Vrou op ongelukstoneel vir hiënabyt behandel

Argieffoto: ER24

ʼn Vrou moes Maandagmiddag per helikopter na ʼn hospitaal geneem word nadat sy ʼn ernstige bytwond aan haar arm opgedoen het toe sy glo probeer het om ʼn bakleiery tussen hiënas te beëindig.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is omstreeks 15:00 na ʼn ongelukstoneel op die R512 naby Lanseria, noord van Johannesburg, ontbied toe ʼn vragmotor van agter met ʼn ander vragmotor gebots het. Die bestuurder van een van die vragmotors het ernstige beserings opgedoen en was in die wrak van die vragmotor vasgekeer.

Volgens Meiring was paramedici en reddingsdienste op die toneel besig toe ʼn motor met ʼn vrou daarin op die toneel stilgehou het. “Sy het ʼn ernstige bytwond aan haar arm opgedoen, glo terwyl sy probeer het om twee hiënas wat baklei het uit mekaar te haal,” het hy gesê. “Meer besonderhede oor hoe dit gebeur het, is nie bekend nie.”

Times Live berig die vrou is glo ʼn hiënahanteerder en die voorval het op ʼn nabygeleë wildsplaas gebeur. Volgens die nuusagentskap is die vrou se linkerhand in die proses gedeeltelik geamputeer. Meiring het egter slegs bevestig dat die vrou se bytwonde ernstig was.

Die vrou is op die toneel behandel voordat sy per helikopter na ʼn hospitaal geneem is. Die bestuurder van die vragmotor is met meganiese toerusting uit die wrak bevry en ook op die toneel gestabiliseer voordat hy per ambulans na ʼn hospitaal gehaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marinda ·

Ai nee, hoe dom kan ñ mens weet. Dis mos nou ñ dier wat jy glad nie mee moeilikheid soek nie.

Idris ·

Terwyl sy herstel moet iemand dalk net vir haar fotos gaan wys van hienas en hasies en haar net die verskil tussen troeteldiere en wilde diere verduidelik. Baie empatie met die vrou, maar nie baie simpatie nie

Denise ·

Idris ek stem saam met jou wilde diere is nie troeteldiere nie hulle is WILD soos hulle moet wees om hulle self te beskerm daarom moet hulle wild rondhardloop en nie in hokke aangehou word nie !!!!!!!

LB ·

Ons land lewer geweldige interessante berigte op!! Klink amper ongeloofwaardig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.