Vrou ontsnap nadat eks haar glo martel

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn 41-jarige man sal tot sy volgende hofverskyning agter tralies bly nadat hy glo petrol oor sy vervreemde vrou gegooi en haar verkrag het.

Dit is glo danksy dié vrou se waagmoed dat sy met haar lewe daarvan afgekom het en haar aanvaller aan die polisie kon oorgee.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die beweerde aanvaller, Oupa Nkele, het Maandag in die Mogwase-landdroshof in Noordwes verskyn op aanklagte van poging tot moord en verkragting.

Sy saak is tot 17 Januarie uitgestel, waarna hy moontlik om borgtog kan aansoek doen.

Volgens Mamothame het Nkele, wat van sy vrou geskei is, haar in Desember verlede jaar gebel om ʼn ontmoeting te reël om ʼn dringende saak te bespreek.

“Hy het op 29 Desember sy eks-vrou by haar ouerhuis opgelaai en in die rigting van ʼn plaaslike winkelsentrum gery,” sê hy. “Nkele het egter skielik van rigting verander en na hul huis in Lerome Village buite Rustenburg gery.”

Die twee het glo begin stry toe hulle by die huis aankom en dis toe wat Nkele na bewering die vrou met ʼn tou probeer verwurg het. Hy het toe glo petrol oor haar gegooi en haar verkrag.

“Nadat Nkele na bewering dié misdade gepleeg het, het hy sy vervreemde vrou in sy motor ingedwing. Sy het egter daarin geslaag om die motordeur oop te sluit en uit te spring.”

Die slagoffer het vinnig van Nkele weggevlug en is met die hulp van ʼn samaritaan na ʼn polisiestasie geneem.

Sy het ʼn klag van poging tot moord en verkragting aanhangig gemaak en Nkele is die volgende dag in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Hy sal seker weer borg toegestaan word! Hierdie tipe gedrag sal NOOIT verander in die land nie want die Howe staan vierkantig agter hierdie misdadigers. Sy moet versigtig wees indien hy wel borg toegestaan word. Hierdie tipe geweld eindig in baie gevalle in moord

JM ·

Weier vir hom borgtog en sluit hom permanent toe. Hy hoort nie in die samelewing nie. Skuim!

Anel ·

Nou hoekom het hy die reg om borg te kry? Sodat hy die vrou kan gaan vermoor? Het sy nie die REG om veilig te voel nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.