Vrou reg voor jong Voortrekkers vermoor

Sekuriteit en die polisie op die skiettoneel (Foto: Verskaf)

Jong Voortrekkers van die Sytze Wierda-kommando is erg getraumatiseerd nadat ʼn vrou reg voor die negejarige lede en hul leiers doodgeskiet is.

Die vrou is Maandagmiddag omstreeks 17:30 in haar motor voor ʼn huis op die hoek van Koedoe- en Friederichestraat in Wierdapark, Centurion, geskiet. Die Voortrekkerterrein is oorkant dié huis geleë.

Die kommando se Penkoppe (seuns), Drawwertjies (dogters) en hul offisiere was besig met aktiwiteite buite op die grasperk by die Voortrekkersentrum. Volgens ʼn offisier, wat anoniem wil bly, het ʼn groep negejariges op die grasperk by die heining langs die straat gesit.

“Ons was besig om die groep te leer om knope te bind toe daar ʼn motor in die straat langs die heining stilhou. Dit was vreemd dat die motor sommer in die straat stilgehou het,” vertel die offisier.

“ʼn Silwerkleurige motor het by die oprit van die huis oorkant ons heining ingetrek. Iemand het uit die motor in die straat geklim en na die silwerkleurige motor geloop. Die volgende oomblik het ons harde skote gehoor. Toe ek die koeëldoppies sien spat, besef ek dis ʼn skietery wat voor ons afspeel.”

Die offisier se man, wat ook ʼn offisier van die kommando is en wat ook anoniem wil bly, het die kinders dadelik beveel om op die grond te val toe die skote begin klap.

Volgens die offisier het een van die Drawwertjies langs die heining gesien hoe die persoon wat na die silwerkleurige motor loop ʼn vrou in dié motor skiet.

“Die dogtertjie het gesê sy kan sien hoe die tannie geskiet word. Sy het dadelik gevra of die tannie oukei is.”

Die offisier vertel die skieter het ná die voorval terug na die motor in die straat geloop. Hy het in die passasierskant geklim en die motor het weggery.

“Die silwerkleurige motor het agteruit beweeg, in die straat getol en die huis se grensmuur getref. Dit het gelyk of die motor buite beheer is.”

Ná die skietery het die offisiere die Penkoppe en Drawwertjies na die saal op die terrein gelei.

“My man het na die vrou in die silwerkleurige motor gehardloop om te kyk hoe hy kan help. Hy het haar pols gevoel, en geen hartklop gevind nie.”

Volgens Jaco Havenga, kommandoleier van die Sytze Wierda-kommando, het al die offisiere mooi kopgehou en vinnig opgetree om die kinders na veiligheid te neem.

“Ons is dankbaar almal het ongedeerd van die voorval afgekom. Dinge kon so maklik skeefgeloop het,” sê Havenga.

Volgens Havenga is die kinders erg getraumatiseerd en sal die nodige berading vir hulle gereël word.

“Die ouers is dadelik ná die voorval in kennis gestel om hul kinders te kom haal. Ons het mooi met die ouers ook gesels en verseker ons sal alles in ons vermoë doen om die trauma te verwerk sodat daar nie langtermynletsels gelaat word nie.”

Volgens die offisier het die Here die kinders die hele tyd in sy hand bewaar.

“Die persoon wat geskiet het, het ons gesien, maar niks gedoen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Althes

Sjoe dit klink soos ñ sluipmoord. My innige simpatie aan haar naasbestaandes.

Trotse Boervrou

Anargie…. Hoed, jou maaksel van ‘n land is buite beheer en jy praat en praat en praat net.

Renier

I daar meer inligting rakende die vrou wat geskiet is?

Aanhouer

Het hulle nie ň beskrywing van die moordenaar gegee nie? Hoe tragies!

Johann

Bou brûe, sal alles oplos….