Vrou, papegaaie sterf toe woonstel brand

Die brand het Maandagoggend in dié woonstel uitgebreek (Foto: Verskaf)

’n Vrou en haar twee papegaaie is Maandag dood nadat ’n brand in ’n woonstel in Phoenix, KwaZulu-Natal, uitgebreek het.

Volgens inligting is die brand moontlik deur die vrou se kêrel gestig. Die polisie is tans op die toneel om ondersoek in te stel om sodoende agter die kap van die byl te kom.

Volgens Prem Balram, woordvoerder van die Reaction Unit South Africa (Rusa), het Rusa-lede om 09:37 rook uit ’n woonstelblok in Westham, Phoenix, sien kom, waarna die brandweer ontbied is.

“Brandbestryders is na die ’n woonstel op die derde verdieping, waar die brand uitgebreek het,” bevestig Balram.

“Ná die brand geblus is, het brandbestryders op die liggaam van ’n vrou in die woonstel afgekom. Die vrou is geïdentifiseer as ‘Jackie’. Twee African Grey-papegaaie het ook in die brand omgekom.”

Jackie het volgens inligting saam met haar 12-jarige seun en kêrel in die woonstel gewoon.

“Ooggetuies sê die kêrel het in ’n wit Volkswagen Polo laat spaander net toe die brand uitgebreek het. Hy word vermoedelik met die brand verbind.”

Balram sê Jackie se kind was glo by die skool ten tyde van die brand, maar dié inligting moet egter nog bevestig word.

Konst. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê polisielede is tans op die toneel om ondersoek in te stel.

Of ’n saak van brandstigting aanhangig gemaak gaan word, sal later bevestig kan word, het Ngcobo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mieke

So jammer vir die oorledene se kind en familie.. Baie sterkte!

Diline

Goeie genade! wat op dees aarde gaan aan in hierdie land? Skokkend hoeveel mense vermoor, verkrag en gekaap word. Polisie skitter in hulle afwesigheid reg oor die land en Cele is net betrokke by moorde van sekere ras en/of politieke verbintenisse. Verder is hy ‘n “spook” goed vir NIKS

Swerwer

Die trauma waardeur hierdie kind moes gegaan het en nou moet verwerk op sy eie, regtig, dit is hartverskeurend om te dink dat hy in sy jong lewe alleen moet worstel met sulke gru dade.

Jack

En poging tot moord?Dat n polisieman op die toneel nog nie weet wat se klag nie. Hy moet seker eers gaan uitvind.