Vrou steel by Vrystaatse polisie

geld 7

Argieffoto.

ʼn Vrou wat daaraan skuldig bevind is dat sy derduisende rande by die polisie op Ficksburg in die Vrystaat gesteel het, is drie jaar tronkstraf opgelê. Mavis Mmalega Buthelezi Mokoena (42) was ten tyde van die diefstal ʼn finansiële beampte by dié polisiestasie.

Kapt. Christopher Singo, woordvoerder van die Valke, sê Mokoena het tussen 2014 en 2016 nagenoeg R117 000 onreëlmatig bestee. Sy was verbonde aan die finansiële afdeling van die polisie wat verantwoordelik was vir die ontvangs van derdeparty fondse.

“Tydens ʼn interne ouditproses het dit aan die lig gekom dat daar nie van ʼn bedrag van R51 000 rekenskap gegee kon word nie,” sê Singo. “Sy het daarna vrywillig uit die polisiediens bedank voordat dissiplinêre stappe teen haar gedoen kon word.”

ʼn Saak van diefstal is teen Mokoena aanhangig gemaak en aan die Valke oorgegee vir verdere ondersoek.

Mokoena is Maandag in die landdroshof op Ficksburg tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan vier jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy die bedrag van R51 000 terugbetaal.

Die hof het beveel dat sy die R51 000 binne tien maande in maandelikse paaiemente van R5 000 moet terugbetaal. Die laaste paaiement van R1 000 moet teen einde Januarie 2022 terugbetaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jakkie ·

Dit is mos hoe ‘n hof moet werk, straf en betaal terug. Gee daai magistraat ‘n BELL’S.

Baardman ·

Waars die rente. As ons geld “leen”, moet ons rente betaal

Misky ·

Nou waar is die ander R66 000 dan? Dis darem n baie ligte straf en sy betaal net daai geld terug, geen rente nie en sien nie die binnekant van tronk nie…… #piesangfabriek

Gerrie ·

Mokoena is Maandag in die landdroshof op Ficksburg tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan vier jaar opgeskort is… Hoeveel viers is daar in ‘n drie?

Elize ·

Hoe kry jy drie jaar tronkstraf wat vir vier jaar opgeskort is?

Raakvatter ·

Dis 3 jaar tronkstraf in die geheel opgeskort vir 4 jaar. :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.