Vrou, skoonma in hof ná man se moord

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Drie verdagtes het in ’n hof in die Vrystaat verskyn in verband met die moord op die 38-jarige Tshepo Marooe, ’n man van Bloemfontein.

Marooe se vrou, Boitumelo Brenda Marooe (37), haar ma, Kedibone Rachel Abrams (61), en haar vriend Tokelo Mogapi (24) word verdink van die moord op Marooe.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring Boitumelo het haar man op 17 Februarie as vermis by die Bloemspruit-polisiestasie aangemeld. Boitumelo het in dié stadium beweer dat sy op 14 Februarie laas kontak met haar man gehad het toe hy haar op Valentynsdag gebel het.

Boitumelo het ’n verklaring afgelê en aan die polisie gesê dat haar man ’n bruin broek en blou T-hemp ten tyde van sy verdwyning aangehad het.

Volgens Makhele is ’n liggaam van ’n man dae later op 26 Februarie deur ’n verbyganger in die Happy Valley Park in Bloemfontein aangetref. Die man het dieselfde klere aangehad as wat Boitumelo beskryf het. Die oorledene is vermoedelik met ’n mes bygedam en het drie steekwonde aan sy bors gehad.

Die liggaam is later wel as dié van Tshepo geïdentifiseer en sy motor is verlate by ’n lodge in Hilton, ʼn woongebied in Bloemfontein, aangetref.

Volgens Makhele is die drie verdagtes kort daarna in verband met die moord in hegtenis geneem. Al drie het intussen afsonderlik in ’n hof verskyn op aanklagte van moord. Boitumelo en Abrams is elkeen op borgtog van R1 000 vrygelaat. Mogapi se aansoek om borgtog is egter van die hand gewys.

Die verdagtes sal na verwagting op 25 Mei weer in ’n hof moet verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

Ek dink ‘van die hand gewys’ verwys na iemand wat ‘n aanbieding nie aanvaar nie.
Miskien het Mogapi aangebied om met verlof te gaan, waarna dit van die hand gewys is.

Burgermeester

Die berig se titel se dit als, hou jou vrou en jou skoonma ver van mekaar.

PieterP

R1000 Borg vir moord! Dit is absoluut belaglik. Borg vir veel mindere oortredinge is veel hoër. Ek kan noe glo dat enige regter of landdros my kan oortuig hoe slehs R1000 borg vir moord geregverdig kan word nie.