Vrou sal skuld ontken ná kleuter se ontvoering

ʼn Skermskoot uit kringtelevisiebeeldmateriaal van die vrou saam met Nefrin buite die winkel kort voordat sy glo met die seuntjie verdwyn het. Foto: Verskaf deur SAPD

Die 25-jarige vrou wat daarvan aangekla word dat sy ʼn driejarige seun van ʼn strand in Port Elizabeth ontvoer het, sal skuld op die aanklagte teen haar ontken.

Megan Diedericks het Dinsdag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn in verband met die ontvoering van Nefrin Roberts. Nefrin is verlede week glo ontvoer van ʼn strand in Somerstrand toe hy saam met sy ouma vir sy ma gewag het.

Nefrin se ouma beweer ʼn vrou wat haarself as Megan geïdentifiseer het, het met haar begin gesels en hulle het saam op die strand gekuier. Later het Megan na ʼn winkel gestap om sigarette te koop en vir Nefrin saam met haar gevat. Sy het egter nie weer teruggekeer nie.

Maroela Media het vroeër berig Nefrin is Sondag by Diedericks in ʼn plakkershut in bosse langs Victoria Park-rylaan gevind. Diedericks beweer sy het met die kleuter teruggekeer nadat sy by die winkel was, maar kon nie weer sy ouma opspoor nie en het hom daarom saam met haar huis toe geneem.

Volgens kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, kon Diedericks tydens haar inhegtenisneming geen rede gee hoekom sy nie die polisie genader het toe sy nie die kind se ouma kon opspoor nie. Nefrin was honger maar ongedeerd toe hy gevind is en is intussen weer met sy familie herenig.

Die saak teen Diedericks is vandeesweek uitgestel omdat sy nie ʼn woonadres aan die hof kon verskaf nie. Volgens die staat is Diedericks haweloos en het sy nie ʼn vaste woonadres nie.

Die saak is ook uitgestel sodat Diedericks se misdaadrekord nagegaan kan word. Sy het reeds aangedui dat sy onskuldig sal pleit op al die aanklagte teen haar.

Sy sal weer op 16 Januarie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ulinda ·

so as jy met iemand gesels… kan jy hulle genoeg vertrou om ‘n kind
(in die eeu) saam hulle te stuur?
ek’s seker ou-tyds dan…….

VRAMANET ·

Nou weet die ouma dan nie hoe lyk die kind se ma nie????

Ellisras ·

Die ouma en Diedricks het saam op die strand gedrink. Ek weet nie wat nie maar dit is by ‘n drankwinkel gekoop. Dan glo ek die logiese denke was nie meer op diens nie.

GM ·

Kla maar die ouma ook aan. Wie laat ‘n KIND saam met iemand stap wat jy nou net ontmoet het? Ek sal die helfte van my familie nie eers met my kind vertrou nie, wat nog te sê van ‘n vreemdeling.

Essa ·

Gee maar me Diedericks kans om te verduidelik. ‘n Hawelose sal nie ‘n kind ontvoer nie – dis nog ‘n mond wat moet eet – maar sal ook nie sommer die Polisie nader nie. Miskien het die ouma elders besig geraak en moet eintlik me Diedericks bedank vir die “baby-sitting”. Net bly die seuntjie is ongedeerd ondanks sy sogenaamde versorger/s se indiskresie.

Ellie ·

Ek stem met jou saam. Dalk eerder ouma wat aangekla moet word vir kinderverwaarlosing.

Ettienne ·

Ek verstaan nie die vrou se denkwyse nie….. jy vat iemand se kind (wie jy nie ken nie). Die kind word gekry by jou woning,, en jy pleit onskuldig?

Anoniem ·

Ek persoonlik dink die Ouma moet verantwoording doen en aangekla word en dat die kind liefs nie weer onder haar uitsluitlike toesig gelaat word vir geen rede hoegenaamd nie. Dit was uiters swak oordeel en uiters onverantwoordelik. Wat kon gebeur het is, die seuntjie kon saam met die ander vrou winkel toe gegaan het, en toe die ouma begin paniekerig raak, het sy na die kind gaan soek en intussen het Diedericks heel aanvanklik teruggekeer van die winkel af en ……….. wat anders moes sy dan doen? Ek stem egter saam dat, sy moes direk polisie toe gegaan het met die kind en die saak aangemeld het, sodat hulle onmiddellik die ouers kon spoor. Maar sy het teruggekeer na haar tuiste met die kind. Ek dink half is maar ewe skuldig wat die situasie betref.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.