Vrou skuldig aan gru-moord

hof-hamer

Argieffoto.

Jwayelile Khuboni (39) sal Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gevonnis word vir die ontvoering van en gru-moord op Nomthandazo Dlamini (22).

Dlamini se liggaam is op 10 September sonder ʼn kop of arms langs ʼn pad in die Sunrise Forest-omgewing aangetref.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Khuboni, wat skuld erken het op albei aanklagte, is op 10 September vasgetrek in verband met die moord en het aanvanklik in die Ixopo-landdroshof verskyn voor die saak na die hooggeregshof oorgeplaas is.

Volgens Zwane is Dlamini die laaste keer op 7 September gesien toe sy saam met Khuboni haar huis in Donnybrook, sowat 80 km vanaf Pietermaritzburg, verlaat het. Sy het nooit teruggekeer nie en haar familie het die volgende dag na haar begin soek.

“Die saak is by die polisie aangemeld en ʼn soektog is in samewerking met gemeenskapslede van stapel gestuur. Haar liggaam is 10 September gevind. Dit het gelyk of sy met ʼn bosmes gekap is. Albei arms en haar kop was vermis,” het Zwane gesê.

Khuboni is nog dieselfde dag in hegtenis geneem en het die polisie na die plek geneem waar sy een van die arms gelos het. “Die ander arm en kop is steeds vermis,” het Zwane gesê.

Genl.maj. Bheki Langa, die provinsiale waarnemende polisiekommissaris, het die gewelddadige moord op die vrou veroordeel. “Dit is ondenkbaar dat ʼn vrou ʼn ander vrou op so ʼn wrede manier sal aanval en vermoor,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.