Vrou op verjaardag deur hond aangeval

Rouleen du Plessis in die hospitaal. Foto: Verskaf.

Rouleen du Plessis, ʼn jong vrou van Pretoria, word steeds in ʼn hospitaal in dié stad behandel nadat sy meer as ʼn week gelede op haar 22ste verjaardag deur ʼn boerboel aangeval en ernstige bytwonde opgedoen het.

Pieter du Plessis, Rouleen se pa, het Woensdag aan Maroela Media gesê die voorval het op 19 Februarie omstreeks 08:00 in Daspoort in die weste van Pretoria plaasgevind. Pieter en Rouleen bestuur saam ʼn tuindienste-onderneming. Volgens Pieter het die hond aan een van hul kliënte behoort.

“Rouleen en van die werkers het by die betrokke huis in Daspoort aangekom. Die vrou van die huis het stilgehou en gesê hulle moet gou wag dat sy die hond kan toemaak. Sy het in die erf ingegaan en die hek agter haar toegemaak. Die hek het net ʼn kettinkie op,” het Du Plessis vertel.

“Die hond het na die hek toe beweeg en Rouleen het gedink sy moet liewer die hek probeer toedruk. Sy het die hek gelos toe sy sien die hond kom op die hek afgepyl, maar die hond het die hek oopgestamp en haar in die straat voor die hek aangeval.”

Hy vertel sy werkers het onmiddellik die hond met harke begin slaan en die hond se eienaar het byna bo-op die hond gaan lê om hom te probeer terughou. Die werkers het Rouleen op die bakkie probeer kry terwyl die hond steeds na haar gehap het.

“Die vrou het toe weer half bo-op hom gaan lê, maar hy het weggeruk en is dié keer agter die werkers aan. Hulle het padgegee en in die bome gespring. ʼn Buurman het ook in ʼn stadium kom help,” het Du Plessis gesê. “Hulle het naderhand vir Rouleen tot in die bakkie gekry en een van sy bestuurders het met haar gery net om weg te kom van die toneel af. Ek het hulle toe ontmoet en met haar hospitaal toe gejaag.”

Du Plessis het Rouleen na die Netcare Bougainville-hospitaal gehaas waar hulle haar gestabiliseer het en toe oorgeplaas het na die Eugène Marais-hospitaal waar sy tans behandel word.

Volgens Du Plessis is Rouleen se beserings grotendeels aan haar linkerbeen. “Sy is al vier keer teater toe geneem in nege dae. Sy is weer vandag in dat ʼn plastiese chirurg die wond kan behandel. Volgens hom sal sy nog vir minstens tien dae in die hospitaal wees. Ek sê gister vir my vriende, ek weet nie of my vrou of my dogter die meeste huil nie. Dis elke keer daardie verskriklike pyn as hulle die dooie weefsel wegsny en die wond skrop in die teater en sy kry ook nagmerries oor die hond. Maar sy is ʼn trooper, sy is sterk.”

Die boerboel wat haar aangeval het. Foto: Verskaf.

Die gapende wond aan die kant van haar been is tans met groot, growwe steke aanmekaar gewerk om die vel te probeer heg.

Du Plessis vertel verder toe hy sowat ʼn uur ná die nagmerrievoorval terug na die huis is om sy bakkie en gereedskap te kry, het die eienaar van die hond steeds gesukkel om die hond in die erf te kry. Die vrou se seun moes glo met ʼn halsband kom help.

“Ek het self ʼn gevaarlike hond gehad, ʼn bulterriër wat in Januarie vergiftig is, maar ek het hom altyd toegemaak as daar mense kom. Ons het ʼn reëling met ons kliente om hul honde toe te maak die dag as ons kom,” sê Du Plessis. “Ons het daardie dag die vrou ʼn boodskap gestuur [om te sê ons is op pad] en sy maak gewoonlik die hond toe. Sy het net hierdie dag op die snelweg vasgesit en het bietjie later by die huis gekom.”

Hy sê sy weergawe van die gebeure is hoe dit aan hom deur sy dogter en sy werkers vertel is. “Dit was ʼn sameloop van omstandighede. As sy vyf minute vroeër daar aangekom het, as my dogter-hulle tien minute later daar aangekom het….”

Die polisie kon nie onmiddellik die saak aan Maroela Media bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Janine ·

Ek stem saam jou André.
Aan die einde se die pa tog dat die vrou gewoonlik die hond vroegtydig toe maak, maar dié dag het sy op die snelweg vas gesit.
Ek is seker as daar nie mense buite haar erf gestaan het nie, sou die hond kalm gewees het en sou hy toe gemaak kon word sonder moeite.
Ek sien met my hond (nie aggressief nie) dat as hy so “opgewonde” raak, slaan sy ore toe en ignoreer hy my bevele.

