Vrou se pad van hoop ná man se moord

Mariandra Heunis. Foto: Verskaf

Met die eerste oogopslag lyk Mariandra Heunis soos enige ander vrou. Haar opvallende blou oë en vriendelike glimlag verklap niks oor die lewensveranderende nagmerrie wat sy ʼn jaar gelede moes deurmaak nie. Ook nie oor die lang pad van genesing wat sy steeds elke dag moet stap nie.

Mariandra se man, Johann, is op 1 Oktober 2016 tydens ʼn aanval by die gesin se huis op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, voor haar oë doodgeskiet. Mariandra, wat in dié tyd swanger was, en hul drie dogtertjies het die aanval oorleef. Die egpaar se seuntjie is vyf dae ná Johann se begrafnis, op Mariandra se verjaardag, gebore.

Vroeër vanjaar het Mariandra in ʼn roerende brief van die traumatiese gebeure van daardie aand vertel. Sy het vertel hoe twee aanvallers haar, Johann en hul dogter, Mieke, in die woonkamer voor die televisie oorval het. Hoe Johann, selfs nadat hy die eerste keer geskiet is, gepleit het vir sy gesin se lewens. En toe die woorde: “Ah, just kill him, brother”, voordat die laaste skoot Johann in sy kop getref het en hy voor haar gesterf het.

Mariandra het ʼn paar dae later na die kleinhoewe teruggekeer om van haar en die kinders se klere te gaan haal en is sedertdien nooit weer terug nie. Vandag, byna ʼn jaar na daardie aand, woon die gesin in die stad en het Mariandra ʼn nuwe kleinvoet, ʼn nuwe beroep en ʼn belangrike storie om te vertel.

Mariandra Heunis saam met Mieke, Mischa, Majandré en AJ. Foto: Verskaf

“Dit gaan goed met ons,” sê sy. “Die Here het ʼn plan met ons lewens en ek glo Hy laat alles ten goede meewerk. Dit is my keuse wat ek van hierdie ding gaan maak.”

Natuurlik is daar moeiliker dae, dae wat sy van voor af platgeslaan word, sê sy. Soos die afgelope Donderdag toe sy die nadoodse ondersoekverslag van die polisie ontvang het. “Alles wat in die verslag staan, is wat ek daardie aand sien gebeur het. Maar die besonderhede daarvan, om te lees hoe seer hy gekry het … dit het my gebreek.”

Sy sê die verslag toon Johann is ses keer geskiet. Dokters meen hy moes voor die finale skoot reeds gesterf het aangesien een van die hoofslagare raakgeskiet is. “Hy was stukkend, stukkend, stukkend. Maar ek weet, maak nie saak wat die verslag sê nie, hy was nie dood tot die sneller vir die laaste keer getrek is nie. Hy het met bonatuurlike krag ʼn laaste keer opgestaan om vir ons te pleit. Ek hoop hy weet hy is ons held. Hy het letterlik al die koeëls vir ons gevat. Ons leef, want daar was niks meer koeëls vir ons oor nie,” sê sy.

ʼn Uitkenningsparade wat sy in Junie vanjaar moes doen was vir haar net so ʼn traumatiese ervaring. “Hulle berei jou nie voor op wat gaan gebeur nie. Jy weet nie wat om te verwag of wat is die reëls van so ding nie. Jy stap daar in en jý voel omtrent soos die misdadiger. Ek was van voor af getraumatiseerd omdat ek al daardie besonderhede moes herleef om te probeer onthou wat gebeur het. Dit was ʼn aaklige ervaring.”

Tot op hede is niemand nog in verband met Johann se moord aangekla nie.

Mariandra en Johann Heunis. Foto: Verskaf

ʼn Nuwe roeping

Mariandra vertel sy was voorheen voltyds ʼn ma, maar moes ná Johann se dood byna dadelik weer begin werk om finansieel vir haar kinders te kan sorg. Sy het by die Sonja Smith-begrafnisgroep aangesluit en sê sy voel asof sy uiteindelik haar roeping gevind het. “Elke persoon by wie se begrafnis ek betrokke was, laat ʼn aantal geliefdes agter. Elke een van daardie mense was iemand se Johann. Om daardie laaste bietjie liefde en respek vir mense te kan gee, is vir my ʼn ongelooflike voorreg.”

Buiten haar werk hou Mieke (7), Mischa (5), Majandré (3) en AJ (11 maande) vir Mariandra besig. “My fokus is beslis my kinders. Ek probeer om steeds vir hulle die beste moontlike lewe te skep, net soos Johann sou wou gehad het,” sê sy.

En ten spyte daarvan dat Johann nooit kans gekry het om sy seun vas te hou nie, is AJ steeds die grootste verjaardaggeskenk wat sy ooit voor kon wens, sê sy. “Hy is ʼn spieëlbeeld van sy pa. Dit is so groot seën om elke dag vir hom te kyk en sy pa in hom te sien. Soms is dit moeilik om te dink ek moet dit sonder Johann doen. Wat as hy eendag wil rugby speel? Ek weet niks van rugby af nie! Selfs om sy doeke om te ruil was aan die begin vir my moeilik – ek ken net dogtertjies.

