nie wat n joke ons hele land is n joke met hierdie kriminele wat meer regte het as die Suid Afrikaners wat die regte pad loop. Hierdie is poging tot moord en nie huis roof nie wonder wat se ou Ramaposa nou.

Eben Maritz ·

Baie sterkte Nanna. Mag God jou bystaan elke tree. Sterkte aan almal spesifiek jou ouers. Ek kan my nie indink wat hul moet deurgaan nie. Bly geseend en onthou, jy is n sterk persoon wat sal wen. Die feit dat jy nog met ons is wys jy is n wenner. Groete

jan ·

Kan jy nou glo dat die polisie n saak van huisroof ondersoek!Is daar iemand wat dit vir my kan verduidelik?
Die vrou het byna haar lewe en miskien oog verloor agv die aanranding met die doel om ernstig te beseer!
Soos vermeld is doodskis eskapades se oortreders tronk toe!

Maryna ·

As mens die gereg in jou eie hande neem, kry jy tronkstraf. Maar hulle mag jou geliefdes aanrand en doodmaak… Neee hel dit werk mos nie so nie.

Nanna mag God jou genees deur hierdie hele ding. Sterk staan.

Gert ·

Die Bybel ons handleiding tot die hiernamaals, moet n werklikheid word in ons lewens. Die Bybel verklaar dat ons geloof ons sal red. Die Bybel verklaar ook dat ons stryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte in die lug. Vraag: KAN GOD ONS BESKERM? Ja duisend maal JA. Yahweh is Almagtig en daar is niks wat teen Hom kan stand hou nie. Yahweh spreek n woord en die skepping bestaan. Yahweh is die een wat die see gekloof het. Yahweh is die een wat vuur uit die hemel laat val. Yahweh is die een wat in die vuuroond loop. Yahweh is die een wat die bekke van die leeus gesluit het. Yeshua is die een wat die een wat die dooie uit die graf roep. Yeshua is die een wat al die mag op die hemel en op aarde besit. Yeshua het gese Hy sal ons Sy kinders nooit alleen laat nie. Ons geloof moet nie uit woorde bestaan nie, maar dit moet uit dade bestaan. Mense met n lewende verhouding met Yeshua het geen vrees nie. Yeshua beskerm hulle. Die prys van die beskerming is betaal. Pleit die bloed oor alles en GLO dit. Ons geloof is sterker as selfs die grootste kernbom. Ons geloof kan berge versit. Ons geloof in Yeshua behoort en moet groot wees. Ons kan Yeshua vertrou. Nie wapens nie. Maar Yeshua alleen.
Bid vir jou dat geloof sterk sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.