“Sy was beter as net my droomvrou – sy was ʼn engel geleen van die Here af.”
Só sê Rudi Fourie (27) oor sy geliefde vrou, Elriesa (25), wat Vrydag saam met hul ongebore baba in ʼn motorongeluk in Noordwes gesterf het.
Elriesa, ʼn Protea-vrouekrieketspeler, se dood het skokgolwe deur die Suid-Afrikaanse krieketgemeenskap gestuur, en dié wat haar geken het, is in rou gedompel deur haar skielike dood. Oor die naweek het daar ook talle boodskappe van medelye op sosiale media ingestroom.
Rudi en Elriesa, wat agt maande swanger was, was Vrydag van hul huis op ʼn kleinhoewe buite Stilfontein na Klerksdorp op pad, toe Rudi beheer oor die voertuig verloor het. Die voertuig het gerol en Elriesa en hul ongebore babadogtertjie het ondanks dokters se beste pogings om hulle te red, gesterf. Rudi het geringe beserings in die ongeluk opgedoen.
Die baba sou die egpaar se eersteling gewees het.
Volgens Fourie is daar nie genoeg woorde om hulde aan Elriesa te bring en vas te vang watter ongelooflike mens sy was nie. “Sy het altyd alles in haar vermoë gedoen om almal gelukkig te hou, al sou dit beteken dat sy self seerkry.
“Sy het soveel lewens geraak. Ek het ʼn ongelooflike en volmaakte vrou en volmaakte kind verloor. Hulle was engeltjies van bó,” het ʼn gebroke Rudi aan Maroela Media gesê.
Ook Francois van der Merwe, Elriesa se afrigter by die Noordwes Dragons, het vertel van die wonderlike mens wat die jong vrou was.
“Sy was die sagste mens. [Ek] het haar nooit kwaad gesien of gehoor kla nie. Almal het altyd by haar gaan vertroosting soek as hulle probleme gehad het. Ons gaan haar baie mis,” sê Van der Merwe.
Intussen het Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), in ʼn verklaring die KSA se skok en medelye oor Elriesa se dood uitgespreek. “Hierdie is ʼn verskriklike tragedie in die ware sin van die woord,” het Moroe gesê.
“Dit is verpletterende nuus vir ons almal. Elriesa het so baie gedoen vir die gemeenskap waarin sy gewoon het en het ongelooflike werk verrig, as top- nasionale speler én op voetsoolvlak met die werk wat sy in mindergegoede gemeenskappe verrig het.”
Elriesa het die Proteas in drie eendagwedstryde verteenwoordig, asook tydens ʼn Twintig 20-wedstryd. Provinsiaal het sy vir die Noordwes Dragons gespeel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
22 Kommentare
O nee, hierdie verskriklik!
Baie sterkte aan al die familie en veral aan Rudi.
Rudi. Niemand kan woorde vir jou hê nie. Jou verlies is net te groot. Jou pragtige vrou en jou ongebore baba, ons harte bloei vir jou.
Bitter jammer
My innige simpatie. Baie sterkte aan almal na aan die oorledene. Dis so hartseer.
Mens het nie woorde vir hierdie tragedie. Die lewe is so super onregverdig. Sterkte aan almal.