Vrou ontbied hulp op Facebook ná tuinvurk-aanval

facebook boodskap 1ʼn Vrou het op Facebook om hulp gesmeek nadat sy by haar huis in Vereeniging erg met ʼn tuinvurk aangerand is en haar aanvaller onder meer haar selfoon gesteel het.

'n Skermskoot van die vrou se Facebook-inskrywing.

‘n Skermskoot van die vrou se Facebook-inskrywing. Die foto is digitaal gemanipuleer om die vrou se identiteit te beskerm.

Sy was Donderdagmiddag alleen by die huis toe ʼn man haar tussen 13:00 en 14:00 oorval en aangerand het. Sy is geskop en met die vurk aangerand en het steekwonde aan haar kop, nek, bolyf, arms en hande opgedoen.

Die aanvaller het met haar selfoon en juweliersware van die toneel gevlug.

Die vrou se rekenaar is gelukkig nie gebuit nie, en sy het dit gebruik om op Facebook hulp te ontbied. Sy is ʼn aktiewe lid van ʼn misdaadbewusmakingsgroep op Facebook, en kort ná haar noodkreet het iemand haar man en die polisie ontbied, waarna sy na ʼn hospitaal gehaas is vir verdere behandeling.

Haar man het Maandag aan Maroela Media gesê dit gaan onder omstandighede goed met haar. “Sy is in die intensiewesorgeenheid en het baie seer gekry, maar is stabiel,” het hy gesê. Hy het verkies om anoniem te bly uit vrees vir hul veiligheid.

Hy het almal bedank wat spoedig reageer het ná die aanval op sy vrou. “Facebook het haar lewe gered,” het hy gesê.

Konst. Maria Mazibuko, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Na wat verneem word, was net een verdagte by die aanval betrokke,” het sy gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van roof en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

johan slabbert ·

DAGSE MENSE, dit is vir my verstommend om te hoor dat iemand wat weet van die situasie in die land nog so aangeval kan word. VEILIGHEID MENSE EN WEES PARRAAT

Ilze ·

Ai Johan, asseblief moet dit nie laat klink of hierdie dame te blameer is nie. Jy ken nie die omstandighede nie en, maak inelkgeval nie saak WAT die omstandighede nie, sy het nie fouteer, sy is die slagoffer. Ek hoop jy klop op jou kop (in engels, “touch wood”) voor jy sulke dinge kwytraak, want jy tart die noodlot. Ek weet nie van jou nie, maar nie ek, of enige van my kennise, loop in die huis rond en loer oor ons skouers vir inbrekers nie. Ek sou sê daar sal grondige redes wees om jou sielkundig te evalueer indien jy dit doen.
Ek haal my hoed af vir haar dat sy kop gehou het en ‘n plan kon maak om haar lewe te red. Sterkte aan die familie en die slagoffer.

katrien la grange ·

Weet jy wat johan ek dink jy moet 2 keer dink voor jy praat oor iets wat jy niks van weet nie en net so tussen ons het sy al die veiligheids reels gevolg die doner het nogsteeds ingekom so wat se dit as hulle wil in kom sal hulle n manier kry al omskep jy jou huis in n dronk sal hulle nogsteeds in kom

Schalk ·

Katrien. Die oomlik as jou huis n dronk is laat weet my. Dit klink al te lekker.

Marinda ·

Voel baie jammer vir haar. Gelukkig kon sy facebook gebruik om hulp te ontbied, want om die polisie te bel sou nie gehelp het nie. Dalk sou sy ook soos ons 2 ure gesukkel het om ‘n polisiestasie in die hande te kry. . Dalk moet ons maar eerder almal van facebook gebruik maak. Kry vinniger reaksie.

Moeks ·

Dit is so. Gewapende roof by ons huis in Desember. Polisie daag ‘n uur en ‘n half later eers op.

