Vrou op pad na begrafnis ontvoer, verkrag

Argieffoto. (Foto: JOE RAEDLE / GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

ʼn 35-jarige vrou wat Vrydag onderweg was na ʼn begrafnis in die Ga-Mashashane-nedersetting, Limpopo, is langs die pad ontvoer en deur die vermeende kapers verkrag.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, was die vrou en haar neef omstreeks 22:00 op pad na die begrafnis toe hul motor glo oorverhit het. Hulle het by die Ga-Mashashane-afrit van die pad afgetrek.

“Drie verdagtes het in ʼn rooi Toyota Tazz by die vrou en haar neef stilgehou. Hulle het voorgegee dat hulle die twee wil help,” bevestig Mojapelo.

“Nadat die verdagtes gehelp het om die motor weer aan die gang te kry, het een van die verdagtes ʼn vuurwapen uitgeruk en op die vrou gerig. Hy het haar beveel om in die motor te klim. Hy het ook in die motor geklim en weggejaag. Die ander twee verdagtes het in die Tazz geklim en ook weggery. Die neef is langs die pad agtergelaat.”

Volgens Mojapelo het die verdagte met die gekaapte motor langs die pad weer probleme ondervind, waarna hulle moes stilhou. Hy het toe glo die vrou verkrag. Sy makkers het later daar aangekom en na bewering ook die vrou verkrag.

“Die vrou is deur beamptes van ʼn voertuigopsporingsmaatskappy gevind en na die hospitaal geneem. Die voorval is by die polisie aangemeld en ʼn soektog na die verdagtes is reeds begin.”

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het ʼn beroep gedoen op lede van die gemeenskap om die polisie te help om die verdagtes op te spoor.

Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan kapt. Martin Thema by 082 451 7155 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Word hulle gevang word Borg toegestaan
en hulle gaan maar net voort.

KB ·

En DOEN nou iets aan die saak SAPD!
Moet nou nie dat dit weer ‘n statistiek word nie.

Anel ·

Nou hoe wil die polisie hê moet hulle gehelp word om due spul op te spoor as hulle GEEN beskrywing gee nie?

AW ·

Hartseer, meer as dit moet ek my mond hou anderste sit ek in die Tronk !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.