Francois Joubert ·

Stem 100% saam dat dit nie net gedoen moet word, maar soms is dit ongelukkig nodig. Indien daar inteling in die hond se bloedlyn is sal die gedrag problematies wees. Indien nie, is dit natuurlike optrede om sy mense en eiendom te beskerm. Die boerboel ras is Suid Afrikaans en geteel om die skape bedags teen ‘n ondier te beskerm maar vanaand binne die huis saam met die kinders voor die kaggel te le.

sonja coetzee ·

shame jong sterkte met jou herstel proses hopelik hert hulle die hond van kamt gemaak dis nie lekker nie!!

HOND ·

Hoekom moet die hond nou weer van kant gemaak word? Ek verstaan julle mense nie. Wat se empatie het julle met diere? Daar was ‘n reeling dat die hond toegesluit word en die dame was vasgekeer in die verkeer en kon nie die hond soos gewoonlik toemaak nie . NOU MOET DIE HOND DOODGEMAAK WORD? Maak dit regtig vir jou sin? Dan kry hulle ‘n pit bull en volgende keer as die tuindienste weer kom sit hulle hom ook uit? Watter begrip het julle mense vir diere wat se natuurlike instinkte inskop en wat deur die MENSE beheer moet word . nie doodgemaak moet word nie .? Sjoe dan verwag ons simpatie en empatie van ander mense, maar kan self niks gee nie. NATUURLIK is ek baie jammer oor wat met die dame gebeur het . .dit was ‘n ongeluk .. want lees self die artikel DAAR WAS ‘n REELING en die vrou was laat .. nou moet die hond dit ontgeld!!

Landi ·

Ek voel baie jammer vir haar maar ai met die misdaad in ons land, kan mens nie anders as om sulke kwaai honde aan te hou nie. Dis is so hartseer dat sulke goed moet gebeur. Ek het al vir jare lank Rottweilers en gelukkig het so iets nog nooit met my gebeur nie. My honde word nie aggresief gemaak nie maar hulle laat nie mense toe in my erg nie en sal jou beslis aanval sou jy net inkom

Joy ·

Daardie hek wat so gaap met die ketang om sal nooit so hond kan binne hou nie.

Meraai ·

Sterkte. Dis nou nie lekker nie. Hoop ook hulle het van die hond ontslae geraak. As ‘n hond eers een keer dit doen en mense en diere links en regs byt is dit verby. Maak nie saak wat ander se nie. Boerboele is juis een van daai ras honde wat een oomblik vol liefde is en die volgende oomblik omdraai en byt. Al van ‘n paar gevalle gehoor. Ons moes ons hond uitsit omdat hy dit begin doen het.

Ouma ·

Ek stem saam. Boerboele is baie onvoorspelbaar. Ek het 2 Wolfhonde gehad. Maar ek het ‘n sterk afskorting gehad waar die honed gebêre is as mense kom kuier. Al het hulle nooit iemand gebyt nie, was ek maar eerder versigtig. Ek het nêrens gelees dat die hond uitgesit moes word nie?

Nassie ·

Ai die arme vroutjie, dis baie traumaties om so iets te beleef. Baie sterkte, word vinnig gesond! Ek hoop die hond word nie uitgesit nie, hy het bloot sy werk gedoen. Ek hoop ek kom nie in so n situasie nie, dit kan baie moeilik wees.

rollie ·

Van wanneer af is dit die werk van honde om mense te verskeur? Bied sommer jou kind aan, die hond doen mos net sy werk!!!!!!

Johan ·

Die voorval is baie sleg, maar dank Vader Rouleen leef en is nie doodgebyt nie. Desondanks die slegte gebeurtenis, dink ek die mense wat nou skree dat die hond uitgesit moet word, het of nie self honde nie of verstaan nie honde nie. Daardie hond het myns insiens normaal opgetree en net sy gebied beskerm. Moet hom asb nie uitsit nie.

Piet ·

Ek sien nie waarvan Hond praat nie, want ek gewaar geen kommentaar dat iemand die dier vankant wil maak nie. Ek sal sommer die eerste een wees wat dit se – maak vrek so gou as moontlik! Jou hond moet weet hoe lyk ‘n skelm.

Ruan ·

Ek kan nie glo daar is so baie mense wat die hond wil uit sit oor die gebeure nie. Hy het net die huis opgepas teenoor vreemde mense. Is dit nie tog juis hoekom ons honde het nie? Ja, ek kry die vroutjie baie jammer wat gebyt is, maar dis nie een van hulle skuld nie. Was dit nou n inbreker was almal bly gewees en die hond was ‘n held. Dubbelle standarde.

Joe Hall ·

So van dubbele standaarde gepraat…
Wonder ek wat jy sou sê indien dit jou dogter was, wat deur ‘n hond verskeur is.

