Vrou sterf aan malaria; man ook positief getoets

Riekie en Johan Fuls. Foto's aan Maroela Media verskaf.

Riekie en Johan Fuls. Foto’s aan Maroela Media verskaf.

Twee mense is die afgelope twee maande in Rustenburg positief getoets vir malaria. Een van hulle is dood aan dié siekte.

Nicolene Fuls het aan Maroela Media gesê dat haar ma op 12 Februarie in die Life Peglerae- private hospitaal in Rustenburg dood is. Haar ma was 60.

“My ma was so week en ʼn half siek. Ons het die Woensdag nog gekuier en die Vrydag toe bel my pa my en sê ons moet haar dokter toe vat omdat sy nie beter word nie. My ma het asma ook so ʼn mens wil nie kanse vat nie. Sy het griepsimptome gehad soos koors en het gekla van hoofpyne.

“Die huisdokter hier in Lindleyspoort het gesê hy wil nie kanse vat nie, veral nie met haar asma nie want hy het nie suurstof daar in sy spreekkamer nie. Ons het toe ʼn ambulans laat kom en hulle het haar na die Life Peglerae- private hospitaal in Rustenburg geneem,” het Fuls gesê.

“Ons het die Saterdag by haar gaan kuier en sy was nog oukei, sy het gesê sy voel nog goor, maar die dokters het net vir haar antibiotika gegee. Hulle het daarna ʼn klomp toetse op haar gedoen om te probeer vasstel wat dit moontlik kan wees en sy het toe positief getoets vir malaria. Dit was toe reeds te laat. Ons was die Sondag deur die dag weer daar en toe ons die Sondagaand daar kom toe is sy net na 20:00 oorlede,” het Fuls verduidelik. “Die suster het net uitgekom en gesê: ‘Oh sorry, we lost her’,” het Fuls gesê.

Riekie Fuls is te laat met malaria gediagnoseer. “Dit het al haar lewer en haar oë begin affekteer. Ek weet tot vandag toe nie wie my ma se dokter (in die hospitaal) was nie,” het Fuls gesê. Haar doodsertifikaat het bevestig dat sy aan malaria dood is.

Vroeër vandeesmaand, ná haar ma se dood, het haar pa (70) óók begin siek word. “Juis in die lig van wat met my ma gebeur het, het ek hom ook dokter toe geneem. Die dokter het vermoed dat hy oor my ma treur, maar het hom veiligheidshalwe ook hospitaal toe gestuur en gevra dat hulle ook moet toets vir malaria,” het Fuls gesê. Johan Fuls het ook positief getoets vir malaria.

Johan lê tans in die hoësorgeenheid van die Life Peglerae- hospitaal. “Hy sê heeltyd ‘ek lê hier langs die bed waar my vrou gelê het’,” het Fuls gesê.

Nie Riekie of Johan was al voorheen in ʼn malaria-gebied nie. “My ma het verlede jaar ʼn heupoperasie gehad en hulle kon dus nêrens heen gaan nie. My ma het altyd gesê dis vir haar so lekker op die plaas want daar is nie muskiete nie. My seuntjie is drie, wat as hy nou malaria kry?” het Fuls gesê. Fuls het ook gesê dat daar nog pasiënte in dieselfde hospitaal lê wat ook malaria het.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder vir die departement van gesondheid in Noordwes, het gesê dat die departement nie bewus is van die gevalle nie. Hy het Maroela Media gevra om ʼn medianavraag aan hulle deur te stuur sodat hulle verdere ondersoek kan instel.

Maroela Media het gister berig dat twee mense in Doornpoort in Gauteng ook dood is as gevolg van komplikasies wat met malaria verband hou.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Maandag in ʼn verklaring gesê hy is bewus van die twee sterftes van mense wat nie die afgelope tyd ʼn malaria-gebied besoek het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Johann ·

Skuustog ek is dom help my reg asb, is daar enige vooraf entstof teen malaria

Barry ·

Johann, nee daar is nie vrylik beskikbaar nie, nee. Daar is wel twee entstowwe waarmee tans getoets word wat moontlik kan werk in die toekoms. Die reël met malaria is bloot maar, as jy dink jy het verkoue of griep – toets eers vir malaria. Dit is ‘n blote bloed toets wat met die oog onder ‘n mikroskoop raakgesien kan word. Ongelukkig in ons land is daar so min gevalle dat dit meestal verkeerd gediagnoseer word. Vra my, ek het die ding al 13 keer gehad in my 14 jare van beweging in Afrika. In ons land het die dokters telkemale vir my gelag as ek sê ek het malaria, en selfs negatief getoets – todat ek ‘n dag of later by die dood omdraai. Nou gebruik ek religieus my pille in areas waar ek vermoed malaria kan wees. Is nie nodig om die noodlot te terg nie.

