Vrou se hartroerende boodskap twee jaar ná ontvoering

Christo en Amanda Bothma. (Foto: Facebook)

“Koekie, dis vandag twee jaar terug wat ons die nuus gekry het dat jy ontvoer is. Ons lewens het ineengestort want ons rots, man pa, seun, broer, swaer en vriend is ontvoer.”

Só begin Amanda Bothma se boodskap aan haar man, Christo, twee jaar nadat hy oënskynlik in Burkina Faso ontvoer en gyselaar geneem is. Sy skryf verder:

“Toe kom die blye nuus: Hulle het jou gekry. Jy word vrygelaat. Net om te hoor dit was vals nuus en van voor af is ons stukkend en verpletter. Ons mis jou baie en is baie lief vir jou. Al sê hulle jy is nie meer met ons nie, hoop en glo ons maar nog dat jy lewe. Ons is lief vir jou.”

Bothma, ʼn Potchefstromer, is op 23 September 2018 saam met Kimar Akoliya, seun van die Indiese goudmynbaas Akoliya Patel, ontvoer. Christo het vir Akoliya se pa as instandhoudingsbestuurder by ʼn myn gewerk.

Twee tussengangers, die een van Niger en die ander van Mali, het in Julie verlede jaar onafhanklik van mekaar aan die noodlenigingsgroep Gift of the Givers bevestig dat Christo reeds op 19 Junie in Mali dood is. Daar was egter geen fisieke bewyse nie.

Gift of the Givers het Amanda sedert sy Christo se verdwyning probeer help met die proses om haar man, of selfs dan net sy oorskot, te probeer opspoor.

Amanda het die afgelope week gesê die organisasie sou die Mali-regering vra om ʼn doodsertifikaat vir Christo uit te reik. “Maar ek soek nie ʼn doodsertifikaat nie, want daar is nie ʼn liggaam nie. Ek soek dit nie; dit maak dít wat onwaar is, werklik,” het sy gesê.

Mali het egter ná ʼn staatsgreep vroeër vanjaar ʼn nuwe tussentydse regering. Pres. Ibrahim Boubacar Keita het landuit gevlug toe hy op 18 Augustus ontsetel is ná massabetogings teen sy bewind weens korrupsie, die wanbestuur van die ekonomie en ʼn dispuut oor verkiesings. Dit kan die administratiewe proses verder bemoeilik.

Hoewel Christo reeds twee jaar lank vermis word, is hy vir sy gesin allermins vergete.

Christo Bothma word sedert September 2018 vermis.

“Ons praat baie oor hom, oor sy lawwe sêgoed, of die kos waarvan hy hou. Op Vadersdag sit ons almal geld bymekaar en gaan eet iets saam. Hy is nie op die backburner nie, ons sal hom nooit vergeet nie,” het Amanda gesê.

Op die herdenking van sy verdwyning het sy en die kinders bymekaar gekom en Christo se gunstelingontbyt – Benedict-eiers – vir aandete gemaak. “Ons het om die tafel gesit en oor hom gesels.”

Amanda sê sy neem steeds elke dag op ʼn slag.

“Wat doen jy as jy aangaan met jou lewe en die volgende oomblik lui die foon en dis iemand wat sê hulle het hom opgespoor?

“Hy is die liefde van my lewe. Ek het daai man al lief vandat ek 18 jaar oud is. Ons is vanjaar 28 jaar lank saam en 25 jaar getroud. Met al ons ups en downs is hy steeds die liefde van my lewe. Hoe aanvaar ek wat gebeur het? Ek kan nie, daar is nie ʼn manier nie.

“Ek sal van hom praat tot ek die dag doodgaan,” het sy gesê.

Amanda sê sy glo steeds iemand weet wat van Christo geword het.

“Iewers is iemand wat iets weet. Iemand moet hom vir my kan gaan haal. En as hy dood is, wil ek hom naby my begrawe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Claudette ·

Dis baie hartseer, ek so ook glo en vertrou niks on moontlik nie. Sterkte Amanda en jou familie.

Strandloper ·

Ai tog dit is so tragies. Klou vas aan die mooi tye dit gee mens krag om aan te gaan.

Emmerentia ·

Al loop n leuen hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel – n ou gesegde.

Een of ander tyd gaan die waarheid uitkom. Ek bid dat geloof en geduld julle tot dan met julle sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.