Vrou, ongebore baba sterf saam: ‘Hulle was engele van bó’

Rudi Fourie en sy vrou, Elriesa, op hul troudag in April 2016. (Foto: Facebook)

“Sy was beter as net my droomvrou – sy was ʼn engel geleen van die Here af.”

Só sê Rudi Fourie (27) oor sy geliefde vrou, Elriesa (25), wat Vrydag saam met hul ongebore baba in ʼn motorongeluk in Noordwes gesterf het.

Elriesa, ʼn Protea-vrouekrieketspeler, se dood het skokgolwe deur die Suid-Afrikaanse krieketgemeenskap gestuur, en dié wat haar geken het, is in rou gedompel deur haar skielike dood. Oor die naweek het daar ook talle boodskappe van medelye op sosiale media ingestroom.

Rudi en Elriesa, wat agt maande swanger was, was Vrydag van hul huis op ʼn kleinhoewe buite Stilfontein na Klerksdorp op pad, toe Rudi beheer oor die voertuig verloor het. Die voertuig het gerol en Elriesa en hul ongebore babadogtertjie het ondanks dokters se beste pogings om hulle te red, gesterf. Rudi het geringe beserings in die ongeluk opgedoen.

Rudi sê sy vrou, Elriesa, en hul ongebore baba was “engeltjies van bo”. (Foto: Facebook)

Die baba sou die egpaar se eersteling gewees het.

Volgens Fourie is daar nie genoeg woorde om hulde aan Elriesa te bring en vas te vang watter ongelooflike mens sy was nie. “Sy het altyd alles in haar vermoë gedoen om almal gelukkig te hou, al sou dit beteken dat sy self seerkry.

“Sy het soveel lewens geraak. Ek het ʼn ongelooflike en volmaakte vrou en volmaakte kind verloor. Hulle was engeltjies van bó,” het ʼn gebroke Rudi aan Maroela Media gesê.

Ook Francois van der Merwe, Elriesa se afrigter by die Noordwes Dragons, het vertel van die wonderlike mens wat die jong vrou was.

“Sy was die sagste mens. [Ek] het haar nooit kwaad gesien of gehoor kla nie. Almal het altyd by haar gaan vertroosting soek as hulle probleme gehad het. Ons gaan haar baie mis,” sê Van der Merwe.

Intussen het Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), in ʼn verklaring die KSA se skok en medelye oor Elriesa se dood uitgespreek. “Hierdie is ʼn verskriklike tragedie in die ware sin van die woord,” het Moroe gesê.

Rudi Fourie en sy vrou, Elriesa. (Foto: Facebook)

“Dit is verpletterende nuus vir ons almal. Elriesa het so baie gedoen vir die gemeenskap waarin sy gewoon het en het ongelooflike werk verrig, as top- nasionale speler én op voetsoolvlak met die werk wat sy in mindergegoede gemeenskappe verrig het.”

Elriesa het die Proteas in drie eendagwedstryde verteenwoordig, asook tydens ʼn Twintig 20-wedstryd. Provinsiaal het sy vir die Noordwes Dragons gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Andrea ·

O nee, hierdie verskriklik!

Baie sterkte aan al die familie en veral aan Rudi.

Arno ·

Rudi. Niemand kan woorde vir jou hê nie. Jou verlies is net te groot. Jou pragtige vrou en jou ongebore baba, ons harte bloei vir jou.

Lizelda ·

My innige simpatie. Baie sterkte aan almal na aan die oorledene. Dis so hartseer.

honoruable member ·

Mens het nie woorde vir hierdie tragedie. Die lewe is so super onregverdig. Sterkte aan almal.

Essa ·

Troos, krag en kalmte toegebid vir Rudi en vir sy en Elriesa se familie en vriende in hierdie bitter hartseer tyd en vorentoe. Laat Sy liefde julle dra.

Kolle ·

Sekere tragedies slaan eenvoudig jou asem weg van hartseer. Hierdie is een van hulle. Innige simpatie!

Gesiggie ·

My liewe mens…. ek sluk so hard aan die knop in my keel en my hart ruk uitmekaar vir jul as familie, my innige meegvoel , hoekom moet die lewe so wees…. daar het nog soveel vreugde vir jul gewag met die geboorte van jul eerste baba… Mamma en Baba rus nou veilig by Jesus – en as engele kyk hul neer op jul. Alle sterkte

LADY ·

Mag God vir jou vertroosting bring. Dis so hartseer. Sterkte vir jou in die moeilike tyd. Ek ken julle nie maar ek huil saam.

Genoeg ·

Rudi, ek ken jou nie, maar ek kan jou slegs krag en sterkte toebid. Hierdie pad wat nou vir jou voorlê is ‘n lang opdraende wat jy moet uit en dit kan jy slegs doen deur alles in God se hande oor te gee en jou volle vertrou op Hom te plaas. Ek bid jou krag, sterkte en vertroosting toe hier uit Namibië.

Alida ·

Ag nee dit is onbeskryflike seer. Baie sterkte vir almal betroķke. Foeitog nee.

Elize ·

Rudi en familie my hart en gebede is by julle. So jammer vir jul verlies. Ek ken n gedeelte van jul pyn ook my dogter en ongebore baba so verloor. Sterkte vir jul.

treurgrond ·

Hierdie is nou so so so so hartseer. Jesus mens kan sien hierdie twee mense was die regte ding so so verlief. en dan het hulle hulle eerste babatjie ook verwag – dit is so so hartseer.

Ai........ ·

Geen woorde……dis net te hartseer. Baie sterkte met die gesondword-proses vorentoe. Mens beweeg mettertyd aan, maar sal nooit vergeet nie. R I V.

Bosvark ·

My innige simpatie ou maat. Die Here se hand oor jou vir sterkte.

Mariaan ·

Ek verstaan nie die goed nie…HOE OP DEES AARDE KAN DIT MENS NOU HELP IN JOU TOEKOMS VORENTOE….hoe? Dis net seer en pyn!! Hoekom?? My geloof raak swak met hierdie tipe goed…niks van dit maak sin nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.