Vrou, seun vas vir moord op Limpopo-man

Foto: Zoutpansberger

Die polisie in Limpopo het hul ondersoek na die moord op Tony Strydom (45) as “ingewikkeld” bestempel nadat Strydom se weduwee, Rieta (65), en een seun, Hendrik (25), vandeesweek in die hof op Louis Trichardt verskyn het in verband met sy skietdood amper drie jaar gelede.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê die polisie volg steeds verskeie leidrade op en die ondersoek is in ʼn ingewikkelde stadium. Hy kon nie onmiddellik verdere besonderhede bekend maak nie.

Tony Strydom is in Julie 2016 doodgeskiet op ʼn kleinhoewe in die Ridgeway-omgewing buite Louis Trichardt, waar die gesin gewoon het. Daar is destyds bespiegel dat die voorval moontlik ʼn plaasaanval kon wees.

Volgens sy gesin het Tony gaan teikenskiet op die hoewe toe onbekende aanvallers hom glo oorval en in die rug geskiet het. Tony se twee seuns het na bewering op hulle pa se liggaam afgekom toe hulle teen donker na hom gaan soek het.

Luidens berigte het polisie toe al vir Rieta, Hendrik en sy 24-jarige broer Pieter ondervra.

Die Zoutpansberger het in 2016 berig Rieta was ontsteld oor gerugte dat sy een van die polisie se hoofverdagtes in die ondersoek was. “Daar word vir my vertel dat ek hom sou doodgeskiet het vir sy geld…. Ek is moeg vir dié stories. Nog iemand het uit die Vrystaat gebel en gesê hulle het gehoor dat sy seuns hom doodgeskiet het en wou weet of dit waar is,” het Rieta destyds in ʼn onderhoud met die Zoutpansberger gesê.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Limpopo, het aan Maroela Media gesê Rieta en Hendrik het Maandag in die hof verskyn. Hulle is vrygelaat op borgtog van R1 000 elk en moet op 24 Mei weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lou ·

Daai ou storie van die rokie en die vuurtjie klink vir my of dit van toepassing kan wees hier ?

Grootkortbroek ·

Sulke gevalle help nie ons met plaasmoorde nie, jul vat kredietwaardigheid weg van diés wat werklik deurloop.

Andrea ·

Presies! Een van die dae word plaasmoorde afgemaak as gesinsmoorde.

Cherokee ·

Julle is reg! Dit is kroek om dit as ‘n plaasaanval te bestempel.

jaco ·

so tipies van SA se anti-wit regstelsel: nes die griekwastad plaasmoord in 2012: blameer die wit familie, want dis nie polities korrek om die ware moordenaars in n plaasaanval te vang, te verhoor en te vonnis nie, want dit kom neer op n regverdiging/goedpraat dat wit mense maar plaasgrond mag besit.

Hendrik ·

Jaco, dink jy Afrikaners / Boere / witmense kan nie gesinslede vermoor nie? Die Griekwastad-saak is tog behoorlik ondersoek en in ‘n hof getoets! As jy die Coligny-saak gebruik om te sê dat die regstelsel teen ons diskrimineer, sal min mense met jou verskil.

Sarel ·

Ongelukkig is daar meer voorvalle waar moord deur familie lede gepleeg is onder die dekmantel van ” plaasmoord” of ” gewapende roof”. Mense gebruik te maklik die huidige misdaad situasie om te moord te pleeg en dink dan hulle sal so welkom.

Jeremia ·

Die misdaad in die land skep meer as genoeg geleentheid vir uitbuiting.
Misdaad word dan gepleeg en dan geskuil agter die feit dat daar só ‘n oormaat daarvan is dat die ware misdadiger (-s) nooit uitgesnuffel sal kan word nie.
Vra my, ek het ‘n inbraak beleef wat baie berekenend agter die voorwendsel en dekmantel van die oormaat misdaad in die land gepleeg is.
Die inbreker was op daardie stadium al baie arrogant én baie goed geoefen.
Sulke tipe misdadigers reken dat ander mense baie dom is.
En reken die polisie is net te besig en nalatig om enige arrestasie te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.