Vrou praat openhartig ná PE-mesaanval

Maroela Media

Anne-Marie in haar rolstoel. Foto: Maroela Media

Maroela Media het vroeër berig oor Anne-Marie Stevens (44) wat verlede jaar in Oktober verskeie keer met ʼn mes in die nek gesteek is. Haar vervreemde man, Martin Stevens (48), het hom kort hierna in verband met die aanval aan die polisie oorgegee.

Nege maande ná die aanval het Maroela Media Anne-Marie gaan besoek om te hoor hoe dit nou met haar gaan. Hierdie is haar weergawe van die gebeure.

“Waar ek vandag sit, is nie lekker nie. Hy het my ontneem van vrouwees. Ek kan nie doen wat ek wil nie. Ek is afhanklik van ander mense. Ek kon alles self doen, maar vandag kan ek nie.”

Sy woon tans saam met haar suster Charlotte White en dié se gesin en sy meen hulle doen so baie vir haar. Daar is baie mediese onkostes wat gedek moet word en Anne-Marie sê hulle doen die beste wat hulle kan, maar dat dit finansieel druk op die gesin sit. Anne-Marie bars in trane uit as sy vertel hoe haar lewe handomkeer verander het.

“My dogter het nie kans gesien vir my nie, want sy haat hom. Elke oggend as sy my doek moet kom ruil, dan vra sy ‘Mammie, hoekom?’ Ek kan nie soos normale mense ʼn badkamer gebruik nie, want ek dra nou ʼn doek soos ʼn baba.”

Anne-Marie en haar suster, Charlotte. Foto: Maroela Media

Anne-Marie en haar suster, Charlotte. Foto: Maroela Media

Haar suster Charlotte is nou verantwoordelik vir Anne-Marie se versorging en sy beaam Anne-Marie se opmerkings.

“Hy het haar van alles ontneem: Sy kan nie haar hare kam nie, sy kan nie haar hande room smeer nie en sy sal nie weer kan loop nie. Sy het verskriklike pyn. Sy was lief vir dans en sy het nooit stilgesit nie. As dit vir my so moeilik is om haar situasie te verwerk, dan wil ek nie eens weet wat sy dink nie.”

Anne-Marie het verlede jaar, ʼn paar maande voor die aanval, die huis waar sy en Martin gewoon het, vir goed verlaat. Sy het by ʼn vriendin in Port Elizabeth gaan woon en sy vertel hoe Martin haar nie met rus wou laat nie en hoe hy haar probeer kontak het.

“Hy het nooit opgehou nie – Facebook-boodskappe, WhatsApp en deur middel van vriendinne. Hy het selfs my suster gebel toe ek by haar in Pretoria gekuier het. Hy het haar gesoebat, gesê hy sal vir haar ʼn motorvoertuig koop as sy my net vir hom sal teruggee.”

Anne-Marie sê Martin het ook vir verskeie mense geld aangebied om haar weer aan hom terug te besorg.

Hy was goed vir my en ons was lief vir mekaar. Ek moet jok as ek sê ek was nie vir hom lief nie. Maar as ek vandag na myself kyk dan wonder ek waar daardie liefde nou is? Hy wou my lewe van my af wegneem, maar hy het dit nie reggekry nie.

Anne-Marie vertel van die verhouding wat sy en Martin gehad het.

“Hy het altyd ʼn probleem gehad as ek my hare kleur, of my naels doen – ek moes dit altyd skelm doen. Hy het gesê ek maak my mooi vir iemand anders, maar ek het dit vir hom gedoen. Ek moes lag as hy sê ek moet lag. Ek wou net weg, ek wou net weer leef.”

Koerantuitknipsels van Anne-Marie se aanval. Maroela Media

Koerantuitknipsels van Anne-Marie se aanval. Foto: Maroela Media

Anne-Marie sê sy het probeer wegbreek uit die verhouding, maar dat Martin dit nie wou aanvaar nie.

“Ek het probeer om vir hom te sê ek soek ʼn egskeiding, maar toe rand hy my aan. Ek het toe besluit om die huis te verlaat terwyl hy by die werk is, want hy sal my nie andersins toelaat om te gaan nie.”

Sy was op 6 Augustus 2015 in die hof om ʼn interdik teen hom te kry, maar dit was blykbaar nog nie bekragtig nie omdat die hof die saak bly uitstel het.

Die aand toe sy aangeval is, was Anne-Marie en haar vriendin op pad uit. Sy het in die motor gewag terwyl haar vriendin die hek oopgemaak het.

“Toe sy die hek oopstoot, toe staan [Martin] daar met ʼn blou baadjie met die kappie op sy kop. Toe ek weer sien toe is hy aan die bestuurderskant van die kar. Ek het uitgespring met pepersproei in my hand. Ek het net twee opsies gehad – of ek hardloop op met die trappe of af in die straat. Hy het om die kar gehardloop en my gegryp. Hy het my aan die hare beetgekry en ek het vir hom gesê hy maak my seer. My vriendin het om hulp geskree – ek het ook geskree want daar was iemand in die straat wat gestaan en kyk het.”

Anne-Marie sê sy het nie besef Martin is besig om haar met ʼn mes te steek nie en dit was eers toe sy haar vriendin se gil hoor, dat sy besef het sy is ernstig beseer.

