Vrou sterf, 4 beseer toe muur ineenstort

Argieffoto: Twitter via @_ArriveAlive

ʼn Jong vrou is dood en vier ander mense, onder wie ʼn driejarige kleuter, is beseer toe ʼn muur Vrydagaand in Daveyton, Ekurhuleni, ineengestort het.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-rampbestuureenheid, het gesê ʼn reddingspan is na die Basothong-gebied gestuur waar die voorval plaasgevind het.

“Die noodoproep is om 18:40 ontvang. ʼn Reddingspan, ambulanse en ʼn reaksievoertuig is dadelik na die toneel ontplooi om mediese hulp te verskaf,” het hy gesê. Hy het gesê ʼn jong vrou is onder die puin van die muur aangetref. “Sy het nie op mediese behandeling gereageer nie en is later deur paramedici dood verklaar,” het Ntladi gesê.

“Twee ander jong vroue, ʼn man en ʼn kleuter van ongeveer drie is almal in ʼn ernstige toestand na die Verre Oos-Rand-hospitaal in Springs geneem vir verdere mediese sorg.”

Ntladi het gesê die rede waarom die muur ineengestort het, is nog nie bekend nie, maar daar word vermoed dat die muur deur sterk wind omgewaai is. Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leahim ·

Dit is die rede hoekom die munisipale bywette daar is om mense veilig te hou, maar van ons maak net soos ons wil

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.