Vrou se ‘plakkershut-lewe’ verby ná sy boerpot wen

Argieffoto

ʼn 47-jarige vrou van Bonteheuwel in Kaapstad wat haar lewe lank al in ʼn plakkershut woon, het belowe om nooit weer terug te keer na dié lewe nie nadat sy R16 miljoen in die Lotto gewen het.

Die Wes-Kaapse vrou woon saam met haar bejaarde ma, twee kinders en kleinkinders in ʼn plakkershut op iemand se erf. Haar lewe het egter handomkeer verander toe sy net meer as ʼn week gelede uitgevind het dat sy nou ʼn miljoenêr is.

Die vrou vertel dat sy gereeld Lotto speel en twee weke gelede oudergewoonte na die Lotto-trekking op televisie gekyk het. Sy het haar dogter gevra om te kyk of sy enigiets gewen het. Toe haar dogter vir haar sê dat die nommers op haar kaartjie wel ooreenstem met dié op die televisieskerm, het sy steeds nie besef hoe groot som geld sy pas gewen het nie.

“Toe my dogter vir my sê ek het gewen, het ek gesê ‘O oukei, ek sal môre winkel toe gaan sodat hulle kan kyk hoeveel ek gewen het.’ Die volgende dag het ek my dogter gevra om die kaartjie na ʼn winkel te neem aangesien ek moes werk toe gaan. Terwyl ek by die werk was, het my dogter gebel en my ingelig dat ek inderwaarheid nou ʼn miljoenêr is!”

Die vrou vertel sy het haar baas gevra of sy vroeg kan loop en haar huis toe gehaas. “Ek het haar vertel wat gebeur en het vir haar gesê ek moet gaan seker maak my kaartjie is veilig!” lag sy.

Ithuba, die operateur van die nasionale lotery, het gereël dat die vrou na die Johannesburgse hoofkantoor reis om haar wengeld in ontvangs te neem. Daar het die vrou besluit dat sy nie weer gaan terugkeer Kaapstad toe nie. “Ek het jare lank in ʼn plakkershut gebly en het nog altyd gebid vir ʼn behoorlike dak oor my kop. Ek gaan nie weer terug na daardie lewe toe nie,” het sy gesê.

Volgens die vrou beplan sy om vir haarself en haar twee seuns elkeen ʼn huis te koop en sal haar ma, dogter en kleinkinders by haar woon. Sy wil ook graag van haar wengeld gebruik om te betaal sodat haar dogter verder kan studeer. “My dogter het matriek klaargemaak, maar daar was nie geld om verder as dit te studeer nie. Ons het reeds ʼn begroting opgestel wat sal toelaat dat sy verder kan gaan studeer om die kwalifikasie van haar drome te kry.”

Wat haar betref sê die vrou dat sy beplan om nooit weer te werk nie en van haar wengeld te belê sodat sy van die rente kan leef. “Ek werk al vandat ek 16 jaar oud is. Ek het nog nooit opgehou nie. Nou is dit my beurt om te rus,” sê sy. “Ek gaan ook ʼn mooimaak-sessie ondergaan – ek soek ʼn heeltemal nuwe lewe!”

Sy sê dat ondanks haar nuwe rykdom sal sy nooit vergeet waar sy vandaan kom nie. “Ek wil van die geld vir liefdadigheid skenk. Terwyl ek so gesukkel het, het ek gewens daar was iemand wat my net kon help. Daarom wil ek nou vir ander mense daardie seën wees waarvoor ek nog altyd gewens het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Coba ·

Ek is so so so SUPER bly iemand het dit gewen wat dit regtig nodig het. Baie, baie GELUK❤

pieterdp ·

Kry haar jammer nou sal elke kammabehoeftige haar lastag val tot haar geld op is en weer sit waar sy was.

Mooi so! ·

Dit is nou ‘n waardige wenner. Alle seën en sterkte vorentoe.

Her ·

Baie Geluk! Moenie meer vriende maak as wat jy het nie en bestuur jou eie geld – anders mag jy dalk net daar terug wees oor 5 jaar…

Cindy ·

Baie geluk, Julle verdien n beter lewe. En dit is so mooi gebaar ok ander aremes te Wil help. Werk maar slim met jou geld, Geniet dit.