Schalk ·

Moeks. Dit is die een ervaring wat ek nie my grootste vyand toewens nie. Ek dink net die mense wat so vinnig kritiek lewer weet nie wat dit is nie. Ek is twee keer daar deur, en daar was absoluut niks fout met my paraatheid of sekuriteit nie.

pop ·

Ilse, ek moet deffinitief nie sielkundig gevalueer word nie. Ek is aanmekaar bang en kyk heeltyd rond en ek sluit my deure altyd. As ek tuin toe gaan vat ek my tazer bedags saam en sluit agter my in geval iemand insluip en my binne inwag. Saans vat ek my pistool saamas ek uitgaan. My vensters het dubbele diefwering,dik ysters wat my man self aangebring het .Ek het selfs in my gang veiligheidshekke. Saans 6 uur is my diere binne en my alarm aan. Ek slaap met my pistool onder my kussing. Ons leef in n land waar meer mense aangeval word as in oorlog situasie. Ek leef in n tronk, maar ek probeer net lewend bly.

Ilze ·

Pop, dan kry ek jou regtig (en ek bedoel dit opreg, sonder enige verbloemde boodskap) jammer. Ek verstaan nie die lewe wat mense in die Noorde van ons land leef nie en moet dalk nie so vinnig oordeel nie. Ons woon in die Wes-Kaap en alhoewel hier ook van tyd tot tyd aanvalle is, is dit nie naastenby so wreedaardig soos hierdie geval nie en gebeur dit ook nie naastenby so gereeld nie. Hier is nie so baie geld soos daar bo nie en my kinders het nie die nuutste en beste van alles nie, maar wat hul wel het is ‘n relatief sorgelose LEWE. Hul ry nog tot skemer in die aande fiets in die straat (erkentelik onder toesig van ons op die stoep, maar sonder hekke voor). As ek die polisie bel oor ‘n verdagte voertuig wat verby my huis ry, bel hul my “actually” terug om te raporteer wie dit was. Ek ken my bure en ons groet mekaar wanneer ons voor mekaar se huise verbyloop op ‘n aandelikse stappie. Ja, ek sal hou van meer geld en ‘n oorvloedige lewe, maar ek ruil nie die meer sorgelose lewe hier vir dit wat julle ervaar nie. Mense wat die DA kritisseer, dit is jul demokratiese reg, maar maak ‘n draai hier waar die DA regeer en los jou materialistiese ideale agter en jul sal sien dat daar nog plekke in SA is waar daar daadwerklik regeer word, die strate skoon is en jy jou kinders met gesonde veiligheidsbewustheid kan grootmaak.

saartjie ·

Niemand kon dit verwag of sien kom nie!En nog minder kan ons in n tronk lewe om so buite gevaar te bly!Maak nie saak wat ons doen om ons huise en gesinne te beskerm nie,as die goed wil in sal hulle we’ll inkom.Dis net skokkend om te sien hoe gevoelloos die gemors is dat hulle niks voel vir n ou vrou nie.Wens so die doodstraf wil terug kom!!!Dit is die enigste manier om al die geweld en moord stop te sit.

Petra ·

Bietjie minder as twee maande gelede, het my suster iets by haar veiligheidshek by die skuifdeur in Tv-kamer gehoor. Toe sy daar instap het ‘n man gebukkend daar rondgekruip. (bang die alarm is dalk geaktiveer) Sy het gehardloop om die agterste skuifhek oop te sluit om die hond te laat inkom. Die man het haar gehoor en God dank, op vlug geslaan. Haar hekke is ALTYF gesluit en die heining is hoog. Dit het gebeur ‘n halfuur nadat skoonmaakdienste daar was. Iemand het die sleutel in die veiligeidshek vergeet. Soiets kan enige iemand oorkom, al is hulle hoe veiligheidsbewus. Dis siek dat ons met al die voorsorg wat ons tref, nog steeds nie veilig is nie!!

Neptunus ·

“Sy is geskop en met die vurk aangerand en het steekwonde aan haar kop, nek, bolyf, arms en hande opgedoen.”… “Die polisie ondersoek ʼn saak van roof en aanranding met die doel om ernstig te beseer.”

Hoeveel keer moet mens met ‘n dodelike wapen gesteek word in jou kop, nek of bolyf voor dit as poging tot moord gesien kan word? Dit maak glad nie sin nie, hopelik is dit net swak woordkeuses deur die SAPD se woordvoerder. Mag die slagoffer hierdie trauma oorkom en die ondier wat hierdie ding aan haar gedoen het aan die kaak gestel word.

