Die liggaam van ‘n vrou is Maandag in ‘n veld naby die Despatch-polisiestasie in Port Elizabeth gevind.
Ao. Basil Seekoei, woordvoerder van die polisie, sê die oorledene was glo in haar 30’s. “’n Veiligheidswag het skote gehoor naby sy werksplek en na verdere ondersoek die vrou se liggaam in die veld sien lê.”
Seekoei sê die vrou is twee keer in die kop geskiet. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.
Volgens Seekoei het die veiligheidswag gesien hoe ‘n bruin Isuzu-bakkie met ‘n blou streep aan die kant van die toneel weggejaag het. Die polisie soek intussen na die bestuurder van die bakkie.