Vrou op kleinhoewe vermoor: ‘Geen geregtigheid in dié land nie’

Jurie Steenberg by die hof. Foto: Christel Cornelissen

Terwyl honderde vroue in die Pretoriase middestad bymekaargekom het vir die #TotalShutdown-betoging om beswaar te maak teen geslagsgebaseerde geweld, was daar net ʼn klipgooi verder, in die hooggeregshof, nog geen geregtigheid vir die vermoorde Riekie Steenberg nie.

Riekie is in Junie 2016 op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift, in die noordooste van Pretoria, in ʼn aanval doodgeskiet. Haar man, Jurie Steenberg, is tydens die aanval in die nek gewond en ernstig aangerand.

Steenberg was vandag sigbaar omgekrap toe die saak teen Dolphy Sambok (45) en Karabo Ephraim Semake (25) uitgestel is. Weens ʼn moontlike botsing van belange kan die twee nie meer dieselfde regsverteenwoordiger hê nie.

Die Regshulpraad moet nou eers nóg ʼn advokaat aanstel voor die saak kan voortgaan. Die twee staan tereg op verskeie aanklagte, waaronder moord, poging tot moord en gewapende roof. ʼn Derde vermeende betrokkene is nog soek.

“Dis absoluut onaanvaarbaar en mors nou ʼn hele week. Dis net nie in belang van regspleging as sake só vertraag word nie,” het regter Bert Bam tydens die kort verrigtinge gesê. Hy sê die uitstel is ook onregverdig teenoor die slagoffer en haar familie.

Die regter wou nie ʼn bevel daaroor maak nie, maar het ʼn beroep op die Regshulpraad gedoen om dringend ʼn verteenwoordiger vir Sambok aan te stel. Hy het die beskuldigdes ook gevra om met hulle regsverteenwoordigers saam te werk sodat die saak kan voortgaan.

Dolphy Sambok (45) en Karabo Ephraim Semake (25) in die hof. 

Regter Bam het gesê hy gaan enige verdere vertragings in ʼn baie ernstige lig sien. Steenberg sê dit is net nog ʼn vertragingstaktiek van Sambok en Semake om geregtigheid te probeer ontduik.

“Ek is baie teleurgesteld en wil dié ding afhandel en dit agter my sit. Daar moet antwoorde wees vir almal wat getwyfel het oor wat daai dag gebeur het,” het Steenberg gesê.

Steenberg sê sy sakeonderneming, Jurie Pale & Lapas, ly geweldig onder die hofverrigtinge wat telkemale uitgestel word. Die saak het aanvanklik in die Cullinan-landdroshof begin, maar is keer op keer uitgestel voor dit na die hooggeregshof oorgeplaas is.

“Ek bedryf ʼn eenmansaak. Ek verloor duisende rande. Hoe moet ek werk as híér is? Ek betaal al my mense vandag, maar niemand werk nie. Dis belaglik dat belastinggeld só gemors word,” het hy oor die vertraging gesê.

Hy het al omtrent dertig keer die hofverrigtinge bygewoon, sonder dat die saak nog enige werklike wending geneem het.

Steenberg sê ook die persoonlike tol wat die gebeure steeds eis, word al hoe groter. Hy sukkel toenemend met sy gesondheid ná die aanval en worstel met die vraag oor hoekom hý oorleef het.

“Ek is klaar. Moeg. Ek het gisteraand niks geslaap nie. Daar is geen geregtigheid in dié land nie.”

Jurie en Riekie Steenberg Foto: Facebook

Steenberg sou vandag begin getuig het. Sy eerste vrou, Suna (42), is in 2010 op dieselfde kleinhoewe, óók tydens ʼn aanval, doodgeskiet. Die aanvallers het ook op Jurie losgebrand, maar hy is nie gewond nie. Niemand is nog in verband met dié aanval aangekeer nie.

Ná Suna se dood het Steenberg die kleinhoewe sonder sukses probeer verkoop en hy het noodgedwonge daar aangebly.

Hy is in 2014 met Riekie getroud, maar kort voor die egpaar die kleinhoewe vir ʼn ander blyplek sou verruil, is Riekie in die aanval doodgeskiet. Steenberg sê hy lewe sedertdien met ʼn swaard oor sy kop.

Hy bly deesdae in ʼn huurhuis in Waverley in Pretoria, terwyl hy wag dat die verkooptransaksie van die gedoemde kleinhoewe afgehandel word. Steenberg sê hy verkoop die eiendom uit desperaatheid vir omtrent die helfte die waarde daarvan, net om daarvan ontslae te raak.

Hy sê hy hoop geregtigheid geskied binnekort, sodat hy elders met sy lewe kan probeer aangaan.

Die hofsaak is tot Vrydag uitgestel, maar daar sal waarskynlik eers Maandag met getuienis begin word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mrs H ·

Jou naam is nie verniet “Steenberg” nie Jurie. Dis wonderlik dat die media jou aanhaal. Jy is dalk net daardie inspirerende lig vir die wêreld en die wat deur dieselfde as jy is, net so moeg en moedeloos voel, en nie weet “hoe” om aan te gaan nie. Hulle gaan by jou sien en leer. Bly sterk asb Jurie? Jou woorde en aksies gee ander dalk net weer hoop en insig. Mense soos jy is die sout van die aarde. Wees lig wat die duister verjaag?!

lee ·

Ai, ek voel so jammer vir hom- ek dink dié emosionelewroeging in TALLE opsigte moet baie erg wees.
Ek was 16jaar terug in ‘n soortgelyke hof-sake-situasie.
Dit maak mens tot die dood toe moeg.
Niks het nog ooit verander mbt die regstelsel nie.

Elizabeth ·

Staan sterk en roep na God want deur hom sal hy jou lei.

Wian ·

Ons het vir elke swart volk hulle eie land gegee. Ons vra nou dat hulle dit vir ons ook doen want ons kan nie meer die wetteloosheid, moorde en ondergang duld nie.

Johannes ·

Stem saam! Miskien moet die Boerevolk ook begin grond terug vat – maak die ou Boere Republieke ons nuwe VOLKSTAAT!

Martie ·

Moordenaars soos die moenie toegelaat word om enige vryhede te geniet nie. Haal hulle asb uit die samelewing uit en hou hulle agter tralies.

Geen geregtigheid nie ·

Ek stem saam oom Jurie, daar is beslis GEEN GEREGTIGHEID nie! Ons ken die gevoel om keer op keer gefaal te word deur die “gereg” die mense wat veronderstel is om gereg te laat geskied maar hul is die mees onregverdigste, ongeskikte, onbekwaamste spul!! Skuus oom Jurie vir al jou pyn, mag jy gou berusting kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.