Vrou soek weldoeners op Facebook ná gru-ongeluk

Khanya Njengele en Marelize-Douglas van der Berg tydens hul ontmoeting na die ongeluk. Foto: Verskaf

Khanya Njengele en Marelize-Douglas van der Berg tydens hul ontmoeting na die ongeluk. Foto: Verskaf

ʼn Vrou van Oos-Londen wat in Julie ʼn gru-motorongeluk oorleef het, het haar tot sosiale media gewend om die twee weldoeners op te spoor wat haar gehelp het toe sy bloeiend in die pad gelê het nadat sy uit die motor geslinger is.

Khanya Njengele (29) het aan Maroela Media vertel hoe ʼn aand uit saam met een van haar vriende binne oomblikke in ʼn nagmerrie ontaard het. “Ons het die aand van 15 Julie omstreeks 20:00 by ʼn rooi verkeerslig in Berea stilgehou. Ek het probeer om iets uit my handsak agter in die motor te haal, maar kon dit nie bykom nie. Ek het my sitplekgordel losgemaak om net vinnig oor te leun om die handsak te kry toe die ander motor ons tref,” het sy vertel.

Njengele sê die motor waarin sy en haar vriend was, het getol weens die trefslag van die botsing en sy is by die passasiersruit uitgeslinger. Terwyl sy in die pad gelê het, het sy gesien hoe haar vriend ʼn paar meter weg van die voertuigwrak in die straat lê en hoe ander motoriste uit hul voertuie spring.

“Ek het net gesien hoe almal vir die ongelukstoneel staar en ’n klomp mense het begin foto’s neem. Niemand het regtig iets gedoen nie,” het sy gesê. “Ek het in daardie stadium geen pyn gevoel nie, maar wel gesien ek bloei baie erg. Ek kon ook nie my bene voel nie. Ek het probeer opstaan, maar dit is asof ek geen beheer oor my bene gehad het nie.”

Die volgende oomblik het ʼn vrou by haar kom kniel en haar aangesê om nie te probeer opstaan nie. “Ek wou opstaan, want ek wou net by my foon kom om my ouers te bel, maar sy het vir my gesê ek moet stil lê tot die ambulanse kom,” het Njengele gesê. “Intussen het ʼn ander vrou wat net op die toneel aangekom het eers kom kyk of ek oukei is, voordat sy vir mense geskree het om die paramedici te bel. Sy het daarna na my vriend toe gehardloop om te kyk of hy nog lewe.”

Die trui en armband wat 'n weldoener aan Khanya Njengele op die ongelukstoneel gegee het. Foto: Verskaf

Die trui en armband wat ‘n weldoener aan Khanya Njengele op die ongelukstoneel gegee het. Foto: Verskaf

Njengele vertel dat sy al hoe meer lighoofdig geraak en gevoel het hoe sy stadig haar bewussyn verloor. “Die hele tyd het hierdie vrou langs my gesit en aanhou om my vrae te vra om my by my bewussyn te hou. Sy het my hand vasgehou en my vertel alles gaan oukei wees. Naderhand het ek begin bewe van die skok en sy het ʼn trui oor my gesit om my warm te hou. Ek was so bang ek gaan dood en ek gaan nie weer my dogter sien nie. Die vrou het ʼn armband om my arm gesit en vir my gesê dit sal my beskerm en my hoop gee.”

Kort daarna is Njengele in ʼn ambulans gelaai en na ʼn hospitaal gehaas. Sy het ʼn erge sny aan haar kop opgedoen en haar been reg onder haar heup gebreek. Ná ʼn operasie om die breuk te herstel en twee weke in die hospitaal, is sy ontslaan. Haar vriend het nog ernstiger beserings opgedoen, maar is ook vroeër vandeesweek ontslaan.

“Die hele tyd wat ek in die hospitaal was, het ek na hierdie armband om my arm gekyk. Dit het my regtig hoop gegee dat ek ten volle sou herstel en my herinner aan hierdie twee vroue wat my daardie aand gered het. Ek het geweet dat ek hulle moes opspoor om vir hulle self dankie te sê dat hulle my lewe gered het.”

Njengele het ʼn inskrywing op Facebook geplaas wat so baie deur ander gebruikers gedeel is, dat dit uiteindelik onder die twee weldoeners se aandag gekom het.

“Hulle het met my in verbinding getree en so het ek vasgestel die vrou wat gesorg het dat die ambulans en polisie gebel word, is Marelize-Douglas van der Berg (28) en die vrou wat heeltyd by my gesit het, is Kirsten Roebuck (21). Ek kon hulle albei persoonlik ontmoet, vir hulle blomme vat en vir hulle self dankie sê. Sonder hulle sou ek dalk dood gewees het,” het Njengele gesê.

“Daar is nie regtig woorde om te verduidelik hoe dankbaar ek teenoor Marelize en Kirsten is nie. Ek dra nou nog elke dag die armband. Dit herinner my aan die hoop wat dit my in daardie donker tyd gegee het en aan hierdie twee vroue wat my deurgedra het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Groot Pop ·

My oe swen van die trane. Laat my baie hoop gee vir ons land se vroue.

JOHANNA ·

3 Heldinne in hierdie mooi verhaal ongeag die pyn en lyding. Hulp verleen en Waardering ontvang. God seen julle aldrie.

Se Net ·

Welgedaan aan die vrouens wat gehelp het. Baie bly om te hoor dat daar wel nog goeie mense is. Vir die wat die fotos geneem het en niks gedoen het nie…. Hoop nie julle is ooit in so n ongeluk betrokke nie!!!

