Vrou ook slagoffer van Facebook-boewe

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Hansie Linde)

Ruve Wepener (45) het Saterdag ʼn voorgevoel gehad dat sy nie na Philippi in Kaapstad moes reis om haar seun se kitaar aan ʼn moontlike Facebook Market Place-koper te verkoop nie.

Sy het egter nie gehoor gegee hieraan nie en ook ʼn slagoffer van dié, soms dodelike, modus operandi geword.

“Ek is net dankbaar ek het lewend daarvan afgekom.”

Verskeie mense is die afgelope paar weke beroof, ernstig beseer of selfs vermoor nadat hulle items op sosialemediaplatforms geadverteer het en versoek is om na gebiede soos Nyanga en Philippi te reis om die goedere by die koper af te lewer.

Die restauranteienaar Ben Tuzee (51) is verlede week vermoor nadat hy ʼn televisiestel in Browns Farm afgelewer het. Jacques Bruwer (48) en sy seun, ook Jacques (23), het amper dieselfde oorgekom nadat hulle twee weke vantevore in die gebied aangeval en beroof is.

Wepener, een van die jongste slagoffers, het Saterdag om 14:30 Philippi ingevaar in die hoop om haar geadverteerde kitaar te verkoop.

“Die hele pad soontoe het ek vir myself gesê dit is die verkeerde besluit om vroualleen na die gebied te reis en toe ek daar aankom, het ek besef my vrese dra gewig,” het sy aan Maroela Media gesê.

Die enkelma van twee tieners het voor die voorval met ʼn jong man oor die foon gesels om die besonderhede rakende die moontlike aankoop te bespreek. Sy vermoed dit is hierdie persoon wat haar motor genader het toe sy die middag in die gebied stilgehou het.

“ʼn Tiener, skaars 16 jaar oud, wat ordentlik aangetrek was, het my motor genader en skielik na my sleutels gegryp.”

Nadat sy uit die motor geboender is, het vier of vyf mans haar ook genader. Wepener is met ʼn baksteen in die gesig geslaan en oor haar selfoon se intekenbesonderhede uitgevra. Sy het ʼn tweede hou met die baksteen deels met haar arm afgeweer, maar in die proses beserings aan haar mond en arm opgedoen.

“Ek het als net so gelos en weggehardloop. Ek het hard geskree en om hulp geroep en gelukkig het ʼn klomp vroue by hul huis uitgekom om my te help,” sê ʼn getraumatiseerde Wepener.

“Hulle het my in hul huis geneem, die deur gesluit en iets gegee om te drink. Die polisie is ontbied en beamptes van die Nyanga-polisiestasie het my daar kom haal. Ek is so dankbaar vir daardie vroue se hulp.”

Skaars ʼn uur later is Wepener se Volkswagen Polo verlate in die gebied aangetref. Haar selfoon, die inhoud van haar motor en haar seun se kitaar is egter gebuit. Sy is nou in die proses om haar motor van die polisie af terug te kry.

Wepener sê sy moes ʼn paar jaar vantevore na Mbekweni in die Paarl-omgewing vir werk reis toe ʼn man ʼn vuurwapen op haar gerig en haar selfoon geëis het.

“Ek was baie getraumatiseer deur die voorval en hierdie gebeurtenis het die trauma opnuut te voorskyn gebring,” sê sy.

“Ek was nou onlangs ook by ʼn Spar toe ʼn bedelaar langs my kom staan het. Ek het skoon ʼn paniekaanval gekry. Dit gaan tyd vat voordat ek hierdie voorval sal kan verwerk.”

Die polisie ondersoek intussen die saak.

Drie verdagtes, onder wie ʼn tienerseun van 16 jaar oud, is boonop enkele dae ná die aanval op Wepener in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by Tuzee se moord. Dit is nie duidelik of hulle met Wepener se saak verbind kan word nie. Sy is wel gevra of sy van die aanvallers sal kan identifiseer en sy is positief dat sy dit sal kan doen.

“Ek hoop net dat meer mense bewus sal raak van hierdie lokval en op hul hoede sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

bfree ·

Ek wonder of ek en my man ook dalk amper d pad geloop het.

ons het ‘n vistenk geadverteer… die man wil fotos he en he ons moet dit in Houghton aflaai. sou dit kamstig kom haal maar nie gekom nie… update die post en soek meer en meer fotos. nooit die ou gesien nie maar “stel steeds belang”.

ES ·

Baie versigtig wees, Houghton is reg langsaan Berea, Yeoville en Hillbrow (minder as ‘n kilometer weg) so die gemors laat jou dink jy is in ‘n welgestelde area maar kan jou dalk in ‘n lokval lei. Hou eerder verby.

Christelle ·

Dit is so jammer wat met die slagoffers gebeur het, maar mense moet besef, ons land is nie meer veilig nie. Moet nooit in gevaarlike areas ingaan nie, reel dat die persoon jou iewers ontmoet wat bekend is aan jou en vat liewers iemand saam wat op n afstand bly en kan hulp ontbied en verleen.

es ·

Ons is ook in Philippi beroof, selfde MO…en deur 6 van die gemors, 4 aan my kant my ruit van die bussie probeer uitslaan en 2 by my lewensmaat se kant, ekt verbete baklei om my lewensmaat veilig te hou…as daar n uitkennings parade is sal ek met liefde gaan getuig, ek onthou elkeen van hulle se gesigte, en dis dieselfde ouderdomme as genoem in die berig. Ons is so gelukkig om lewend daar uit te kon kom

Mariana ·

Mense moet leer dat jy nie in sekere gebiede ingaan nie, nie eers aan die rant van sulke plekke nie. Mens moet so versigtig wees. Kriminele is slinks.

Di ·

16 en klaar ‘n KRIMINEEL! Sluit hom en sy gespuis toe en gooi die sleutels ver weg. GEMORS!

Porseleintjie ·

Ek het ook op marketplace geadverteer en is ingeloop. Het ook selnommers en fotos maar SAPD is nog minder betroubaar.

Swerwer ·

Mense wil ook maar nie leer nie. Van kinds af is ons geleer dat jy nie in die ander se woonbuurte ingaan of naby dit kom nie. Maak nie saak hoe en waar nie, en net so is Sosialmedia taboe. Adverteer as jy wil maar dan kry jy die persoon wat dit wil koop in ‘n openbare plek waar jy gemaklik in voel. Asseblief mense die ou dae is verby, dit is nou ‘n kommunistiese land en jy is jou lewe nie meer veilig nie.

Stef ·

As ons n polisiemag gehad het wat funksioneer kon hulle maar n trap gestel het vir die ouens, maar ja?

ES ·

Ek het gister kommentaar gelewer hieroor (wat verwyder is) waar ek gese het, net 6 gewapende mans in ‘n bussie wat ‘n lokval moet stel en hulle dan “genees” van hul boosheid.

PieterJ ·

Nie veel simpatie met mense wat nie vir hulself kan dink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.