Vrou sluk ringe tydens rooftog

Char-denise en haar man, Stefan (Foto: Facebook)

ʼn Vrou van Bellville in die Wes-Kaap moes vinnig op haar voete dink om te keer dat haar verloof- en trouring geroof word nadat gewapende rowers minder as drie weke ná haar trou die jonggetroude egpaar in hul huis oorval het.

Char-denise Nel (22) het aan Maroela Media vertel sy en haar man, Stefan, is het skaars ewige trou aan mekaar beloof toe hulle reeds hul eerste sak sout saam moes opeet.

Die egpaar het Vrydagaand by vriende gekuier toe hulle skuins ná 21:00 by die huis gekom het. Wat ʼn gewone aand vir die pasgetroude duifies was, het toe in ʼn nagmerrie ontaard toe hulle ná 02:00 in die oggendure deur hul worshonde se geblaf wakker gemaak is.

Toe Stefan gaan ondersoek instel, het twee mans reeds die veiligheidshek oopgebreek en in die skuifdeur gestaan.

“Dit is skrikwekkend hoe vinnig hulle só iets doen. Hulle breek ʼn veiligheidshek in sekondes oop, nie minute nie,” het Nel gesê. “Toe Stefan die mans by die skuifdeur sien en hulle konfronteer, het hy ons slaapkamerdeur en my skoonma, wat saam met ons woon, se deur, wat nie te ver van die skuifdeur is nie, toegetrek voor hulle hom in die badkamer ingedwing en die deur agter hom toegemaak het.”

Die X-straal-foto (Foto: Facebook)

Sy vertel sy het onder haar komberse geskuil. “Niemand kan verduidelik wat tydens só situasie in jou kop aangaan nie. Ek het nie geweet waar my man is, en of hulle hom dalk met ʼn vuurwapen aanhou of reeds seergemaak het nie. In daardie oomblik het ek net my komberse oor my getrek en gehoop die Here beskerm my. Ek het vir my lewe gevrees, en ook om gemartel of verkrag te word.”

Die rowers het in haar slaapkamer ingegaan en deur die kaste vir waardevolle items gesoek.

“Die een rower moes my hand seker onder die kombers gesien het, want daarna het hy my hand skielik gegryp en probeer om my ring af te kry. Ek het in daardie oomblik net my hand teruggepluk, albei my ringe afgehaal en dit ingesluk. Ek was so bang hy pluk my af van die bed af en sê waar is die ringe, maar hulle het net later uit die kamer gegaan,” sê sy.

Die rowers het uiteindelik met ʼn televisie, skootrekenaars, ʼn horlosie en selfone op die vlug geslaan.

“Toe ek hulle nie meer hoor nie, het ek Stefan uit die badkamer gaan haal en ons het gehoor of almal oukei is. Ons is baie gelukkig dat die Here na ons gekyk het en dit nie erger was nie.”

Nel het nog dieselfde aand haar troupand opgebring. Sy en haar man is die daaropvolgende dag hospitaal toe vir X-strale. Volgens haar het die dokters gesê haar verloofring sal eindelik natuurlik uitgeskei word.

“Vandag word die ring skoongemaak – ek dra hom nog nié,” skerts sy. “In alle erns is ek dankbaar dat God Sy hand oor ons gehou het. Mens hoor soveel slegte dinge, en ons kon deel van statistiek gewees het, maar ons is beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

NIico ·

Ek het baie inbrake gehad, hulle het bly terugkom elke paar maande. Vandat ek nie meer die afgod televisie vervang het nie, het ek geen inbrake meer nie. Ek weet nie wat is dit aan daai ding wat inbrekers trek nie maar ek lees nou uit die Woord na ete en dien aanlyn bybelstudie en luister na preke. Dit het my lewe verander. Ek wil dit net graag met julle deel. Daar was nou ‘n jaar en 6 maande laas ‘n insident by my, prys die Here!

SNEL ·

Ek kan jou glo Nlico, wens ons TV kan net verdwyn. Moeilik as mens alleen staan in jou geloof… Ons moet die tyd uitkoop en jy doen dit wraggies, dis wonderlik.

Francie ·

Ek verstaan van iemand wat in die plaaslike township bly dat rowers net geinteresseerd is in ‘n poeier wat agterin die tv is. Dit is ‘n standaard deel van die tv en word as dwelm gebruik of verkoop.

Carmen ·

Ek se altyd vir almal ek sal ook my ringe sluk. Bly daar is nog mense wat soos ek dink. Hie hie. Bly hulle is ok.

Francie ·

Ek ook! Sal dit nodig wees om te oefen dat met iets soortgelyk in grootte, dink jy?

Daleen ·

Aardse besittings.. in Suid-Afrika is jy n baie dom mens om jou teë te sit teen enige boosaard.. wat as die persoon gesien het sy sluk die ring en en net daar en dan besluit om dai ring uit te haal??? Nee wat GEEEEEEEN LEWE IS EERS DIE QUEEN SE KROON WERD NIE. Ek sal die diewe help inlaai en nog kos gee ook as ek weet dat dit my kans op lewe gaan beteken.

SARIE VAN HEERDEN ·

Hoekom het ek nie daaraan gedink om die ringe in te sluk nie. Maar wat van my duur ketting, my handsak met al my persoonlike kaarte, my nuwe motor? Pestelensies!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.