Lindy ·

Sover ek weet is dit onwettig om fotos op n ongelukstoneel te neem

mageret ·

Wat n pragtige storie. Dankie aan die weldoeners. Maar ook dankie aan die pasient wat hul opgespoor het om dankie te se. Ek glo die twee dames het fantasies gevoel toe hul n dankie kry. So klein woord, met so n geweldige impak! Ek hoop van harte Njengele herstel ten volle, en dat die dames n band gesmee het. Dis wonderlik om sulke positiewe nuus te lees!

Kaspaas ·

Wow Well done. Ongelukkig op Ongelukstonele is daar soveel mense wat rondstaan en video neem om op youtube ens te sit. As jy nie n positiewe bydrae kan maak en help of n getuie is nie hou verby. Daar is geen plesier om te staan en kyk na ander se smart en pyn nie en geen maar geen kind hoort op n ongeluks toneel as toeskouer nie.

Adamsrib ·

Sluk swaar aan die knop in my keel . . . . . wat my op val is hoe jonk die weldoeners is. Sou bitter graag hierdie berig eerder op Beeld se voorblad wou sien vanoggend . . . . as hoofberig

Khanya Njengele ·

You can contact me on my inbox on Facebook. Search for Khanya Njengele so I can give you my contact details, thank you ♡♥

Louisa Krügel Pieters ·

Nou kyk nou net!! Dit is mos ‘n goeie voorbeeld dat ons almal saam kan woon in SA. Nie almal is rasiste nie en nie almal is haardraend nie. Baie geluk aan die 2 Engele!! Khanya ek hoop jy en jou vriend word sommer gou gesond en dat julle ‘n band sal behou tussen julle en die julle Redders!! Trots om SA’ner te wees!!

Adoons ·

Ai, op grondvlak sou die mense van hierdie land darem ‘n baie mooi pad met mekaar kon stap as dit nie was vir die voortdurende verdagmakery vanaf owerheidskant af nie! Pragtige storie en lekker om te lees!

m ·

Hierdie is so mooi storie. Dis ma net n bewys dat ons mekaar nodig het. Of jy nou wit of swart of wie ook al is.

Sê maar net ·

Ek verstaan nie wat in die mense in die tyd waarin ons leef se koppe aangaan. Uit al die omstanders het slegs 2 vroue die beseerdes gehelp!! Hoe kan jy staan en fotos neem en niks doen terwyl iemand lê en dood bloei!!!!

KarenG ·

Ek moey erken, ek kan dit gladnie verstaan nie. Hoe kan dit vir jou lekker of van enige waarde wees om fotos te neem van iemand wat in ‘n nood situasie is. Eks opreg dankbaar day daardie 2 dames tot Khanya se redding gekom het en dat sy darem op die herstelpad is.

douwlina du plessis ·

Sulke mooi stories wat verby ras en tyd gaan, wat ‘n brug bou tussen mense is wat my laat huil

Ruby ·

Wow, wat ‘n mooi goed-voel storie.

Ons het meer sulke positiewe stories nodig.

Hannelie ·

Sjoe dis ‘n pragtige storie. So bly dit het ‘n gelukkige einde. Weereens dankie aan die twee vrouens wat hul harte oopgemaak het en omgegee het vir mense wat seergekry het ……so anders as die agies wat net staan en fotos neem. Sies vir hulle.

Thana ·

Agies sal daar altyd wees, ongelukkig. Weldoeners is volop, net jammer hul stories word nie vertel nie

Penellope Jones ·

Gee mens koue rillings, die ongeluk, die skok as gevolg daarvan, die hulp en steun, selfs die mense wat van iemand wat in ‘n ernstige motorongeluk was, foto’s te neem – dis so ongevraag en disrespekvol(!) – alles gee my koue rillings.
Vroue het ‘n ingebore instink om te help en te beskerm, te versorg wat sterk deurgekom het met hierdie motor ongeluk.
Ek hoop die dame wat seergekry het en haar vriend herstel volkome.

Wern ·

Tog sal die hoofstroom media slegs die negatiewe stories vertel soos oor penny sparrow en die vrou wat swart polisie beledig toe sy beroof was, maar hulle sal niks ooit berig oor die positiewe soos hierdie nie. Dankie Maroela dat julle darm gebalanseerd is. En dankie aan almal wat nie net staan en kyk of verbyry as julle hulp nodig is nie.

Lee ·

Dis nou ‘n storie met ‘n goeie einde. Dankie Maroela en ek is bly almal herstel volkome na die ongeluk en dat daar nog mense is wat omgee oor ander.

Charmaine ·

Mag die Here hierdie dames ryklik seen,ook vir jou Khanye.Dankie dat jy hierdie mooi verhaal met ons deel.

Marissa ·

Die trane loop behoorlik oor my wange

Dankie vir die pragtige berig Maroela; vir die ge tuinenis van Khanya en die twee weldoeners.ek sou oom die armbandjie vir altyd dra. ❤️

AM ·

Dankie Here, dat U die pasient gebruik het as n Instrument in U Hande, dat sy die twee weldoeners wou opspoor om hulle te bedank. Dankie dat U die twee weldoeners as Instrumente in U Hande gebruik het om die pasient te gehelp het. Dankie dat U gegee het dat die pasient die weldoeners gevind het. En dankie dat U die pasient gebruik het as n Instrument in U Hande om hieroor te getuig het. En dankie dat U gegee het dat Maroela media dit gepubliseer het. Alles gebeur met n doel, en U het met hierdie “doel” so baie harte aangeraak. Baie dankie Liewe Here

AM ·

Maroela, waar is my kommentaar? Ek dink ek het dit per ongeluk twee keer gestuur

Riana ·

Ja , dis wie ons Suid Afrikaners is vir mekaar- ons is een.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.