Vrou red man ná weerlig hom slaan

Foto: Pixabay

Foto: Pixabay

ʼn Egpaar van Johannesburg, wat met verlof in KwaZulu-Natal was om hul huweliksherdenking te vier, het ʼn noue ontkoming gehad nadat die man deur weerlig raakgeslaan is.

Volgens Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, was die egpaar by ʼn vakansieoord in Bergville en het Sondagmiddag ʼn ent gaan ry nadat dit gereën het. Die egpaar het later stilgehou om die natuurskoon te bewonder.

“Die man het uit die motor geklim om ʼn foto te neem. Volgens die vrou het haar man aan die bestuurderskant van die motor gestaan. Sy was besig met haar selfoon toe sy ʼn oordonderende slag gehoor het.”

Volgens Vermaak het die vrou onmiddellik opgekyk, maar kon nie haar man sien nie. “Sy het dadelik uit die motor geklim en haar man bewusteloos op die grond langs die motor aangetref.”

Die 56-jarige man het brandwonde aan sy linkerskouer en nek opgedoen. “Volgens sy vrou was die bokant van sy T-hemp aan flarde geruk. Sy het onmiddellik die personeel van die vakansieoord waar hulle gebly het, gebel en hulle gevra om ʼn ambulans te ontbied.”

Die vrou het noodhulp op haar man begin toepas nadat sy nie ʼn polsslag kon vind nie. “Terwyl sy noodhulp toegepas het, het ʼn minibustaxi verbygery. Die taxi het stilgehou. ʼn Vrou het uitgeklim en gesê sy is ʼn verpleegster en dat sy kan help. Hulle het saam noodhulp op die man toegepas. Volgens die man se vrou het nog mense uit die taxi geklim en begin sing en bid.”

Vermaak het gesê die man het kort voor paramedici se aankoms op die toneel sy bewussyn herwin. “Met paramedici se aankoms op die toneel het die man in die motor gesit. Hy het gesê hy is naar en kan niks hoor nie. Paramedici het hom behandel voordat hy na ʼn hospitaal in Ladysmith gehaas is vir verdere mediese behandeling.”

Volgens Vermaak was daar ʼn duik in die motor se dak, vermoedelik weens die slag. “Die vrou het gesê hulle sou Maandag terugkeer na Johannesburg. Die man is tans in ʼn stabiele toestand in die hospitaal waar hy toetse ondergaan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elizabeth ·

Wat n ervaring!…welgedaan aan sy vrou wat vinnig opgetree het..dan n wonderlike verhaal van die taxi wat gestop het en die verpleegster wat haar eed nagekom het..ook aan die res vd insittendes wat gebid het en ons Hemelse Vader wat gebede verhoor en lewens red..dis nou n positiewe noot om die dag op te begin….hierop kan mens voortbou..sterkte aan die gelukkige man wat dit oorleef het.

Retha ·

Wonderlike verhaal-maak mens sommer warm om die hart! Julle, so KAN ons ‘n nasie in hierdie pragtige land van ons bou!!

Gesiggie ·

So bly dat die vrou haar man kon bystaan en red, jammer dat so n uitstappie wat eintlik wonderlik moes wees, so moes eindig” so baie Dankbaar vir die Engel van n vrou wat met die Taxi gery het, was net daar op die regte tyd en plek…wonderlikke einde”’mag hy gou hertel.

Anton ·

Hierdie storie, alhoewel met trauma as katalisator, laat my nog in Suid-Afrika glo. Welgedaan aan die vrou en die verpleegster wat “toevallig” op die regte tyd daar was asook aan die insittendes wat ‘n ondersteunende hand uitgereik het! Sterkte en spoedige herstel.

Eliza-beth ·

Wat ‘n lekker storie om te lees- ek praat nou van die gedeelte oor die hulp van mense in die taxi! Sterkte en volkome beterskap vir die man.

Griki ·

Ek is nou die ene hoendervleis. Die vrou wat noodhulp toepas, die taxi wat stop, ‘n verpleegster wat uitklim en help en dan sing en bid die res van die mense vir hierdie vreemdeling. Daar is waarlik sommer nog baie hoop vir ons land en al sy mense. Dis nie die meerderheid mense wat nie goed is nie, dis net die minder goeies wat die nuus haal.

Wouter ·

Het enige een van julle wat hier kommentaar gelewer het dalk gedink dat die taxi nie toevallig daar verby gery het nie maar dat n hoër hand dit so beplan het.
Dit is n storie wat nog lank onthou en vertel gaan word van almal wat n wonderwerk sien gebeur het.

Ruby ·

Kyk, ek glo nie aan toeval nie maar aan ‘n Lewende God.

Wat ‘n mooi prentjie moes dit nie gewees het met die groepie sing en biddende mense!

So kan ons mekaar se kultuur respekteer en waardeer.

Anoniem ·

En so vind ek toe uit vandag dat die man ‘n oud kollega en vriend is. Hy doen genadiglik baie goed en is tans in ‘n Johannesburg Hospitaal vir verdere behandeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.