Vrou op balkon wat ineenstort ná ongeluk

Foto: Verskaf deur ER24.

Vier mense is Woensdagoggend beseer toe ʼn minibustaxi en ʼn motor gebots en in ʼn ondersteuningspilaar van ʼn balkon ingeploeg het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê ’n vrou het op die balkon gestaan toe dit ineengestort het. “Sy het matige beserings opgedoen.”

Volgens Meiring het die ongeluk op die hoek van Mainstraat en Wilsonweg in Wynberg in die Wes-Kaap plaasgevind.

“Toe paramedici omstreeks 07:00 by die toneel opdaag, het hulle ʼn taxi en ʼn motor aan die kant van die pad aangetref,” het Meiring gesê. Bourommel het verstrooi oor die toneel gelê weens die balkon wat ineengestort het.

“Drie vroue wat in die taxi was, is ook ondersoek. Hulle het ligte tot matige beserings opgedoen. Die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en toe na ʼn nabygeleë provinsiale hospitaal vervoer,” het Meiring gesê.

Albei bestuurders is volgens Meiring nie in die ongeluk beseer nie.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.