Vrou raakgery toe sy ongelukstoneel afneem

Argieffoto: Netcare 911

Argieffoto: Netcare 911

ʼn Vrou wat op die N2 naby Mtunzini in KwaZulu-Natal foto’s van ʼn ongelukstoneel wou neem waarin sy self betrokke was, is dood toe sy deur ʼn verbygaande motor raakgery is.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die vrou se motor het Woensdag in reënweer die pad verlaat en teen die versperrings langs die pad gebots. Volgens ooggetuies het sy uitgeklim om die skade gade te slaan en was besig om foto’s van die ongeluk te neem toe ʼn verbygaande motor ook die pad verlaat het en haar getref het.

Volgens Botha was paramedici kort daarna op die toneel en het hulle probeer om die vrou te stabiliseer. Sy het egter op die toneel aan haar beserings beswyk.

Die bestuurder van die ander motor het slegs geringe beserings opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Spoed ·

Die verbygaande motor moes besef het dat daar stadiger gery moet word oor wat reeds gebeur het. Maar nee, dit sal mos nie met my gebeur. Ook ek het al geskaats op ‘n dam water in die pad en jy beweeg stuurloos voort in die rigting van die momentum van die voertuig. Ek het skaars 70 km/h gery by die ingang van Springs vanaf Devon op die ou pad. Ry maar stadig op ‘n nat pad veral aan die begin van die reënseisoen waar die pad uiters glibberig is a.g.v. olie ens. op die oppervlakte.
“Rather be late than ‘The late’.”

Sandra ·

Ek het met splinternuwe bande eendag op ‘n reëndag amper voor ‘n Taxi ingegly toe ek die rem trap. Baie stadig gery want die lig was oranje. Gelukkig het hy teenwoordigheid van gees behou, en my kar toegelaat om voor hom in te gly. Ek het onmiddellik my nuwe bande teruggeneem en aangedring om dit met ‘n ander sort te vervang. Verkeerde bande kan jou lewe kos.

Adoons ·

Die eerse ding wat jy doen nadat jy in ‘n ongeluk betrokke was, is om so gou as moontlik jouself en jou geliefdes na ‘n veilige plek te verskuif. Die volgende bestuurder wat teen 120 km/h aangejaag kom weet nie dat jy in ‘n ongeluk was nie, en verwag ook nie dat jy in die middel van die pad gaan staan om die skade te betrag nie.

Asjas ·

My laaste ongeluk (nat pad, olie) het my kar ongelukkig in die middel van die pad tot stilstand laat kom. Skade was so erg die kar kon nerens heen ry of stoot nie. Moes wag vir insleep dienste. Baie dankie aan al die mansmense in hul groot bakkies wat daar verby gejaag het (60km/h zone). Die een padvark het selfs of my geskree om my kar uit die pad te kry voor ek nog ‘n ongeluk veroorsaak! P.S. Die ongeluk was nie my skuld nie, ek was maar net ‘n ander roekelose bestuurder se slagoffer maar kon nie betyds stop agv van swaar reen en diesel op die pad. Mense is deesdae vreeslik ongeduldig met mekaar en kan nie wag om op ander te skree of te kritiseer of frustrasies uit te haal nie. Jy weet nie wat om die draai vir jou wag nie. Kalmeer en behandel jou medemens met respek en jy sal dieselfde ontvang.

D. ·

Kan jul nie lees dat daar staan die tweede motor het ook die pad verlaat, naamlik ook gegly dalk, en haar getref nie??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.