Vrou op Vrystaat-plaas met hamer aangerand; drie vas

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

Drie verdagtes is vasgetrek nadat ʼn vrou tydens ʼn rooftog met ʼn hamer aangerand is op ʼn plaas in die Steynsrus-omgewing in die Vrystaat.

Konst. Peter Kareli, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Dinsdag omstreeks 06:00 plaasgevind. Drie verdagtes het die 54-jarige vrou wat op die plaas werk en haar tienjarige kleinseun vasgebind en geld geëis. Die vrou is geskop en met ʼn hamer aangerand.

“Daar word beweer die vroue wat op die plaas woon het ʼn stokvel waarvoor hulle maandeliks geld bydra,” het Kareli gesê. “’n 44-jarige vrou het Maandag die vrou wat in beheer van die stokvel is genader en gevra of sy geld uit die stokvel kan leen. Daar is vir haar gesê dat dit nie moontlik sal wees nie, veral aangesien sy nie in die Steynsrus-omgewing woon nie, maar van Kroonstad afkomstig is.”

Volgens Kareli het die vrou die volgende oggend teruggekeer met twee mansfamilielede aan haar sy. Sy het die stokvel-organiseerder in haar huis oorval waar sy haar en haar kleinkind vasgebind het en haar met ʼn hamer geslaan het totdat sy vir hulle gesê het waar die stokvelgeld gebêre word. Hulle het met die geld op die vlug geslaan. Die ander werkers op die plaas het egter vinnig gereageer.

“Die Steynsrus-polisie was binne oomblikke op die toneel en kon daarin slaag om met behulp van die ander werkers op die plaas die drie verdagtes in hegtenis te neem,” het Kareli gesê. “Hulle sal binnekort in die hof verskyn op ʼn aanklag van gewapende roof.”

Die vrou is in die hospitaal opgeneem om vir haar beserings behandel te word, maar is die volgende dag weer ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Mooi so!! Dit wys ons kan die kriminele SELF vang as ons net saamwerk!!

FM ·

Mooi so. As ons mooi saamwerk, kan ons die kriminele, van watter ras ookal, maklik vang!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.