ʼn Vrou is dood en vyf ander mense beseer toe twee voertuie Woensdagoggend op die N8 buite Bloemfontein in die rigting van Botshabelo gebots het.
Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 11:00 na die toneel sowat 20 km buite die stad ontbied.
ʼn Vrou is tydens die botsing uit een van die voertuie geslinger en het kritieke beserings opgedoen. Sy is op die toneel op ʼn ventilator geplaas voordat sy per helikopter na ʼn hospitaal geneem is. Nog ʼn vrou wat ook veelvuldige beserings opgedoen het, het op die toneel gesterf.
Volgens Dollman was ʼn man in die wrak van een van die voertuie vasgevang en reddingswerkers moes meganiese toerusting gebruik om hom te bevry. Hy het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer voordat hy na ʼn hospitaal gehaas is.
Dollman het gesê nog ʼn pasiënt op die toneel het ernstige beserings opgedoen, terwyl twee ander mense vir geringe tot matige beserings behandel is.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Dis hartseer dat ‘n lewe verloor is. Maar dankie aan die Medics en chopper personeel wat gehelp het op die toneel. Die publiek vergeet van die first responders wat in 90 % van die tyd nog lewens red omdat hulle so gou op ‘n toennel is. Dankie julle ek salueer julle.