“Party dae dink ek hoe Johann met hom sou wees, hoe baie hy sy seuntjie sou geniet het. Maar op ʼn manier maak dit my net nog liewer vir hom. AJ was die skeiding tussen die donker van daardie aand en die hoop van ons toekoms. Hy weet nie hoe groot seën hy is nie.”

Mariandra en AJ. Foto: Verskaf

Die ander kinders verwerk nog die verlies van hul pa en veral Mieke, wat die gebeure daardie aand moes meemaak, het nog baie trauma om te verwerk. Mariandra sê Mieke kry sedert die aanval berading, maar toon steeds snellers en die tekens van post-traumatiese stres. “Dit was ʼn jaar van hel vir daardie klein lyfie. Sy het nou besluit sy wil nie meer oor daardie aand praat nie. Sy sê haar lyfie brand as sy daaroor moet praat. Ek probeer haar nou leer dat sy nie oor die aand hoef te praat nie, maar sy mag maar na pappa verlang. Die twee moet geskei word van mekaar. Pappa en ons verlange na hom het niks te doen met die lelik van daardie aand nie.”

Deur dit alles het die gesin ʼn stewige ondersteuningstelsel wat help om die las so ʼn bietjie ligter te maak, sê Mariandra. “Daar is wonderlike engele in my lewe wat my bystaan en ondersteun. Maar ek dink nie iemand kan regtig verstaan wat ons deurgaan nie, omdat hulle dit nie self beleef het nie. Mense het begrip vir verlies en die afstaan van ʼn geliefde aan die dood, maar die omstandighede hiervan, daardie wreedheid, daardie vrees … mense besef nie die pad wat jy stap nie.”

Sy sê dit is daarom dat sy nou ook praatjies by kerke en ander geleenthede doen om haar storie aan mense te vertel. Sy wil nie hê Johann se dood moet tevergeefs en sinneloos wees nie. “Ek weet daar is ʼn doel vir my lewe en ek wil ander mense help deur bewusmaking te skep oor aanvalle op plase en kleinhoewes en die verwoesting en stukkende gesinne wat agterbly. Baie van hierdie gesinne word met niks gelaat ná die tyd en ek wil hulle help om weer die stukke op te tel.”

Een ding is seker, Mariandra Heunis is ʼn vegter. ʼn Vegter wat, soos sy sê, geleer het om “ʼn normale lewe in abnormale omstandighede te leef”.

“Mense sê vir jou dit raak beter met tyd. Dit is nie regtig waar nie. Hoe meer tyd verloop, hoe groter raak die verlange. God sorg vir sy kinders en ek lewe in geloof vir ons pad vorentoe. Ek wil gelukkig wees en ek weet Johann sou wou gehad het ek moet gelukkig wees. Ek het baie hoop vir ons toekoms.”

  • Die Johann Heunis-gedenkgholfdag word op 28 September by die Irene-buiteklub gehou ten bate van Mariandra en haar kinders en ter gedagtenis aan Johann. Vir navrae kontak Emil by 071 255 9927 of [email protected].
  • Mariandra is betrokke by Warriors 4 Christ, ʼn organisasie wat help om geld in te samel vir gesinne wat weens misdaad in finansiële probleme gedompel is. Ondersteuners is tans besig om vanaf Musina tot in Kaapstad te stap om bewusmaking oor plaasaanvalle te skep. Besoek die Facebook-blad hier om betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
E.K.

Jy het reeds gewys jy is van staal, sterkte op jou pad vorentoe. Dis so mooi om te lees van jou ondersteuningstelsel deurdat ander nie van jou vergeet het nie. Alles van die beste vir jou en jou kinders mevrou

Boet Fasie

Merkwaardig en hartseer, maar wanneer mens die lig aan die einde van die tonnel bereik gaan ‘n wonder wereld oop. Die berusting van God en Sy genade wat groots en wonderlik is en dan weet mens God stap tree vir tree saam met sy kinders al gaan dit ook hoe swaar. Die belangrikste is dat Jesus vir meer as ‘n jaar, julle saam met die kruis in julle gedra het. Wat ‘n wonderlik Vader!!!

Elize

So hartseer, so onnodig. Mag God jou en jou kleingoed omring met Sy liefde! Jammer mensie dat jy en jou kleingoed deur die hartseer moet gaan. Suid Afrika het jou in die steek gelaat! Ek bid vir jou en die kindertjies! Mooi pad vir jou vorentoe kind van Jesus! ??

Chris Ws

Ai dis hartroerend!Om sulke berigte te lees is bemoedigend en maak mens rooi sien ook.
Maar as die anc polisie hul werk doen en ‘n groot losprys op daai terroriste se koppe sit sal dit miskien werk.
Klink vir my die uitkennings parade het ook niks opgelewer nie.Sulke dinge gaan eendag maak dat mens die wet in eie hande begin neem.Kyk maar wat gebeur reeds in die Kaap – polisie word dagliks aangeval en van misdaad tonele verjaag deur die publiek.Hoekom?Omdat die polisie deur hul korrupsie nie meer vertroue inboesem nie.Hierdie is die begin.

Ella

Dit raak eers slegter vir die 1ste paar jaar soos tyd verloop. Maar dit raak defnitief beter . Dit vat net tyd. Na 7 jr weet ek dit gaan nooit weg nie maar mens leer om daarmee saam te leef. Die gemis gaan nooit weg nie.