“Ek het net gehoor toe my vriendin skree ‘Kom help, kom help, hy steek vir Anna’. Ek het niks gevoel nie. My visie was weg, daar was net ʼn wit lig wat ek gesien het, maar toe ek val toe kry ek my visie terug. Ek het weer my vriendin hoor skree: ‘Anna is dood!’

Maroela Media

Foto: Maroela Media

“Toe sy naderkom toe sê ek vir haar ek is nie dood nie, maar ek kan maar gaan – die Here kan my maar kom haal.”

Anne-Marie sê Martin het weggehardloop ná die aanval en dat haar vriendin hulp ontbied het. Sy vertel ook dat Martin haar vriendin gekontak het direk ná die aanval.

“Hy het vir haar gevra: ‘Is my vrou oukei? Is sy nie dood nie?’ Die polisie was reeds daar en sy het die foon vir die polisie geneem en gesê hy is op die foon. Hulle het hulle nie veel gesteur nie.”

Sy is toe in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas.

“Soos jy kan sien, hang hier ʼn kruis om my nek. Die Here het my gered daardie aand. Ek het daar op die grond gelê en gesê die Here kan my maar kom haal, maar Hy het nie. Ek glo ek is nog hier vir ʼn rede.”

Anne-Marie sê sy is met tye moedeloos en hartseer, maar dat sy dankbaar is vir die ondersteuning wat sy van vriende en familie ontvang en dat sy nooit sal moed opgee nie.

“Hy het dalk alles van my ontneem, maar hy het nie my siel gevat nie.”

*Martin Stevens het reeds in die hof verskyn op ʼn aanklag van poging tot moord, maar hy is nog nie gevra om te pleit nie. Stevens is in April na die Fort England psigiatriese hospitaal verwys vir sielkundige evaluering. Die hofsaak duur voort. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pops ·

En aan Anne-Marie, mag daar altyd hoop en vrede in jou hart bly, al is dit nie vir die aanvaller en jou hopelik eks-man nie, maar terwille van jouself. Ek is baie bly jy het ‘n suster wat na jou omsien en jou belange op die hart dra. Hulle is min en yl gesaai. Baie sterkte op jou pad vorentoe.

Liena ·

Anne-Marie, jy is ‘n dapper vrou, sterkte aan jou en ek glo ons Jesus het nog ‘n groot plan vir jou, dit is hoekom Hy jou gespaar het, jy gaan nog baie hoogtes bereik. Charlotte jy is ‘n merkwaardige vrou, en soos ons leser noem: hulle is min en yl gesaai, sterkte vir jul op jul pad vorentoe.

Chatlotte ·

Dankie Liena ,Malinda,Wat-ek-lees en ieder en elk Se gebede en omgee.Engele is nie net in die Hemel nie ek weet daar is Engele daarbuite ook.Dit is nie Altyd maklik nie,maar ek Glo God sal n uitweg gee.Ek Glo nog in wonderwerke.Dankie weereens vir julle omgee………

MALINDA ·

Jis jy weet, dit is om van naar te word……..Jaloesie wat dit doen. Jaloesie is n siekte. shame nou moet jy psigiattiese sielkundige evaluering kry. Dank die Heer dat daar iemand is om na haar om te sien en dat sy asem haal. sterkte Anne-Marie.

elize ·

Wat noem n mens so n iets.n mens.n dier.nee nie een van die twee nie.net n vuilgoed. Anne Marie sterkte en dankie aan jou sus wat met soveel liefde na jou kyk. Geregtigheid sal geskied.

Wat-ek-lees ·

Wat ek lees is skokkend. Die vuilgoed moet vir ewig gebêre word. Jaloesie is ‘n vloek van ‘n ding. Aan die einde van my vrou se lewe het sy ook doeke gedra en ek dra eerstehandse kennis van die afbrekende gevolge daarvan. Om so ‘n persoon te hanteer wat nie meer kan loop is fisies en geestelik uitputtend. My hart gaan uit na julle almal wat haar ook bystaan asook natuurlik na haarself. Ek het nie woorde oor wat ek met hom sou wou doen maar die Here se genade is groter as dit.

Michelle ·

Dis so bitter hartseer dat haar eie dogter nie vir haar kans sien nie…skaam jou! Dank die Here vir n suster soos joune. Sterkte vir julle altwee??

Marianne ·

Moenie haar arme dogter verkwalik nie, wat seker ook deur diep waters is as gevolg van hierdie tragedie. Dieper as wat ons ons kan indink! Sterkte aan almal wat hierdeur geraak word, dit is verskriklik.

J ·

Hy moet lewenslank kry en al sy besittings moet verkoop word sodat sy versorging kan bekostig. Nog n Modimole Monster!!@

Desiree ·

Jy is n baie dapper vrou. En sterker as wat jy dink. Jesus het jou nog nodig hier. Daar is soveel vroue daar buite wat in dieselfde bootjie is en dan is daar die wat die gevaartekens sien en niks kan doen nie. Jy is n inspirasie vir hierdie vroue. Baie sterkte met jou pad vorentoe en mag jy nog baie lewens aanraak met jou lewens verhaal en die vroue help om uit so n lewe te kom voor dit te laat is. Jy het n baie goeie suster wat so mooi na jou kyk. My hart gaan uit na julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.