Vrou spring ver om van rowers te vlug

Marietha Kruger. Foto: Facebook

Marietha Kruger. Foto: Facebook

ʼn Vrou van Harrismith in die Vrystaat het Donderdag ʼn verdieping ver geval toe rowers by hul huis ingebreek en sy na veiligheid gespring het.

Michael Kruger het aan Maroela Media vertel sy vrou, Marietha (31), was alleen by die huis toe sy omstreeks 11:00 ʼn klop aan die deur gehoor het. Sy het van die boonste verdieping afgestap na die voordeur, toe die deur skielik oopgestamp is en drie onbekende mans ingekom het.

“Sy het omgedraai en opgehardloop kamer toe, maar twee van hulle het haar agternagesit en by die kamerdeur gevang,” het Michael gesê. “Hulle het haar in die kamer ingestamp, in ʼn duvet toegedraai en vir haar gesê as sy nie stilbly nie, sal hulle haar doodmaak.” Die twee rowers is weer af met die trappe en toe Marietha die houttrappe hoor kraak, het sy opgespring en by die venster uitgespring. Sy het op ʼn sementblad te lande gekom en vermoedelik haar voete gebreek.

“Sy het om ʼn muurtjie langs die huis gekruip en daar weggekruip terwyl die rowers alles gesteel het wat hulle wou. Hulle is daarna na die buurvrou se huis langsaan en het daar ook ingebreek en goed gesteel,” het Michael vertel. Toe die rowers uiteindelik in ʼn silwer Chevrolet Spark gevlug het, het Marietha tot op die gras gekruip en om hulp begin skree. Sy het ure lank om hulp geroep voordat ʼn buurvrou haar teen 16:00 uiteindelik gehoor het en kom help het.

“Toe ek die oproep kry van wat gebeur het, was ek in Durban,” het Michael gesê. “Weet jy hoe voel dit om so oproep te kry terwyl jy so ver is? Dis asof jou bloed stol. Ek het so vinnig teruggery as wat ek kon, maar het eers laat gisteraand [Donderdagaand] hier by haar aangekom.”

Volgens Michael het dokters Marietha se bene en voete tydelik verbind en sal X-strale Vrydag geneem word om te bepaal wat presies gebreek is. “Sy het verskriklike pyn en sy kan glad nie loop nie,” het hy gesê. “My seun sal van nou af saam met my vrou bedags by die huis wees om seker te maak sy is nie alleen as so iets ooit weer moet gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marlene ·

Marietha jy is ‘n baie dapper vrou. Ek wens jou alle sterkte en spoedige herstel toe!

Peet Schabort ·

Soos die aanvalle op polisie behoort hierdie nie te gebeur.
KOM ZUMA, WORD WAKKER !!!!!!

Geraldine ·

Maar Peet, dink jy hy gee werklik om vir sy eie bende en dink jy hy gee om vir jou en my?

Winston ·

Peet ek dink dit is goed waaraan sy edele nooit dink nie. Zuma is nie die naam edele werd nie en is geen leier nie; wat nog te sê president van n land. Hy hoort in n kraal met n klomp bees om op te pas. Amandla Nkandla!!

Hannis ·

Elke dag net meer moord, inbrake, diefstal. Hierdie mense wat dit doen kyk op na hulle leier. Net so beginselloos en korrup. Geen mens is meer veilig met hom as leier nie. Hoekom bring hy nie die doodstraf terug nie. Hy sit met wagte, hoekom as hy die land so veilig beskou.

Johann Marx ·

Kostes aangegaan deur die wetgehoorsame burger om misdaad te probeer voorkom? Kunsmatig verhoog met 14% vir die regering, deur die regering. Herstel en vervangingskoste by die Kruger’s se gebreekte huis? Kunsmatig verhoog met 14% vir die regering, deur die regering. Mediese koste van Mevrou se behandeling? 14% vir die regering, deur die regering. Solank as wat ons toelaat dat misdaad vir die regering BTW genereer…..so lank sal hulle NIKS daaraan doen nie.

Dinki ·

Ek stem saam. Die regering behoort vir alle onkoste aanspreeklik gehou word. Miskien sal dit dan verminder.

Johann Marx ·

Ek het ‘n antwoord op my navraag gekry oor die BTW wat die regering ontvang het na die aanval op Mnr Dawie Roodt, bekende ekonoom en TV aanbieder. R60 000,00. Sestig Duisend Rand vir die regering……en al wat hulle moes doen is om misdadigers te los om te maak nes hulle wil. Wat motiveer die regering om die misdaad te stop? Dit genereer vir hulle geld….en skep “werk” vir diegene wat NIE die nodige basiese vermoë het om ‘n pos te beklee en ‘n salaris te verdien nie.

Bleek Sannie ·

Winston, vertrou jy hom tog nie in die beeskraal nie. Arme beeste.

Bleek Sannie ·

‘n Spoedige herstel word jou toegewens Marietha. Dis jammer dat jy seer gekry het, maar goed dat jy gespring het, anders het ons dalk nou van jou verkragting of dood gelees. Sterkte vir julle.

sarie van heerden ·

Stem saam dat regering van nouaf hul deel moet bydra vir die misdaad wat vir ons uitgedeel word en nou begin om mediese koste te dek wat deur misdadigers (wat altlyd vrygelaat word) veroorsaak word. Fair is fair.

sarie van heerden ·

Ons mors ons tyd met kommentaar wat ons lewer want Zuma kan nie lees nie en ek weet nie of enige van sy tjommies Afrikaans magtig is nie. Ons moet aan iets anders begin dink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.