John ·

My private huis is veronderstel om privaat te wees en hier is ek veronderstel om slegs mense van my keuse toe te laat. Ongewenste elemente is nie deel van my keuse nie. Waar ons eers in ñ vrye land geleef het met oop erwe, oop vensters, ens is dit nou ñ private tronk waar mens na laaste lig net deur ñ gordyn skefie uitloer. Dit is demokrasie, vryheid vir die nasie.

Wilma ·

EK skiet eers en vra dan vrae! MY huis, MY eiendom, MY erf, MY veiligheid. Indien iemand ongenooid en met mag daar is, is dit oortreding en my veiligheid in gevaar!

CR ·

Ek ken die dame – sy is so hard geskop dat die ^%^%^*%&**( gemors se tekkie se soolmerke duidelik sigbaar was op haar gesig. Hoop sy herstel vining :-(

Lainy ·

CR, Kan jy dalk min of meer sê in watter area van Vereeniging hierdie noodlottige tragedie homself afgespeel het.

katrien la grange ·

We’ll liewe schalk ek het bedoel tronk ma nou ja . Anyway die vrou wat aangerand is n persoonlik vriend gaan vir julle se wat die verhouding is nie ma die punt bly staan as hulle in jou huis wil kom dan gaan hulle ons was al self da deur en my pa was n poliesie man vir 35 jaar so maak nie saak hoe veilig jy is nie die gemors het geen menslikheid in hulle nie

Hein ·

Mag ek voorstel dat, in plaas daarvan dat daar verwys word na só iets wat ‘n vrou aanval, as ‘n “nie-vrou,” eerder as ‘n “man?”
‘n MAN is iemand wat die skonere geslag ordentlik behandel.

Anoniem ·

Goeiedag almal. Ek het lank gedink voordat ek besluit het om hier op julle kommentaar te reageer. Ek is die vrou wat aangeval is se man. Eerstens, dit gaan onder omstandighede goed met haar. Sy is baie, baie seergemaal, en gaan vandag vir die derde keer teater toe om skade reg te maak, maar sy het ‘n wil van staal en met genade van Bo sal sy herstel.

Ek wil op ‘n paar spesifieke punte kommentaar lewer:
– My vrou het op geen manier gevra dat ‘n vuilgoed soos hierdie oor ons ses-voet muur spring en haar in haar eie huis kom aanval nie. Ons voorhek is altyd gesluit, so ook veiligheidshekke by die voor-en agterdeure. Ongelukkig was die agterste veiligheidshek se sleutel in hierdie geval op ‘n plek waar hy dit kon bykom, en so homself in die huis inlaat.
– Die polisie het (danksy talle oproepe na nooddienste deur haar facebook-vriende) vinning gereageer en daar was seker agt of meer van hulle op die perseel toe ek daar kom. Hulle was vriendelik en behulpsaam, MAAR dis waar dit opgehou het. Hulle het op geen manier probeer om die toneel sekuur te maak vir die versameling van bewyse nie. Geen vingerafdrukke, niks. Hulle het nie eers om die huis gestap om te kyk of hulle enige bewysstukke kan kry nie. Ek het intussen die aanvalswapen (‘n tuinvurk) self opgespoor, oop en bloot in die gras langs die huis. Ek het dit Maandagoggend na die polisie geneem, en moes toe uitvind dat daar nog nie eers ‘n ondersoekbeampte aangestel is nie. Ek het die bewyse by ‘n Majoor Bodibe van die Vereeniging speurtak gelaat onder die versekering dat hy sal sorg dat iemand my so gou moontlik kontak. Dis nou twee dae later, en nog steeds is daar geen verdere aksie nie.
– Indien ek die kans kry (m.a.w. as die polisie besluit om iets aan hierdie saak te doen) sal ek aandring daarop dat die klag verander word na poging tot moord. Daar is in my geen twyfel dat, alhoewel hy ‘n paar stukkies juwele en haar selfoon gesteel het, sy doel was om haar dood te maak nie. Ek dink hy het slegs opgehou omdat sy letterlik besig was om haar dood te bloei, en hy het seker gedink sy missie is voltooi.
– @Lainy – dit het in Bedworth Park gebeur.
– @Johan Slabbert: ek sou vir jou baie dinge kon sê, maar ek sal volstaan daarby dat ek hoop iets soos hierdie kom jou of jou geliefdes nooit oor nie.

Beste wense vir julle almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.