Vrou se liggaam langs skool ontdek

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Calvin Ma/Unsplash)

Die liggaam van ʼn jong vrou is vroeg Donderdagoggend langs ʼn skool in Mpumalanga ontdek toe ʼn groep skoolkinders op haar afgekom het.

ʼn 25-jarige man, wat glo die pa van die slagoffer se kind is, is sedertdien in verband met die moord in hegtenis geneem.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê leerders van ʼn skool in Calcutta in Bosbokrand het die polisie ontbied nadat hulle iets in die bosse naby hul skool gewaar het.

“Beamptes is na die Chayaza-hoërskool toe waar hulle die liggaam van ʼn 20-jarige vrou aangetref het. Haar klere was met bloed bevlek. Mediese personeel het haar op die toneel dood verklaar.”

ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak nadat die polisie vuilspel vermoed het.

Die polisieondersoek het beamptes tot by die deur van die slagoffer se tweejarige kind se pa gelei. Die man is in hegtenis geneem nadat bloedbevlekte klere in sy besit gevind is.

Daar is ook beslag gelê op ʼn item wat glo die moordwapen kan wees.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Mkhuhlu-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die inhegtenisneming verwelkom, maar haar kommer uitgespreek oor die tempo waarteen vroue deur hul lewensmaats vermoor of mishandel word.

“Dit is baie hartseer wanneer ma’s so wreed vermoor word en dan hul kleingoed agtergelaat. Hierdie tendens moet dadelik tot ʼn einde kom,” sê sy.

“Ek hoop dat geregtigheid in hierdie geval sal seëvier.”

Hierdie voorval volg kort nadat ʼn verpleegster Woensdag glo deur haar lewensmaat, ʼn polisiebeampte, by die Tembisa-hospitaal in Johannesburg doodgeskiet is.

Die kommissie vir geslagsgelykheid het gesê die voorval en talle ander insidente het weer eens die kollig op die uitdagings van geslagsgebaseerde geweld en geweld binne intieme verhoudings geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Misky ·

Mens hoor nooit meer van die ANC vroue liga nie. Wonder wat doen daai klomp anties deesdae terwyl hulle mede vroue so uitgemoor word.

Philip ·

Hulle eet kentucky fried chicken n bucket per lid en dan sing hulle aanmekaar as hulle die kameras gewaar.

Casper ·

Blameer covid gerieflikheidshalwe.Alles is mos covid se skuld.

Elmarie ·

Lt-Genl Manamela die provinsiale polisiekommisaris sê , en ek haal aan:”Dit is baie hartseer wanneer ma’s so wreed vermoor word en dan hul kleingoed agtergelaat. Hierdie tendens moet dadelik tot ʼn einde kom,” Wat help DIT? Leë woorde! “Dit moet dadelik tot ‘n einde kom” – vertel ons net hoe gaan JY, agbare Manamela ,help om dit te doen?

Di ·

DIT sal nooit stop nie! Hierdie lamsakkige Regering en korrupte Polisie is nie in staat om al die kriminele in die land te hanteer nie. Hulle stel ook geensins belang om iets te doen nie. Al wat hulle doen is praat, praat en nogmaals praat! Misdaad het die land letterlik OORGENEEM

domheks ·

Semakaleng Manamela – jy is nes jou prez. Praat te veel – doen te min!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.