Vrou se as tydens rooftog gesteel

Twee motors het langs mekaar by ’n vulstasie stilgehou waarna skote skielik geklap het.(Argieffoto: pixabay)

Die polisie in Gqeberha (Port Elizabeth) het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur na vier verdagtes, ná ʼn gewapende roof wat Maandagaand by ʼn huis in die stad plaasgevind het. Die vermeende boewe het na bewering talle waardevolle items gebuit, waaronder ʼn houer met ʼn vrou se as in.

Volgens kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het die rooftog omstreeks 22:30 by ʼn huis in Kragga Kamma-weg plaasgevind. Die hoofhuis en die kothuis wat op die erf geleë is, is beroof.

“Die huurder (49) van die kothuis het buitekant gerook toe sy deur vier gewapende mans gekonfronteer is. Hulle het haar gedreig en geld geëis,” sê Janse van Rensburg.

“Hulle het die vrou in die kothuis gedwing en haar in die slaapkamer toegesluit. Hulle het verskeie huishoudelike items gesteel.”

Volgens Janse van Rensburg het die vier mans daarna die hoofhuis binnegegaan.

“Hulle het die inwoners van die huis – ʼn pa, seun, dogter en die dogter se verloofde – gedreig en ook beroof.

“Die verdagtes het selfone, gereedskap, ʼn televisie, ʼn CCTV-monitor, ’n skootrekenaar en trouring gebuit. Hulle het ook ʼn houer wat die as van die ouer man se vrou bevat, gesteel.”

Volgens Janse van Rensburg is niemand tydens die rooftog beseer nie.

“Die verdagtes is steeds op vrye voet en die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan die Kabega Park-polisie by 082 442 1017 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Mag die vlooie van ‘n duisend kamele hul behoorlik bykom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.