Cherokee ·

Dit is wel ‘n klomp geld maar verkeerd gehanteer sal dit nie hou nie. Sy sal dit moet baie slim belê en kundige advies kry. Muntstukke is rond en dit rol, as jy nie weet wat jy doen nie, weg van jou af. Om van rente te leef sonder om die kapitaal te verminder maar bo inflasie te bly met inkomste… sy sal inkomste moet skep uit daardie geld. My advies aan haar sou wees om eiendom te koop wat sy kan verhuur.

Katerina ·

Cherokee Dis baie goeie advies.Ek is baie bly vir die dame,laat mens goed voel as so iemand die lotto wen. Maar ja met die koste vd lewe deesdae sal dit in haar beswil om nou iets te koop soos n eiendom om uit te huur,vir haar en haar gesin se gemoedsrus vir die toekoms.Die lewe raak by die dag duurder.

EP ·

Nie goeie raad. Huurders is onbetroubaar en betaal nie altyd huur. Baie regskostes om hulle uit jou eiendom te kry. Ek glo dat daar opgeleide finansiele raadgewers is wat haar touwys maak.

Cherokee ·

Ó EP, jy kritiseer advies sonder om ‘n alternatief voor te stel? Jy bewys onkunde. Ek is eiendoms-eienaar en doen verhurings sedert die vorige millennium. Behoort dus te weet waarvan ek praat. Terloops, ek is ook ‘n geakkrediteerde finansiële adviseur en sê vir almal wat wil luister, daar is geen beter belegging as eiendom. Dit is die enigste manier waarop jy kan belê en inkomste onttrek uit jou belegging terwyl jou belegging aanhou groei. Moet nie besigheidsmense die stryd aansê sonder enige verdediging nie.

E.K. die eerste ·

Geniet jou geld maar sorg dat jy ‘n grooooot deel op ‘n manier belê wat jarelank nog jou gaan help. Kry professionele hulp! En pas maar op vir die bloedsuiers met “hartseerstories” en lank-vergete “familie” wat nou op jou gaan toesak!

Neels ·

Ek is so bly vir so iemand. As sy wit was sou Malema weer iets te se gehad het. Want hy gun mos geen witmens iets nie. Maar as wit man is ek bly vir haar. Ek bid dat sy insig sal kry om geld aan te wend tot voordeel van haar en haar gesin. Mag ons oor 50 jaar nog net die goeie lees oor jou geluk wat na jou kant toe gekom het.

Her ·

@Cherokee hoe lank gaan jy nog eiendom besit voor dit aan die staat behoort? Maar ja koop dan eiendom oorsee.

WitBlits ·

Almal mag dalk bly wees dat een persoon gewen het, maar my hart gaan uit na die ander 2miljoen plus mense wat ‘n kaartjie vir R7-50 gekoop en verloor het. Ook eintlik tragies om te dink dat die behoeftigste mense wat vêr onder die broodlyn leef eerder ‘n Lottokaartjie koop as om kos te koop!

Cherokee ·

As sy kos of witblits daarmee gekoop het, sou dit vir net een dag hou. Nou gaan hulle nie honger ly nie.

Lammarié ·

Dobbelary is iets waaraan ons Christene nie mag deelneem nie.

Ok so se jy ·

Lammarie so se jy. Dan hoop ek nie jy het al kaartjies vir ‘n koek of enigiets by die skool of kerk gekoop nie dit is ook dobbel. Ek is nie ‘n Christen nie ek is ‘n kind van die Here en ek koop elke week ‘n kaartjie. Vat nie my 10de, iemand anders of my geld waarmee ek moet leef nie. Dit is my rook en drinkgeld want ek rook nie en drink nie. So geen sonde.

Magaretha van heerden ·

So bly vir jou. Wees net versigtig en vra die Here se leiding oor hoe jy moet help. Daar is soveel nood. Pasop vir con artists. Moenie enigeen vertrou nie. Gaan na erkende hulp plekke soos Helpende hand of die kerk. Vra wat en hoe hulle ddit gaan aanwend Dis jou voorreg om te vra.

Chantell du Toit ·

Jy verdien elke sent daarvan. want niemand weet gewoonlik waardeur n mens gaan nie. Eks so bly jy gaan iets vir jouself doen. geniet elke sent van jou geldjies. Solank jy nooit vergeet waar jy vandaan kom nie sal dit altyd goed gaan, jy sal sien

Sue ·

Vreeslik baie geluk!!!!! Aan die wenner – vrou. Mag sy met grooooot genot leef en geniet net wat sy wil en kan. En mag God’s Engele haar en haar gesin en Moeder bewaar teen enige “vultures” daar buite. ???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.