Vrou sterf, drie beseer in Durban-ongeluk

Foto: Rescue Care

ʼn Vrou, in haar 40’s, het in die hospitaal aan haar beserings beswyk ná drie motors Saterdagmiddag op die Hans Detman-snelweg naby Shallcross in Durban gebots het.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê paramedici het kort ná 15:00 by die toneel opgedaag. “Drie voertuie het gebots en een het kort daarna aan die brand geslaan,” het hy verduidelik. Een van die motors het omgeslaan en op sy sy tot stilstand gekom.

Jamieson het gesê die pad is gesluit. ʼn Vrou was ook in een van die wrakke vasgekeer. Sy was in ʼn kritieke toestand en terwyl brandbestryders gesukkel het om haar uit die wrak te sny, het paramedici reeds gepoog om haar te stabiliseer. “Haar hart het egter gaan staan en KPR is toegepas. Hulle kon haar pols terugkry en sy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Sy het egter kort daarna aan haar beserings beswyk.”

Die vrou se tienerseun, wat ook in die motor was, het matige beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem.

Twee ander bestuurders is op die toneel behandel en een was in ʼn kritieke toestand as gevolg van die brand ná die ongeluk. Albei mans is na ʼn hospitaal geneem.

Die voorafgaande gebeure is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.