Vrou se liggaam naby treinspoor gevind

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrou se liggaam is naby ʼn treinspoor buite Bethlehem in die Vrystaat gevind.

Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het gesê die vrou se liggaam is Saterdagmiddag gevind deur ʼn groep mans wat in die area gejag het. “Sy het ʼn bruin hoed en blou pantoffels aangehad en daar was ʼn kombers om haar lyf gebind.”

Volgens Mophiring het die vrou geen sigbare beserings gehad nie en word daar geen vuilspel in die stadium vermoed nie. ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen om die vrou se oorsaak van dood te bepaal.

Mophiring het gesê ʼn 35-jarige man is intussen in ʼn afsonderlike voorval dood nadat hy keelaf gesny is met ʼn gebreekte bierbottel in Bohlokong. Volgens Mophiring het ʼn buurman die oorledene in ʼn plas bloed aangetref en die polisie ontbied. “Roof is na bewering die motief vir die moord.” Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Volgens Mophiring is ʼn man intussen in dieselfde gebied in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn 58-jarige gestremde vrou verkrag het. Volgens Mophiring het die slagoffer die man geken aangesien hy glo vir haar hout gekap het. Die man het die vrou glo in haar kombuis verkrag.

“Hy het glo ook twee van haar tande met ʼn tang verwyder. Sy het om hulp geskree en bure het die man op heterdaad betrap. Hulle het die man in die huis toegesluit en die polisie ontbied,” het Mophiring gesê.

Volgens Mophiring is die man onlangs uit die tronk vrygelaat nadat hy ʼn vonnis van sewe jaar uitgedien het vir verkragting. Die 26-jarige verdagte sal Maandag in die Bethlehem-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

antjie ·

7 jaar in die tronk…. kom uit en verkrag maar weer… doe blixems moet toegesluit word en die sleutels
moet in die see gegooi word… uitvaagsel…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.