‘Vrou persoonlik betrokke by Groblersdal-moord’, hoor hof

Simone Papapavlou Woensdag in die landdroshof in Groblersdal. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die vermoorde Raymond Papapavlou het glo nie ooghare vir sy vrou, Simone, se beweerde minnares en nou medebeskuldigde van sy moord, Patricia Ray Lee Smith, gehad nie.

Albei word nou van Papapavlou se moord aangekla.

“Hy het regtig nie van haar gehou nie,” het die ondersoekbeampte AO Debbie van Zyl Woensdag in die landdroshof in Groblersdal met die aanhoor van Simone se borgtogaansoek getuig.

Die staat meen hy het ʼn sterk saak en het Woensdagmiddag versoek dat borgtog teengestaan word.

Van Zyl is ná afloop van haar ondersoek na Raymond se moord daarvan oortuig dat Simone ʼn hand in haar man se moord gehad het en het die moord gedurende kruisondervraging as ʼn “persoonlike hit” bestempel.

“My ondersoek het bevind dat Simone op al ses aanklagte [moord, sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ongelisensieerde ammunisie en regsverydeling] verhoor moet word.

“Daar is geen ander verduideliking [vir die moord] nie.”

Dít nadat Van Zyl verlede week getuig het dat Simone en Smith vir Papapavlou wou “uithaal”, omdat hy na bewering in die pad van hul liefdesverhouding gestaan het. Die verdediging hou egter vol die vroue en Papapavlou was al drie saam in ʼn seksuele verhouding.

“Selfs al het hulle drie ʼn [verhouding] gehad, hoekom hom doodmaak?” wou Van Zyl vandag weet. “Hoekom nie net van hom skei nie? Ek het my huiswerk gedoen. Die beskuldigde [Simone] het ʼn prokureur gaan spreek oor die moontlikheid van ʼn egskeiding.”

Patricia Ray Lee Smith en Simone Papapavlou Woensdag in die landdroshof in Groblersdal. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Foto’s, soektogte op Google

Die hof het ook gehoor dat eksplisiete foto’s van Simone en Smith op Simone se selfoon gevind is. Papapavlou verskyn glo nie in die foto’s nie.

Sonja Weideman, Simone se regsverteenwoordiger, het egter aangevoer dat dié foto’s deur Papapavlou geneem is maar Van Zyl meen dit is moontlik dat die foto’s self deur die vroue geneem kon word.

Volgens ʼn huweliksooreenkoms wat die egpaar in November 2019 onderteken het, was Papapavlou ontrou deur onder meer agterdogtige soektogte op die internet.

Daar is glo vanaf Papapavlou se toestelle op Google gesoek na hoe om van jou vrou te skei terwyl jy ontrou is, waar om prostitute in die omgewing van Groblersdal en Stofberg te vind, hoe om vir jou vrou te sê jy soek ʼn tweede vrou in jou bed en hoe om vir jou vrou te sê jy soek ʼn tweede vrou.

Van Zyl het egter aangevoer dat die soektogte nie noodwendig deur Papapavlou gemaak is nie.

Van Zyl het tydens kruisondervraging daarop gewys dat Papapavlou dislekties was en vreeslik met die spelling van woorde gesukkel het. Die soektogte op Google was egter nie oortrek van spelfoute nie en Van Zyl meen dit kon nie deur Papapavlou gemaak gewees het nie.

Sy het ook daarop gewys dat Simone toegang tot haar man se selfoon gehad het.

Patricia Ray Lee Smith en Simone Papapavlou Woensdag in die landdroshof in Groblersdal. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die staat voer aan dat die huweliksooreenkoms na aanleiding van dié soektogte deur Simone opgestel is om geld uit Papapavlou te probeer kry.

Weideman ontken hierdie bewerings namens haar kliënt.

“Dit was ʼn poging deur ʼn vrou om haar huwelik te red nadat haar man ontrou was.”

Van Zyl het egter daarop gewys dat Simone en Smith na bewering reeds in ʼn verhouding was toe die ooreenkoms onderteken is.

