Vrou steeds kritiek ná Lephalale-plaasaanval

Drs. Werner en Mariette Emslie. Foto: Via Facebook

Dr. Mariëtte Emslie (55), die vrou wat gewond is tydens die plaasaanval waarin haar man, dr. Werner Emslie (55), Woensdagaand in Limpopo doodgeskiet is, se toestand is steeds kritiek, maar stabiel.

Sanet Dippenaar, woordvoerder van die Muelmed-hospitaal in Pretoria, het Vrydag haar toestand aan Maroela Media bevestig. Dippenaar het gesê Mariëtte word in die waakeenheid onder verdowing gehou totdat sy sterk genoeg is om ʼn operasie te ondergaan.

Dr. Victor Emslie (53), Werner se broer wat as die familie se woordvoerder optree, het gesê die aanval en Werner se moord het hul familie platgeslaan.

Victor het gesê sy broer was ʼn besige mens wat aktief betrokke was in gemeenskap en onder meer op Laerskool én Hoërskool Ellisras se beheerliggaam gedien het.

“Hy was energiek, positief en het altyd ʼn grappie gehad. Hy kon verskeie balle tegelyktydig in lug hou en was intens betrokke by sy familie en gesin,” het Victor Vrydag aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het vroeër berig die aanval het Woensdag om 20:00 op die egpaar se plaas in die Afguns-omgewing buite Lephalale (Ellisras) plaasgevind. Mariëtte is ʼn algemene praktisyn op die dorp en Werner was ʼn geliefde boer en dokter in bedryfsgesondheid.

Vier aanvallers, waarvan twee met vuurwapens gewapen was, het op die egpaar se plaas toegeslaan en Werner summier doodgeskiet terwyl hy buite sy huis op die stoep gesit het. Mariëtte en die egpaar se dogter, Barbara (19), ʼn eerstejaar mediese student aan Tukkies in Pretoria, was in die huis.

Die aanvallers het hulle in die huis oorval en gedwing om die kluis uit te wys. Mariëtte is tydens die voorval in die maag geskiet, met pangas aangerand en met die vuis in haar gesig geslaan. Barbara is vasgebind voordat die aanvallers in die egpaar se splinternuwe bakkie op die vlug geslaan het met twee vuurwapens.

Die bakkie is later ʼn paar kilometer van die plaas verlate gevind. Van daar het die aanvallers glo in ʼn ander voertuig verder gevlug. Barbara kon daarin slaag om los te kom waarna sy hulp ontbied het en haar ma bygestaan het. Barbara is nie tydens die voorval ernstig beseer nie.

Mariette is in ʼn kritieke toestand na die Mediclinic Lephalale gehaas. Die koeël het haar lewer getref en sy moes ʼn noodoperasie ondergaan om die bloeding te stop. SA CAN (Community Action Network) en AfriForum het ʼn helikopter van Netcare 911 uit Gauteng laat kom om haar na die Muelmed-hospitaal in Pretoria te neem vir behandeling en sy is Donderdag in die vroeë oggendure opgeneem.

Werner het ʼn passie vir boer en die buitelewe gehad. Hy het met beeste geboer en in ʼn stadium met boerperde geteel.

Werner laat sy vrou, dogter, en seun Grant, ʼn 25-jarige meganiese ingenieur van Pretoria, agter. Hy laat ook sy ouers, Guy (83) en Blanche (82) Emslie, en broers, Victor, Don (49) en Robert (59) agter.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die volskaalse soektog na die verdagtes duur voort. Die Lephalale-polisie ondersoek ʼn plaasmoordsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ian Ludick ·

Wat my verstand te bowe gaan is dat die direkte verband tussen politiese uitsprake en die moorde op boere nie meer uitgelig en aangespreek word nie. Is praat en debat voering die enigste reaksie op die gruwel dade?

Al ·

Stem saam met jou. Ek sê nog steeds moord is die grootste motief en dan roof.