Sonja ·

Johann daar is!!!! Wat ‘n hartseer tyd. Dit is my neef en ek was baie groot pelle met hulle toe ek jonger was. Niemand verdien om so iets deur te maak nie. Byt vas en baie sterkte. Ook een van daai dinge wat onbeantwoord sal bly as jy my vra !!!!????

Boerseun ·

Johann, daar is twee denke. Een vir en teen die malaria tablette. Eerstens, malaria pille stop jou nie om malaria te kry nie, dit help jou net om dit nie so erg te kry nie. Om malaria te kry is hard op jou ligaam. Ouens wat dit baie gekry het hanteer dit amper soos griep. Belanglike ding is om dit vinnig te identifiseer en teen middels te neem. Doktors in stede is nie gewoond aan malaria nie so sal jou eers vir baie ander dinge toets. Persoonlik hou ek die druk toets aan. En jou toets jouself, soos met bloed waneer jy koors het. Die toestsies is baie akkuraat. Ekv werk nie meer in die gebiede nie en van my eersteling gebore is toer ek ook nie meer nie maar ek hou nog daai toets in my mediese kas. jy weet nie wat jou buurman terug bring in sy sak nie. Die goed gebeur gereeld in groot stede soos NY en London.

Will i am ·

Die mense kom so oor ons grense dat die muskiete nou al die hele S.A vol is.

Sonja ·

Geen manier tensy jy begin siek voel. Ons is geneig om soms dinge vanselfsrekend te aanvaar wat ons gesondheid aan betref omdat ons oud word. Vra my ek weet. Het ‘n triple bypass gehad en dit sou nie nodig gewees het nie as ek liewer my verstand gebruik het en geluister het wat my liggaam vir my se. Ek sou se mense moet as hulle abnormaal nie lekker voel hulle dadelik laat toets. Veral in ‘n land soos ons ….

Vraag ·

Is dit waar dat die anopheles muskiet aangetref word in gebiede wat malariavry is? Sou so ‘n muskiet dan iemand met malaria byt dan kan die siekte sodoende versprei?
Iewers moet daar ‘n kundige wees om my te antwoord want skynbaar is hier iets onrusbarend aan die gang.

Miranda ·

Dis so hardseer! Baie sterkte en innige meegevoel. So jammer vir julle hele gesin. Wat ‘n skok! Toets asb almal in die gesin en kinders so gou moontlik. Sterkte met Johan se rou en pyne nou en die familie se skok. Skuif hom as daar nie hulp daar is nie. Ek hoop net dat niemand nou net dink die ding kan nie weer gebeur nie. Daar moet iets wees wat ons saam kan doen om die erns hiervan in die lig te bring. Weereens bitter jammer en weet jul is in ons gedagtes.

Michelle ·

Ek vermoed dit is maar as gevolg van die bietjie van Sikloon Dineo wat ons gekry het. Die muskiete sal heel moontlik nie in ons weerstoestande kan oorleef nie en binne ‘n paar weke van kant wees.

Johann Barnard ·

Omdat die regering nie hulle werk doen nie,dis hoekom malaria nou hier voorkom.

Sam ·

Ja nee asb Johann…kyk ek is nie baie lief vir die regering nie maar hoe is dit hulle skuld. Nee kyk ek skud maar my kop as jy dink hulle staan daar met paintball gewere en skiet die miskiete wat oor die grens kom….

Boerseun ·

Daar word nie meer gespuit vir muskiete nie. Selfde het gebeur in Zambia, Zimbabwe ens. Lydenburg het nie meer malaria nie, maar waar kom Lydenburg se naam vandaan? Dit beteken die area het kondiesies waaronder malaria muskiete leef. So as mense met malaria (dit moet deur n mens oorgedra word) na die area ruis, kan malaria weer in n area vestig as dit nie voorkom word nie.

