Vrou op plaas aangeval waar man vermoor is

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

ʼn 53-jarige vrou is Vrydag op haar plaas in die Kroondal-omgewing naby Rustenburg oorval, vasgebind en beroof. Die aanval volg sowat vyf maande nadat die vrou, ʼn mediese dokter, se eggenoot, Frans Venter, in September verlede jaar op dieselfde plaas vermoor is.

Haar werksplek het by navraag aan Maroela Media gesê dat die vrou “oukei” is, en Maandag weer terug op haar pos was. Sy is ook nie ná die voorval in die hospitaal opgeneem nie. Die kliniek wou egter nie kommentaar op die voorval self lewer nie.

Volgens kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, was die vrou Vrydag omstreeks 09:50 op pad om te ry toe vyf mans haar by die hek voorgekeer het. Sy het uitgeklim om die hek oop te maak toe die verdagtes toegeslaan en vuurwapens op haar gerig het.

“Die verdagtes het haar na bewering vasgebind en terug in die voertuig gedwing,” het Tselanyane gesê.

“Hulle het haar voertuig terug na die huis bestuur waar hulle haar beveel het om die deur oop te sluit en waardevolle besittings aan hulle te oorhandig.”

Volgens die polisie het die mans vier selfone, ʼn luidspreker, juwele en klere gesteel. Hulle het die vrou vasgebind agtergelaat en in haar Volkswagen Touareg van die toneel gevlug.

“Die slagoffer het nie ernstige beserings opgedoen nie en kon haarself loswikkel om hulp te gaan soek.

“Die verdagtes is onbekend en in dié stadium steeds op vrye voet. Die ondersoek duur voort.”

Maroela Media het destyds berig dat Venter deur vier verdagtes in sy huis oorval, erg aangerand en doodgesteek is. Sy huis- en tuinwerker is ook oorrompel en met elektriese kabels vasgebind voordat die verdagtes by Venter uitgekom het.

Twee verdagtes is ná die moord in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van moord en huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Althes ·

Ek is baie bly dat sy oorleef het. Ek het respek vir mense wat nog steeds aanhou bly op hul grond nadat daar ñ moord gepleeg is.

Sê Ook Maar Net ·

Hoe klim jy uit jou kar om jou hek oop te maak as daar 5 onbekende mans staan?
Miskien is die weergawe nie korrek

E ·

Party mense het heeldag voetgangers verby hulle eiendom. So dit is soms nie snaaks om mense te sien sit en staan en loop verby die eiendom nie. Bly sy is veilig, maar die rowers nog op vrye voet.

Estelle ·

Daar gaan nie n derde kans wees nie … dit raak net te maklik.

Wynand ·

Ja en van ons regering is daar geen plan om sy landsburgers se veiligheid te verseker nie useless

Papsak ·

Dit is tyd Beki Cele moes nou gewaai het maar nee hy word gehou hy doen nie sy werk nie want hy stel in niks balang as jy my vra kan hy nie sy werk behartig soos hy moet nie want kennis ontbreek

christo ·

Lafaards, vyf teen een weerlose vrou. As Bheki Cele dit as gewone misdaad klassifiseer, sal ek wil weet of die gespuis toevallig besluit het om dieselfde dag, die plaasaanval uit te voer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.