Vrou sterf 2 maande ná wrede aanval

Adriaan en Lilly Smit. Foto: Verskaf.

Lilly Smit (67), die vrou wat op 1 Desember 2017 wreed saam met haar man in hul huis in Potchefstroom aangeval is, is Woensdagoggend, presies twee maande ná die aanval, oorlede.

Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het die nuus aan Maroela Media bevestig.

Joe van Dyk, Adriaan en Lilly Smit se skoonseun, het ook Lilly se afsterwe aan Maroela Media bevestig. Die familie wou nie dadelik verdere besonderhede bekend maak nie.

Maroela Media het vroeër berig die aanval het net ná 04:00 die oggend plaasgevind. “Daar is ʼn kamera in die straat wat wys hoe een verdagte oor die muur spring,” het Van Dyk destyds vertel.

Die verdagte het glo toe aan die bakkie gepeuter. “My skoonpa het gaan ondersoek instel. Die verdagte het ʼn yster wat op die tafel by die bakkie onder die afdak gelê het, opgetel en hom aangerand. Hy het hom toe in die huis ingesleep. My skoonma het betrokke geraak en hy het haar ook daarmee aangerand.”

Die ysterstaaf waarmee Lilly aangerand is, het gebreek en die verdagte het nóg ʼn ysterstaaf gaan haal en haar verder aangerand. Die verdagtes het met die egpaar se bakkie gevlug.

Volgens Van Dyk het die buurman wat gehoor het hoe die honde histeries blaf oor die muur gespring en gaan ondersoek instel. Toe hy die bloed sien, het hy teruggegaan na sy huis en hulp ontbied.

Lilly is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas terwyl Adriaan op die toneel gesterf het.

Inligting oor die gesteelde voertuig is op plaaslike veiligheidsnetwerke versprei en buurtwaglede kon daarin slaag om die voertuig agterna te sit. ʼn Verdagte is ná die bakkie twee keer gerol het en teen ʼn vragmotor gebots het, in hegtenis geneem.

Moleko het aan Maroela Media gesê die aanklagte teen Pfunzo Netshiongolwe (30) is tans steeds net een aanklag van moord, huisroof, diefstal van ʼn motor en poging tot moord.

“Ons moet eers vasstel of sy dood is as gevolg van haar beserings wat sy opgedoen het tydens die aanval en of dit dalk iets anders was. Addisionele aanklagte kan dalk later bygevoeg word,” het Moleko gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zelda ·

Belaglik! Sy toedoen dat sy opgeneem is. Oormôre doen hy dit weer. Land van melk en heuning vir misdadigers. Sien nie ‘n toekoms in die land nie.

Generasie ·

En dan gaan almal nog aan oor WHITE PRIVILEGE en apartheid? Wat kweek hierdie moorde as apartheid haat gekweek het? Toe asb vertel my of julle dink dit gaan net verbygaan en gaan geen generasie beinvloed nie? Teen die tyd dat die massas oor apartheid is (as dit ooit gaan gebeur) gaan die minderhede haat en wraak koester teenoor diegene wat hulle ouers, kinders en grootouers wreed gemartel en doodgemaak het op plase en in hulle huise . let wel ONSKULDIGE mense, nie moeilikheidmakers nie, nie mense wat die landsveiligheid bedreig nie, ONSKULDIGE ou mense wat tv kyk, wat le en slaap of ietsie sit en eet . WAT SE SKADE het hulle al ooit aan enige mens van enige kleur gedoen?

Seriously????? ·

Holy quacamole!!!!!…Eers wag om seker te maak sy is dood aan haar beserings???? REGTIG??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.