JC ·

Afrikaners het geen bestaansreg in hierdie land nie. Afrikaners sal die onafwendbare in die gesig moet staar. Ons taal Afrikaans ook saam met ons; moet verban word as verfoeilik. Niks wat verband hou met die sondaar Afrikaner; wat nou ten duurste boet vir sy sondes, het ‘n bestaansreg nie. “Afrikaners” moes nooit die Engelse beveg het tydens die ABO nie, hulle moes net daar en dan Verengels het sonder verset. Verengels so gou moontlik, en maak planne om oorsee te gaan woon indien jy kan. Ons moet begin aanvaar dat ons maar nog altyd net “koloniste van ‘n spesiale soort” was (vergete, en afgeskeep in die bladsye van geskiedenis gaan ons op die ou einde wees, miskien net ‘n voetnota werd, SOOS DIT HOORT) en dat selfs die begrip “Afrikaner” ‘n versinsel is, wat “Afrikaners” gedink het hulle ‘n reg sal gee om in hierdie Hel ‘n bestaan te voer en vreedsaam te lewe. Afrikaners se optrede, en wat nou gebeur met hulle, bewys dit, ons hoort nie hier nie!!! Geen land gaan simpatiseer met “Afrikaners” nie, ons is op ons eie aangewese om te vlug. Die wat kan, asseblief, vir julle kinders se onthalwe, vlug landuit.

Eish ·

JC,
Ek het gister en vanoggend net so gevoel. My kommentare het gesneuwel voor die sensor, genadiglik. Ek is te oud en gestroop van my bates in die helhool, so ek kan nêrens. My kroos is volwasse en professionele mense en ek het genoeg gekarring aan hul om te emigreer. My seun sit in Swede op sekondering van sy werkgewer en ek hoop en bid hy emigreer. Ek moes egter maar besluit dat ek nie van gebroke hart sindroom gaan omkom nie, maar vegtend sal vergaan vir die Christelike waardes waaraan my hele bestaan verweef is. Soos elf van die twaalf dissipels. Laat ons wat bly en versuip in die land van melk en heuning, dus maar melktrap tot dit botter word en ons weer n vastigheidjie onder ons voete het. Laat ons die bestel karring en eindeloos frustreer met ons moed en wil en sin vir waardes. Sal maar aan die einde van alles darem kan sê terwyl ek so sydelings die tydelike met die ewige verwissel: ” Wat n reis! Die bearings, wiele en enjin opgebruik! Shalom .”

Anoniem ·

JC, ek kon dit nie beter stel nie. Mense wat hierdie tipe berigte op sosiale media deel en vra dat ander lande ons moet kom red, hoe red? Elke land het probleme van sy eie. Elke Afrikaner moet homself en gesin red. Mense wat se ons moet saamstaan, hoe saamstaan? Niemand gaan tot jou redding kom nie, net jyself. Dis hartseer, hartverskeurend, maar nodig. Ons gesin is landuit en ek verstaan almal kan dit nie doen nie, maar as dit enigsins moontlik is vir jou, doen dit en begin VANDAG julle planne maak. My kinders is in ‘n Engelse Christelike skool en baie gelukkig. Ek dank elke dag die Here vir ons geleentheid. Ek bid vir almal wat ‘n uitkomkans soek.

Peet J ·

Dat die minister van polisie eweskielik ‘n dringende plan van aksie benodig om landelike veiligheid te verskerp wil al vir my voorkom of hy meer weet as wat hy wil voorgee.
Ek dink maar net aan BFLF se rewolusionêre uitspraak wat aan die einde van Desember 2017 van toepassing is.

Ouvrou ·

Maklik gesê Afrikaners moet land uit maar waarheen? Dis ons land hierdie en hier sal ons moet bly. Ons moet op ons knieë gaan en die Here smeek om ons te red. Gebed en geloof het ons voorvaders nog altyd gered – hoekom nie hierdie keer ook nie?

andrea van vuren ·

Ouvrou, jy is nie nou besig om die Drakensberge oor te steek nie. Word wakker. Jy sit in die middel van ‘n kommunistiese staat met ‘n laggende idioot vir ‘n president. Agriforum, Afrifrorum, VF+ en Solidariteit is te ordentlik om te baklei vir ons regte. Waar is Gerrie Nel?

Wilmarie ·

Dit is verskriklik!! Ek gaan eerder niks verder sê nie, want dit gaan haatspraak wees!

Boer ·

Ek verstaan die dokter was onder andere betrokke by mediese dienste by die myne. Ons kyk nou maar wie kry sy kontrak daar. Hierdie is meer as net ‘n moord. Dis die oorname van sy besigheid by die myn.

Johan Viljoen ·

Sterkte aan die Emslie familie, veral Robert saam wie ek op skool was

andrea van vuren ·

Ek dink FW verstik tans in sy halwe Nobelprys en Roelfie het nog nooit iets daadwerkliks vir die land gedoen nie. Lakei knegte!

JD ·

Wat sou F A Venter se nuutse boek se naam gewees het VERWOESTDE LAND .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.