Vrou se lyk gevind: Man steeds soek

Andrew Michaels. Foto: Verskaf

Andrew Michaels. Foto: Verskaf

Die polisie is steeds op soek na ʼn man van Kroonstad byna ʼn week nadat die liggaam van sy lewensmaat in ʼn vlak graf in die tuin van die paar se huis gevind is.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê Andrew Michaels (58) is soek sedert die liggaam van Martie Jordaan (56) deur die polisie ontdek is. Die polisie vermoed hy is moontlik in Durban en glo hy kan hulle bystaan in die ondersoek na die moord op Jordaan.

Volgens Thakeng is die ontdekking van Jordaan se liggaam deur verskeie vreemde gebeure voorafgegaan. “Die bure het weke gelede agtergekom dat hulle Jordaan nooit meer sien nie, maar net vir Michaels. Hulle het hom gevra, waar is Martie? Hy het telkens ʼn verduideliking gehad van waar sy is,” het hy gesê.

Thakeng het gesê Michaels het ook Jordaan se meubels en klere verkoop en aan die bure vertel dat hulle beplan om binnekort te trek.

Die bure het naderhand onraad vermoed en het die saak by die polisie aangemeld. ʼn Vermistepersoon-saak is geopen en die polisie is na die paar se huis in Kroonstad om ondersoek in te stel. Daar het hulle Jordaan se liggaam in ʼn vlak graf in die tuin aangetref met haar gesig na onder. “Haar gesig was erg ontbind en ʼn tuinvurk met bloedspatsels is naby die graf gevind,” het Thakeng gesê.

Hy het gesê ʼn nadoodse ondersoek is vandeesweek gedoen, maar die polisie wag op die uitslag daarvan voordat die oorsaak van dood bevestig kan word.

Enigiemand wat weet waar Michaels hom bevind of meer inligting oor die saak het, word versoek om kapt. Sydelle Neuhoff by 082 213 5960 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Denise ·

As dit die man is wat haar vermoor het of lat vermoor dan sal hy altyd aan die vlug bly solank hy asem haal want dit is so gemeen hoekom n ander se lewe neem wie gee jou die reg en ek gee nie om wat Martie gese het of gedoen het nie !!!!! Sy het dit nie verdien nie!!!!! Ek hoop ek is verkeerd!!!

Raymond ·

Ata!!” Nee kyk dit is maklik. Hoekom haar nie eerder skei nie lafaard

Ronel ·

Hulle was nie eers getroud nie. Het saam gebly vir 8 jaar. Die man was vroeër al in die tronk vir ander misdade. Sy parool het 2012 verval. Een woord vir die man. LAFAARD

Bel ·

Want as hy net skei sou hy nie jaar goed kon smous vir ekstra geld nie.

Rina Pretorius ·

HULLE HET NIE NODIG GEHAD OM TE SKEI NIE WANT HULLE WAS NIE GETROUD NIE, HY KON HAAR NET GESE HET OM TE PAK EN TE GAAN OF HY KON SELF GEPAK EN GEGAAN HET, NO HARD FEELING, HOEKOM HAAR GAAN DOODMAAK, DIS SO ONNODIG, MENSE MAAK ANDER MENSE TE MAKLIK DOOD OM N PUNT TE BEWYS, WAT VAN ‘N BIETJIE ANGER MANAGEMENT OM TE LEER HOE OM JOU HUMEUR TE BETEUL OF HOE. HOOP HY WORD GOU AANGEKEER

Liewe heksie ·

Ek dink sy was van plan om te trek en die sot kon dit nie hanteer nie toe is hy een van daai wat meen as ek jou nie kry nie sal niemand jou kry nie

Estelle ·

Rina Pretorius, hoekom alles in hoofletters skryf?! Dit lyk of jy vir ons skree.

Raaiskoot ·

Hoekom haar doodmaak? Om haar meubels en klere te verkoop, dis hoekom. Sy het hom waarskynlik finansieel onderhou en hom gevra om te loop, toe kry sy ‘n tuinvurk in die kop en ‘n vlak graf.

Bel ·

Dis tog onmoontlik vir hom om te ontsnap, hy moet tog n spoor, familie, vriende en so he.

jaco ·

Kyk maar mooi. Met Maroela se foto en lesers sal jul more lees hy is gevang. Ek dink hy verdien dit. Eintelik moet sulke mans wat vrouens en kids so dood en seer maak vi ons gegee word. Ek is gatvol vi sulke mense

Ronel ·

Die man is laat vanmiddag gearresteer. Sal Vrydag in die hof verskyn op Kroonstad.

Geduld ·

Dit is so maklik om iemand net dood te maak in vandag se lewe. Want hulle weet hulle gaan wegkom daarmee! Daar is geen straf nie.
Die doodstraf moet terug kom!!

sylvia ·

Ek hoop regtig dat vrouens (met of sonder kinders) wat hulle in situasies van verbale of liggaamike misbruik bevind, betyds sal vlug. Dinge gaan nie beter word nie. Net slegter tot iemand dood is. Daar is plekke soos Huis Jabes wat vrouens wat moet vlug, kan help!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.