Vrou op Moorreesburg-plaas vermoor

(Foto: Discott, eie werk via Wikimedia Commons)

’n 65-jarige vrou is Dinsdag op ʼn plaas in die omgewing van Moorreesburg in die Wes-Kaap vermoor.

Volgens die polisie is Ingrid Koch en haar man, Frans (69), omstreeks 10:40 in hul woonhuis op hul plaas op die Hopefield-pad aangeval. ʼn 34-jarige man is in verband met die voorval in hegtenis geneem en sal glo in die hof verskyn sodra hy aangekla is.

“Die Moorreesburg-polisie is na die toneel ontbied waar hulle die slagoffers met steekwonde aan hul liggame aangetref het. Die vrou is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar terwyl die man na ʼn hospitaal vir behandeling geneem is.

“Die polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord,” het Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Agri Wes-Kaap het die voorval intussen in ʼn verklaring veroordeel.

“Een plaasmoord, is een te veel. Landelike veiligheid moet bo-aan die prioriteitslys wees om sodoende die veiligheid van produsente, hul werkers en gesinne te verseker.

“Daar is ʼn landelike veiligheidsplan en Agri Wes-Kaap doen ʼn beroep op alle relevante rolspelers om die landelike veiligheidsplan te implementeer,” het Jannie Strydom, hoof‑ uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, gesê.

Strydom sê landbouprodusente ervaar tans hewige druk uit verskeie oorde en dat die veiligheid van produsente, werkers en hul gesinne nie een van dié uitdagings moet wees nie.

“Ons betuig ons innige meegevoel met die slagoffer se naasbestaandes en vriende.”

Mark van Eyssen, ’n inwoner van die Paarl, het ’n emosionele video op Facebook geplaas met ʼn boodskap aan Ingrid se moordenaar(s).

“Julle mense wat vir Ingrid Koch vermoor het… Wie ookal agter hierdie plaasmoorde in ons land sit… Ek bid vir julle. Julle verstaan nie waarmee julle besig is nie,” het hy tussen sy trane deur gesê.

Die video is al meer as 5 000 keer op Van Eyssen se blad gekyk. Dit is nie duidelik hoe hy aan die Koch-egpaar verwant is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Terwyl ons ‘n terroris as minister van polisie het, sal dit nie ophou nie. Daai ou moet sy ry kry en baie vinnig ook!!! Innige simpatie met die familie en naasbestaandes en in besonder die oom en wens hom spoedige herstel toe.

WILLEM

Hoeveel meer nog?? Kan maar net bid dat die skuldiges en ook ander tot bekering sal kom en ‘n bydrae maak tot ons land i.p.v. om te vernietig.Ons leef in ‘n tyd van totale verandering, ons tree ook verskillend op MAAR God verander nooit nie. Bid: “Vergeef hulle Here want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Sheree

RIV tannie. Sover ek verstaan is tannie Ingrid Mark se skoonma. Dis bitterlik hartseer.

Renier johannes

Tyd vir op staan teen die gemors wat deur die anc gesposer word

Jannie van Niekerk

Dis ontstellend dat Malema en Cele se plaasmoordenaars nou ook die Weskaap se boere teiken.