Prokureur kap ondersoekbeampte  

Patricia Ray Lee Smith en Simone Papapavlou Woensdag in die landdroshof in Groblersdal. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Weideman meen daar is geen bewyse wat haar kliënt direk met die moord op Papapavlou verbind nie en sy het tydens slotbetoë gesê die staat het ʼn swak saak. Sy het voorts gesê die staat maak staat op omstandigheidsgetuienis, hoorsê en die ondersoekbeampte se blote mening.

Weideman beskuldig Van Zyl daarvan dat sy onbehoorlik beïnvloed word deur die oorledene se familie en bevooroordeeld is.

Volgens haar is Simone boonop geen vlugrisiko nie, omdat sy eers tien maande ná die moord in hegtenis geneem is en nooit in daardie tyd op die vlug geslaan het nie. Weideman sê haar kliënt is gedurende hierdie tyd ondervra en het vermoed dat sy in hegtenis geneem gaan word. Tog het sy sowat 100 km van Groblersdal by haar ouers in Bronkhorstspruit gebly sonder om die hasepad te kies.

Simone is boonop nie in besit van haar paspoort nie. Die paspoort is glo in ʼn kluis wat ná die moord van die moordtoneel verwyder is en intussen na Papapavlou se pa se huis in Middelburg verplaas is.

Uitspraak rakende die borgtogaansoek word Donderdag gelewer.

Smith is intussen verskoon, nadat die akte van beskuldiging aan haar beteken is om in November 2022 in die hooggeregshof te verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tanniepetoors ·

Daai prokureur beter vinnig iewers gaan kers opsteek anders gaan haar kliënt baie lank gebêre word.

SjN ·

Sluit hul saam lewenslank op, dan kan hul in veilige bewaring voortgaan met die verhouding.

Casper ·

Daar was van die begin af teveel teenstrydighede in Simone se weergawes van wat gebeur het.Steeds is dit nie duidelik met watse kaliber Simone se man geskiet is nie en met wat se kaliber Simone geskiet het nie.Ek huldig die mening dat Smith nie eers in die huis was nie maar wel op die plaas soos die selfoon rekords aandui.Ek vermoed Simone het haar man geskiet.En die inbraak gefabriseer sowel as die sogenaamde skaduwee Simone sê sy het een skoot gehoor vanaf haar man se kamer Maar hy is etlike kere geskiet.Sy het skote op die skaduwee geskiet.Of sy kan nie skiet nie of sy het glad nie geskiet nie.

Martie Smartie ·

Staat se saak klink maar wankelrig. Staat gaan baie meer nodig he in die verhoor as die OB se opinie en mening. Simone was waarskynlik slim genoeg om die aand vd moord self skote te skiet om die ontstekingsresidu op haar hande te verduidelik. Ek wonder nou of die polisie vd projektiele wat sy afgevuur het, gesoek het. As jy een of meer kon vergelyk met die projektiele wat in die oorledene se liggaam gevind is, kon jy dalk bewys dis deur dieselfde v/wapen afgevuur. As die staat kan bewys dat die besks lieg oor belangrike aspekte, het hulle tog n kans om te bewys dat Simone lieg oor wat die aand vd moord plaasgevind het. Mens neem ook aan dat Simone slim genoeg was om ‘n ander wapen te gebruik, of beweer sy die een wat sy gevuur het, is geroof van haar?

Misky ·

Hoe meer ek van diè vrou hoor en lees, hoe meer walg sy my!!

Maggies ·

Betrokke (nogals baie nou) by moord en Smith word verskoon en moet nét sorg dat sy November 2022 by die hof sal wees. Langer as ‘n jaar op vrye voet. Ek verstaan regtig nie hoe ons regstelsel werk nie. Kan iemand dalk verduidelik, asseblief?

Swerwer ·

Belaglik. Ongelukkig leef hy nie meer om sy kant van die storie te vertel nie. Dalk sou die volle waarheid dan uitgekom het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.