Vrou ryg medaljes in ná ma nier skenk

Suretha Campher by die World Transplant Games in Spanje (Foto: Verskaf)

Nadat haar toekoms in atletiek wankelrig gelyk het toe sy ses jaar gelede met algehele nierversaking gediagnoseer is, het Suretha Campher (30) van Middelburg in Mpumalanga onlangs vier medaljes ingeryg tydens haar deelname aan vanjaar se World Transplant Games in Spanje.

Dié byeenkoms, soortgelyk aan die Olimpiese Spele, word jaarliks gehou vir atlete wat lewensreddende orgaanoorplantings gekry het.

Campher het tydens dié spele ʼn goue medalje in verspring, twee silwermedaljes in die 100 m- en 200 m-naelloop en ʼn bronsmedalje in aflos verower.

Sy vertel sy het ses jaar gelede by die dood omgedraai toe sy, danksy haar ma, ʼn noodnieroorplanting kon kry. Dokters het gesê haar liggaam het geen nierfunksie oor nie en dat dialise net vir ʼn kort tydperk ʼn oplossing sou wees.

“My lewe is daardie tyd deur my ma gered, iets waarvoor ek altyd dankbaar sal wees. Dit het my toegelaat om vanjaar vir die derde keer deel te neem. Ek voel baie bevoorreg,” sê sy.

Tydens haar vorige twee deelnames het sy altesaam vier goue en drie silwermedaljes ingepalm.

Campher is intussen ook as die enigste ambassadeur van Afrika vir die World Transplant Games se Fit for life-veldtog aangewys. “Dié veldtog beoog om mense wat pas ʼn oorplanting gehad het, te help om weer fiks te word of net op die been te kom en weer in beheer van hul eie lewe te kom,” vertel sy.

Drie ander ambassadeurs is ook onlangs aangewys.

Die atleet se man, Cedric, het intussen haar afrigter geword. Die egpaar het op 16 Junie afgehaak en het ʼn week langer in Spanje gebly vir hul wittebrood. “Dis net oor hy so kwaai is dat hy my afrigter is!” terg sy. “Maar ek is dankbaar dat ek ʼn platform het om so ʼn belangrike boodskap te versprei.”

Lees meer oor die World Transplant Games op hul webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

AmY ·

Wat ‘n voorbeeld vir ons almal. Baie geluk en baie sterkte vir die toekoms.

Basson ·

Geluk, welgedaan! :)

(Kyk dalk ook na www,lovelifegiftlive.co.za)

wraggies ·

Fantastiese prestasie, veels geluk en alles van die beste vorentoe!

Trishke ·

Sura-mens! Jy is ‘n inspirasie vir so baie mense. Well done!

Monese Minnie ·

Sura.. Jy is so inspirasie vir ons almal! Ek onthou ses jaar terug hoe moeilik dinge was en hoe geskok ons almal was om te hoor waardeur jy moes gaan. Ons is almal so bly dat jy nie in sak en as gaan sit het nie, maar eerder die lewe gegryp het en n massiewe sukses van alles maak. Lief vir jou my Sura!!

Mike ·

veels geluk julle is wonderlik,hoop iemand gaan ook eendag met my organe iets wen……

LB S ·

Wat ‘n pragtige vrou, alle sukses en voorspoed en duisend dankies vir jou Ma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.