Vrou soek berusting ná oudpolisieman se oorskot gesteel word

Johan Engelbrecht (Foto: Verskaf)

“Ek sal eers berusting vind sodra my man se oorskot gevind is.”

Só sê Rentia Engelbrecht (59), die vrou van die vermoorde oudpolisieman, Johan Engelbrecht (61), wie se oorskot verlede week uit die staatslykshuis in Standerton in Mpumalanga gesteel is. Johan is ’n jaar en ’n half gelede as vermis aangemeld en sy liggaam is eindelik twee weke gelede ontdek. Rentia het amper twee jaar lank vroualleen onverpoos na hom gesoek.

Maroela Media het vroeër berig Sanele Msimang (26) het hom verlede Vrydag by die polisiestasie in Harrismith in die Vrystaat oorgegee in verband met Johan se moord. Hy het aangedui dat hy Johan in Standerton vermoor en sy oorskot in ’n vlak graf begrawe het. Hy het die vlak graf aan die polisie uitgewys. Johan en Msimang het mekaar geken.

Msimang is tans in aanhouding in Standerton en verskyn vandag (Dinsdag) in die plaaslike landdroshof.

Johan se oorskot is Vrydag as gesteel aangemeld nadat dit vir ondersoekdoeleindes in die lykshuis bewaar is. ’n Saak van diefstal is diensooreenkomstig geopen met ’n bykomende klag van regsverydeling.

Rentia is moedeloos en woedend omdat die saak reeds so lank sloer en sy graag net die nare hoofstuk wil afsluit. “Ek wil net my man laat veras en aangaan met my lewe,” sê sy.

Rentia het Johan op 30 Augustus 2019 as vermis by Randfontein-polisie aangemeld. Sy sê die saak is toe later na die Standerton-polisie oorgeplaas.

“Ek het besluit om self na my man te gaan soek omdat die polisie met die saak gesloer het. Ek moes heeltyd agter hulle aanbel en opvolg. In trane van ongeloof het ek talle kere aan hul deur gaan klop, maar niks wyser geword nie. Ek het in die donker gevoel en nie geweet wat aangaan nie. Ek het nie eens geweet wie die saak hanteer nie.”

Rentia het in ’n stadium uit moedeloosheid die Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, gekontak om te hulp.

“Ek het in my tekkies, denimbroek en T-hemp die strate van Standerton ingevaar om na my man te soek. Ek het karwagte en haweloses gevra of hulle nie my man gesien het nie. Hulle het my na die vervalle munisipale swembad verwys.”

Rentia vertel sy het ’n veiligheidsmaatskappy op die dorp gebel om haar na die swembad te vergesel. Die swembad is langs ’n rivierstroom geleë.

“Ek en die veiligheidswag het in die gebied by die swembad en rivier gesoek. Dit is toe dat ek op my man se Bybel afgekom het. Ek het dadelik geweet dit is my man s’n omdat hy spesifieke aantekeninge daarin gemaak het om sommige verse uit te lig.”

Rentia vertel sy het verlede jaar die polisie se honde-eenheid gekry om die gebied te fynkam, maar dit was sonder enige sukses. Dit is nie duidelik waarom die honde nie die oorskot kon uitsnuffel nie. In Januarie vanjaar is die polisie se duikspan na die rivier ontplooi.

Ná byna twee jaar se vrae, onsekerheid en soekery is Johan se liggaam toe twee weke gelede deur Msimang in ’n graf by die einste vervalle swembad uitgewys. Die polisie het bevestig dat Msimang na Johan as sy “werkgewer” verwys het.

“Toe hulle my laat weet het dat my man se oorskot ontdek is, was ek hartseer, maar terselfdertyd verlig. Ek het geweet die soektog is nou verby.”

Die mat is egter onder Rentia se voete uitgeruk toe sy Vrydag in kennis gestel is dat haar man se oorskot uit die lykshuis verdwyn het. Sy sê die polisie is self stomgeslaan en het geen verduideliking oor wat moontlik kon gebeur het nie.

Rentia sê die polisie gaan dalk weer die gat verder oopgrawe om te kyk of hulle nie nog beendere kan opspoor nie.

“Nou het ek éérs vrae. En niemand het vir my antwoorde nie. Dit maak my bang om te dink dat hierdie saak nog vir jare kan aangaan.”

Deur die hele soekproses het Rentia staande gebly en nie moed opgegee nie. “Maar nou is ek moeg.”

Johan en Rentia het twee dogters en twee kleinkinders.

“Hy het die dag voor sy verdwyning vir my gesê hy is lief vir my en die dogters. Hy was so ʼn wonderlike pa.”

Johan het die polisiediens op ’n 18-jarige ouderdom as speurder betree. Hy is in 2000, na 25 jaar in die diens, weens trauma medies ongeskik verklaar. Hy is destyds beskou as die jongste speurder in die land en het in velerlei afdelings in die polisie gewerk.

Volgens Rentia was hy ’n briljante speurder en sy polisiekollegas het hoë agting vir hom gehad.

“Sy polisiekollegas het hom ‘Brakkies’ genoem. Dit was gegrond op die televisiereeks Brakanjan wat gaan oor ’n dapper hond. Hy het nes Brakanjan sy werk ernstig opgeneem, leiding geneem en seker gemaak sake word so vinnig as moontlik afgehandel.”

Rentia beoog om ’n saak van nalatigheid teen die polisie oop te maak omdat sy voel hulle het nie die ondersoek reg hanteer nie.

Ná Maroela Media se navraag aan die polisie het die brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, slegs bevestig dat ’n saak van diefstal ondersoek word en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Noels244 ·

Dis verskriklik, hoe kry mens ooit berusting in sulke omstandighede? Wat nog erger is, is dar sy vrou alleen na haar man moes soek omdat die polisie soos gewoonlik gesloer het. Ek sal van my kop af raak.

Misky ·

Ag nee man en hoe gebeur so iets? Dis mos uiters swak en dis die een berig na die ander wat vertel hoe agteruit die polisie gaan. Ons land is so in sy dinges in en dink nie ons besef die diepte daarvan nie

Flip ·

Pateties onnosel dit is almal wat nou in beheer is van ons land.

Marisa W ·

As ek so tussen die lyne lees gaan Msimang seker volgende verdwyn – iets klink nie lekker hier nie

E ·

Ek dink hulle dink as daar nie ‘n liggaam is nie, kan daar nie ‘n verhoor wees nie. Hulle gaan lelik ontnugter wees. en hy het die plek uitgewys.

Johanna ·

Marisa jy is reg. Dis scary, ons kan net bid hy gaan veilig anderkant uitkom.

Phillip ·

In die staatsleikhuise het jy n boek wat ingevul moet word jou onderneemer stempel moet op die Bi 663 opgesit word jou vinger print die oorlende se vinger print die poliesie moet hulle deel in vul daar is nalaatig by die staasleikshuis gewees

JM ·

Net as ‘n mens reken dat jy nou alles gehoor het, dan dít! ‘n Mens het nie meer woorde nie.

Yvonne ·

Die gebeure is sinneloos….hoe verdwyn beendere net….iemand het onbeperkte toegang tot …om mee wat te doen is my vraag

Magda ·

Goeie Hemel, wat kan nog in SA gebeur, Het geen woorde nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.