Cassie ·

Ek het self ‘n boerboel gehad.Rommel was sy naam.My hengelmaat my vriend saam met wie ek baie liefdevolle ure saam spandeer het,maar hy het ook gebyt as jy die hek oopmaak en sommer instap.Hy verdedig net sy grondgebied en beskerm sy mense.Hierdie was ‘n fratsongeluk en ek glo dit sal nie weer gebeur nie.Moet asseblief nie die hond dood maak nie,hy kan nog ‘n held word later as hy sy mense teen ‘n aanval beskerm.

Susan ·

Dit is tragies, maar die honde sien die tuindienste as indringers. Die is regtig net ‘n frats ongeluk gewees. Die hond wou sy mamma net beskerming. Ons het 2 rustige klein hondjies en sal niemand nooit iets aandoen nie, maar wag dat daardie tuindienste kom, hulle sal die hele tyd blaf, totdat hulle uit die erf is en as een van ons by die huis is, sal die haartjies sommer regop hulle ruggies staan. Daardie grassnyers en rantsnyers maak baie lawaai en hulle assosieer dit met die mense en wil net hulle huis beskerm. Sterkte vir die eienaar van die hond, want dit was vir haar net so traumaties as dit vir die arme Rauleen was. En die arme woef, hier kry hy raas omdat hy sy mense en sy huis wil beskerm. Die eienaar kan nie verantwoordelik gehou word omdat sy in die verkeer vasgesit het nie, regtig dit was buite haar beheer. Die tuindienste kan mens verstaan is haastig, maar hulle klink baie verantwoordelik want hulle reel altyd dat die honde eers toegemaak is voordat hulle ingaan, so dit is hoekom hierdie ‘n frats ongeluk is en almal geaffekteer is deur die trauma. Sterkte

Stephan ·

Presies! Al word hondeweggesluit waneer (veral) tuindienste by n perseel opdaag en die werkers nie eers sien nie, sal hulle die werkers se reuk na die tyd optel en dit assosieer met die geraas van die grassnyers – en ander tuingereedskap – wat hul gebied binne gedring het tydens hul ‘gevangeskap’ – n hoogs traumatiese ervaring vir selfs die bes opgeleide honde. n Enkele episode sal by die hond bly. In die geval, vermoed ek, met die tuindienste wat buite die hek wag, sou daar sonder twyfel heelwat oogkontak tussen die hond en die mense wees. Dit sou die ergste ding wees wat kon gebeur. Die hond sou dit as n uitdaging sien. Geen hoeveelheid opleiding sal sy instink om aan te val beheer nie. Die hele situasie was n tragiesee sameloop van omstandighede.

Wat vir my erg is, is dat mense ( wat per definisie) bewus ( conscious) is dat hulle bewus is ( die enkele kenmerk wat ons van ander soogdiere onderskei, wat slegs bewus is), se enigste en eerste reaksie is om die hond van kant te wil maak. Nee, ek sal nie die hond doodmaak as dit my kind was nie. Dis net n teef wat so sal reageer as haar werpsel bedreig is. Staan terug en kyk na die feite! Dis tyd dat mense meer leer omtrent honde gedrag – veral in n SA waar honde meer en meer die eerste linie teen aanvallers sal wees.

stefan ·

as ek so iets moet sien gebeur , ruk ek net daar my 9mm uit en skiet die hond, om die persoon se lewe te red. al is ek BAIE lief vir diere. Die eienaar moet meer verantwoordelik wees.

rina ·

So jammer dit het gebeur maar ek is baie bly die jonge dame leef, sy sal okay wees, dit was ‘n ongelukkige insident maar asb moenie die dier doodmaak nie, wees maar net baie versigtig in die toekoms, mense het ongelukkig in vandag se tyd sulke honde nodig.

CK ·

Regtig, hoekom moet ‘n hond wat net sy omgewing en baas beskerm dood gemaak word. Ek verstaan dit nie. Dit is harseer, maar genade, hy doen net wat natuurlik na hom kom.

Ina ·

Dit is baie jammer dat haar pa, Pieter, nie die bytwonde aan Rouleen se been gedeel het nie. Dit is baie erg en gaan lelike letsels los. Rouleen is uitstekend met honde en sal altyd met die honde speel. Myne, bv, kan nie wag om uit te gaan wanneer hulle die tuindienste hoor nie. Sterkte Rouleen, wens jou vinnige beterskap toe. Layla mis jou!!!

Nel ·

Ek wonder of die hond reggemaak is? Daar is bevind dat 80% van dodelike aanvalle gewoonlik ‘n nie-reggemaakte reun is wat aanval. Wanneer ‘n hond reggemaak word verloor hy van sy territoriale instinkte, insluitende heelwat van sy territoriale aggressie.
Sterkte Rouleen.

Beheer jou dier! ·

Eienaars van sulke kwaai/wrede honde moet die dier kan beheer. Arme vrou het bo-op die hond gaan lê en hy het net na geen bevele geluister nie?
Kry die slagoffer jammer.
Ook die eienaar – moes vir haar net so n skok gewees het.
Maar kry eerder vir jou n Yorkie of Poedel as jy nie n groot hond kan beheer nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.