Boerseun ·

Maar grappies op n stokkie. Met globaliseering en mense wat ooral ruis is dit heel waarskkynlik dar die muskiete in die gevalle van n ander area af hier aangeland het, of met die sikloon of mense se begasie. Soos ek al genoem het die soort ding gebeur gereeld in groot stede soos NY en London.

Marina ·

Johann ek neem aan jy praat van al die mense wat so onwettig oor die grens kom?

Johann Barnard ·

Gaan te lank vat om te verduidellik,julle moet maar gaan lees oor hoe malaria voorheen voorkom was

Lizle ·

Ek het in Mosambiek gebly vir twee jaar en in die twee jaar het ek dit 6 keer gehad. Ken al die simptome so enige griepsimptome, kopsere en koors doen dadelik ‘n toets om veilig te wees, noudat dit lyk my kop uitsteek! Rather be safe than sorry!

Piet W ·

My simpatie aan almal. Hierdie goed ken geen grense nie,,dit kan jou enige plek tref. Myself het “mango fly” infeksie gekry,, dit was nie aangenaam nie. Mens moet maar oop oog loop .

SARIE VAN HEERDEN ·

Die oorsaak van malaria is nie nou ter sake nie, ons moet iets kry om te keer dat dit ons gesondheid aantas. Iemand beweer jy kan jouself toets en sal ek dankbaar wees om te hoor wat ons daarvoor moet gebruik. Toe ons nog elke maand na die besmette Marlothpark toe gegaan het het ons Darium gebruik as voorbehoedmiddel maar dit het newe-effekte gehad en weet ek nie of dit nog na ‘n paar jaar op die mark is nie. Kan ‘n kundige ons asseblief meer inligting gee as wat ons tans het.

Ek ·

Sarie, mens koop sulke self test kits wat jy maar net jou vinger prik en die bloed toets met ‘n middel wat saam met die toets kom. So as jy griep simptome kry, toets maar en maak seker. Dink jy sal dit by meeste apteke of sommer by die travel clinic kry.

SARIE VAN HEERDEN ·

REGSTELLING.
Die voorkomende malariapille wat jy een per week moes neem se naam was LARIUM. (Nie Darium nie),

riana ·

Is omdat hulle in hulle land moet bly. Hulle bring al die goed in ons land in deur al hulle plastiek sakke wat hulle die bietjie klere van hulle saam bring. Die regering moet n stop sit op dit dat hulle die land kan in kom. Ons het genoeg imigrante in ons land.

Hanna ·

En so sluip nog n onwelkome pes ons land in… Sterkte aan die familie!

conrad ·

Peste en pessiektes van die eindtyd- tekens word al meer. Wederkoms is naby.

Hannes marais ·

Stem saam conrad…die groot verdrukking is ook op ons

Janine Bezuidenhoudt ·

Hi almal!

My innige meegevoel met die familie. Baie sterkte daar!

Oor die malaria geval self: Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) is bewus van die malaria gevalle, en hulle, saam met die NW Departement van Gesondheid gaan ondersoek instel na die malaria gevalle.

Gevalle soos hierdie, waar mense malaria kry in ‘n nie-malaria gebied, word “Odyssean Malaria” genoem. Dit kan gebeur wanneer ‘n Anopheles muskiet – met die malaria parasiet – van ‘n malaria-area kom na ‘n nie-malaria area. Die muskiet kan in bagasie, karre, vliegtuie ens reis.

As julle meer inligting wil he, volg as die link na die NIOS se webwerf toe [www.nicd.ac.za], en kyk by “Alerts”. Als word daar mooi verduidelik.

Johann Barnard ·

Wil net noem dat die sogenaamde gesondheids departement kon nie eers n klein probleempie met my voortand help regmaak nie,sterkte mede landsburgers.

Patrys Mare ·

My innige meegevoel met die Familie. Ek is in 2015 genees van celebrale Malaria wat ek in Botswana opgedoen het. Die aand toe ek opgeneem is ek 40% kans van oorlewing gee. Die Wits Donald Gordon Mediese Sentrum in Johannesburg het die beste Dokters vir behandeling van Malaria. Te danke aan hulle en God se genade kan ek getuig vandag van die wonderlike werk wat die Dokters doen by die Wits Donald Gordon Mediese sentrum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.