Vrou stééds onder verdowing ná ongeluk op dam

Heidi-Lene Jonck (23) vroeër in die hospitaal. Foto: Verskaf.

Heidi-Lene Jonck (23), die vrou van Polokwane wat vroeër vandeesmaand in ʼn fratsongeluk op ʼn dam beseer is, is twee weke later steeds onder verdowing in die waakeenheid van die Polokwane- provinsiale hospitaal.

Die ongeluk het 11 Maart op die Albasinidam oos van Louis Trichardt plaasgevind.

Maroela Media het vroeër berig Jonck het saam met vriende by die dam baljaar waar hulle op ʼn opblaasspeelding gery het wat agter ʼn boot aangesleep is.

Volgens Elze-Marie du Preez, Jonck se suster, het sommige van die vriende op ʼn stilstaande boot op die dam ontspan, terwyl ʼn ander boot die opblaasspeelding getrek het. “Soos wat ons verstaan, was sy net op die tube toe die boot skerp wegdraai en sy die plat agterkant van die groot stilstaande boot hard getref het,” het Du Preez gesê.

Jonck het haar bewussyn verloor en moes deur vriende uit die water gebring word. Die femur van haar linkerbeen is skoon afgebreek en haar kop was veral aan die linkerkant erg geswel.

Du Preez het destyds aan Maroela Media gesê Jonck het ʼn skedelfraktuur opgedoen, maar dokters kan eers bepaal of sy breinskade het nadat die swelling gesak het. Volgens dokters het Jonck ook simptome soortgelyk aan ʼn beroerte of verdrinking getoon nadat sy suurstofnood ervaar het weens die ruk wat sy bewusteloos was direk ná die ongeluk.

Jonck is tans steeds onder verdowing en aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Volgens Du Preez is haar been intussen geopereer en ʼn pen ingesit. “Hulle wou eers wag dat sy nie meer onder verdowing is nie, maar moes opereer omdat sy te veel bloed verloor het weens die breuk. Sy weet as ons by haar is. Sy haat die pyp in haar keel, maar as ek vir haar verduidelik waar sy is en wat gebeur het, raak sy weer rustiger.”

Volgens Du Preez het dokters gesê dat Jonck verlam is aan die linkerkant van haar liggaam. “Hulle kan in dié stadium nog nie vir ons sê of sy permanent verlam sal wees nie. Sy is baie opgeswel van die langdurige lê en die verdowing, die liggaam skei nie water af soos wat dit normaalweg sou nie. Arbeidsterapeute het al vir ons kom wys hoe ons haar kan masseer. Dis ongelooflik om te sien hoe daardie swelling sak as mens so van haar vingerpunte tot in die waai van haar arm vryf.”

Du Preez vertel dat daar vandag of môre ʼn skandering gedoen sal word waar vloeistof in Jonck se are ingespuit sal word om só te bepaal of daar ʼn vernouing in haar nek of brein is. “Dit lyk of sy klein beroertes kry.”

Sy het verder vertel dat Jonck vir jare nie sig in haar regteroog gehad het nie en in matriek ʼn lensvervanging ondergaan het. “Sy het nou tussen 15-18% sig in daardie oog. Haar goeie oog [links] is nou ook beskadig.”

Du Preez het gesê daar is intussen nog geld by die Round Table (Tafelronde-organisasie) inbetaal wat later moontlik vir Jonck se terapie gebruik kan word. “In dié stadium is ons oorweldig, ons het nie onmiddellik die geld nodig nie. Die hospitaal kyk regtig baie mooi na haar. Ons kan regtig nie kla nie, hulle doen alles wat menslik moontlik is. Al wat ons vra, is gebede.”

Enigiemand wat wel ʼn bydrae wil maak, kan die Round Table (Tafelronde) nader en vir Riaan Smit, die takvoorsitter in Louis Trichardt, vra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CL ·

Baie simpatie met haar en die familie. Hoop sy herstel mooi. Mens sien deesdae baie foto’s van slagoffers soos in die berig. Dit is hartseer om iemand so te sien maar mag mens sonder die persoon se toestemming so ‘n foto plaas? Ek sou nie wou hê almal moet my so sien nie?

LB S ·

CL ek stem volkome met jou saam. Hoe verander dit nou die werklikheid.

Josua Keys ·

Dis jammer om van so ‘n ongeluk te hoor en ja dit gebeur baie vinning, ek glo almal gaan seker nou die Skipper van die boot die skuld wil gee maar dit gebeur in sekondes, daar is reels op die damme en mense betaal belaglik duur vir skipper lisensies ens juis omdat dit vir polisieëring van die damme gaan betaal wat nie die geval is, iemand het ‘n geleentheid gesien om hieruit geld te maak en dit is presies wat dit is, ek stem heelhartig saam dat daar reels en regulasies is aangaande bogenoemde om juis ongeluke te vermy maar dit word lank al nie meer toegepas nie. Ek self is n skipper maar as ek soms sien hoe mense op damme vaar met hul bote dan wonder ek waar ulle hul skipper lisensies vandaan gekry het want hulle het geen saak met die ander nie. In alby die skippers van die bote se gevalle moes iemand iets verkeerd gedoen het en daar is baie vaktore wat tot die ongeluk kon lei maar ongeag dit hoop ek die person herstel tenvolle en ook so dat hulle weer hul volgende boot vaart sal geniet en ek glo die keer sal die skippers in alby gevalle baie beter voorberyding tref om ongeluke soos die te vermy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.