Vrou se long nog vol bloed ná weermaglid haar glo skiet

Carine van Staden en Johan Harmse. Foto: Via Facebook

Carine van Staden (28) het steeds bloed in haar long nadat sy in Augustus in die noorde van Pretoria ten aanskoue van haar verloofde glo deur ʼn weermaglid op ʼn kort afstand in haar bors geskiet is.

Van Staden moes op 15 September weer ʼn operasie in die George Mukhari-hospitaal ondergaan om van die bloed wat ná die skietvoorval in haar long opgebou het, ontslae te raak.

Sy is daarna ontslaan om by haar huis in Daspoort, in die weste van die stad, aan te sterk. Sy is afhanklik van ʼn staatshospitaal aangesien sy nie ʼn mediese fonds het nie.

“Sy is Maandag terug hospitaal toe vir ʼn opvolgbesoek en om weer X-strale van haar long te laat neem. Dit lyk nog maar dieselfde, maar haar dokter was tevrede en het gesê dit is nie in dié stadium nodig om weer ʼn operasie uit te voer nie. Hulle gaan oor ʼn maand weer toetse op haar doen waarna hulle oor verdere behandeling sal besluit,” het Johan van Staden, Carine se pa, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê Carine ervaar nog baie pyn. “Sy is uiters gefrustreerd. Sy kan nie werk nie en word vinnig moeg want net die helfte van haar long werk. Sy is nou besig met fisioterapie en ons hoop en bid net dat sy gou ten volle sal herstel.”

Van Staden het gesê die gesin en Carin se verloofde, Johan Harmse (29), fokus nou net op Donderdag wanneer die weermaglid vir die eerste keer ná die skietvoorval op 10 Augustus naby Wonderboom Junction, in die Pretoria Noord-landdroshof gaan verskyn op aanklag van poging tot moord.

Maroela Media het vroeër berig Carine en Harmse was die dag van die skietery omstreeks 18:00 van Daspoort op Harmse se motorfiets op pad na vriende in Montana toe ʼn amptelike weermagvoertuig die motorfiets skrams getref en weggery het. Die paartjie het hom agterna gesit en by ʼn verkeerslig voorgekeer, waarna hy Carine glo op ʼn kort afstand in haar linkerbors geskiet het. Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Harmse, wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geword en hy weggery het.

Die weermaglid, vermoedelik ʼn motorbestuurder vir ʼn generaal, het glo aan die Sinoville-polisie gesê hy het gemeen hy word gekaap.

Aanvanklik is ʼn klag van die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare gebied asook roekelose en nalatige bestuur teen die weermaglid aanhangig gemaak voordat hy op waarskuwing vrygelaat is. Die saak is intussen na poging tot moord verander en die man het in September kennis van die Nasionale Vervolgingsgesag ontvang om in die hof te verskyn. Hy is nooit in hegtenis geneem nie.

“Ek hoop inwoners kom ondersteun ons Donderdag by die hof om te betoog dat daar daadwerklik teen die man opgetree word. Lyk my dit is al wat werk. Ons hoop dat die regstelsel regverdig sal optree en dat reg sal geskied,” het Van Staden gesê. Van Staden het aangedui dat Carine nie die hofverrigtinge gaan bywoon nie.

Die Vryheidsfront Plus asook die burgerregte organisasie AfriForum het in Augustus gesê dit is kommerwekkend dat die strafregstelsel tans in sommige gevalle met dubbele standaarde toegepas word wat rassisme skep en bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jakes ·

Ai, maar dit gaan te lekker. Die dame moes na ‘n privaat hospitaal geneem word. Die Staat moet sorg. Ek hoop sy sit ‘n GROOT eis in teen die Weermag. Sterkte.

Loeis ·

Nee! Ek hoop sy stel ‘n groot eis teen daai weermaglid in sy persoonlike hoedanigheid in! Vir alle ongerief, verlies aan inkomste en mediese koste wat mag kom. Laat hulle op sy pensioen beslag le, eerder as wat ons belasting geld dit betaal.

Sad ·

Vreeslik hartseer en baie sterkte vir jou . Mag die Here jou volkome aanraak en die herstel spoedig wees

Lizl ·

Ek voel baie jammer vir hulle….. die pes gaan skotvry kom!
My raad aan die paartjie :Vat al julle geld, al moet julle leen, en kry n goeie advokaat en ry die Staat en Weermag. Mag julle stinkryk hieruit stap !

Pensioenaris ·

Sy moet verseker ‘n groot eis teen die weermag instel. Sy sit met die pyn en ongerief en kan op die oomblik ook nie werk nie. Vorentoe kan dit net erger word en hoop ek van harte dat sy goeie advies rakende haar eis ontvang. Sterkte vir haar!

Buitestander ·

Sy moet die weermag en bestuurder gesamlike en afsondelik die meerman en weermag dagvaar. Anders gaan sy niks kru nie.
Krineneel gaan die weerman niks oorkom nie.

Anoniem ·

Klaar blyklik uit hierdie storie en die storie van Benson en soveel ander, is daar nie meer geregtigheid vir ons mense in hierdie land nie. Waar is die waarborge wat aan ons belowe is, die wigte en teenwigte!?

Tinka ·

Ai dink baie aan jou en hoop dinge werk uit. Hoop jy word gou gesond

Callie ·

Ek word uitgeskop by maroela. Al wst ek vra is dat blankes hulle more by hof moet ondersteun. Asb, as blanke sfrikaners is hierdie n skeidings saak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.